Saterdag 09 Mei 2015

God voorsien altyd...


Image result for olie kruik


1 Kon 17:8-16: "Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het" (vs. 14).

Anna Elizabeth Retief (Ouma Hamman), die derde van agt kinders, is op 4 Julie 1874 op Graaff-Reinet  gebore. Sy het onderwyseres geword en haar studies voltooi deur by  maanlig en kerslig te studeer. Soms het sy selfs vuurhoutjies getrek om by dié lig te studeer. Sy was vooruitstrewend en het baie goed op skool sowel as die kollege presteer. Mej. Helen Murray, ‘n suster van dr. Andrew Murray, was destyds hoof van die seminarie.

Dit was in hierdie tyd dat sy die Wedergeboorte deelagtig geword het. Die HERE het die Heilsleër en die South African General Mission, waarvan Dr. Murray ‘n stigterslid was, gebruik om haar tot die Lig te bring.

Anna, beter bekend as Ouma Hamman, is reeds 'n paar dekades gelede op hoë ouderdom oorlede. Sy was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die goedige kampkommandant het besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur.

Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit gaan die beste uitwerk as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met versigtige sorgsaamheid het hulle die bestanddele vir die beskuit bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in die oorlog, in die konsentrasiekamp, te bekom, was 'n moeilike een. Ouma Hamman vertel dit so:

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan.

Jesus self het gesê: “Alle dinge is moontlik vir die een wat glo" (Mar 9:23). "Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie" (Ps 55:23)