Dinsdag 05 Mei 2015

Keer terug na jou eerste Liefde – ’n vermaning


Image result for Spiritual images


Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige Testament uit
die dode teruggebring het,  julle volmaak in elke goeie werk, om Sy wil  te doen, deur in julle te werk, wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus
Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Heb. 13:20-21.

Hierdie is twee kragtige strofes oor ons lewe van gehoorsaamheid aan God. Dit noem ook die resultate as ons God sou toelaat om in ons lewens te werk.
Vergelyk dit met die situasie in jou eie huishouding: Vir jou kinders bedoel jy vrede en geluk en dit mag hulle dan ook heeltemal tereg, ryklik smaak, solank hulle aan hulle pa en ma gehoorsaam is.
Ouers wil graag hulle kinders vervolmaak in elke goeie werk solank hulle die ouers se wil uitvoer. Ouers wil hulle eie talente, kennis, karakters en persoonlikhede vir hulle kinders beskikbaar stel om die kinders ten beste toe te rus vir die lewe wat nog voor hulle ooplê.
As kinders maar net wil luister en gehoorsaam wil wees, kan hulle hulself baie probleme, foute, ellende, verdriet, teleurstelling en ‘n gesukkel in die lewe spaar.
Dit is ook in ‘n nog sterker graad die verhouding tussen wedergeborenes en die Vader. Hy wil ons vervolmaak in elke goeie werk om Sy wil te doen “deur in ons te werk” – as ons Hom net wil toelaat om in ons te werk!
Dit is beskikbaar aan elke wedergeborene deur die “God van Vrede!”
Alles was nie altyd wel tussen ons en God nie. Kol. 1:21 sê: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke,” het Hy nou versoen.”
Ons was van nature ongehoorsaam en kinders van die toorn, aldus Efes. 2:2-3.
God het egter deur sy Seun, Jesus Christus vir ons vrede en redding bewerk, volgens Efes. 2:14-16. Deur die wedergeboorte verkry ons nou die Ewige Lewe in Jesus Christus.
            Jy is nou ‘n “nuwe skepsel!” 2 Kor. 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
            Wie het dit gedoen? Strofes 18-19 “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”
Watse soort mense is ons nou? Strofe 20 “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.”
Onder die Ou Testamentiese bedeling moes gelowiges telkens hulle sondes op ‘n dier afbid, die dier dan slag en op ‘n altaar verbrand. Soos wat die bloed in die vuur verbrand het, is jou sondes tot niet gemaak – tot die volgende keer.
In die nuwe bedeling word Jesus Christus die Offerlam. Wat ons nou doen is om ons sondes te bely en dan gebeur die volgende: 1 Joh. 1:9           “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons (boonop) van alle ongeregtigheid te reinig.”
Slaan egter ook ag op die vermaning in 2 Kor. 6:1 “En as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie.”
Let daarop dat God ons eers Sy gesante, maar nou ook Sy medewerkers noem. Ek en jy vertolk dus ‘n baie belangrike rol op hierdie aarde.
Toe jy verlief was en getrou het, was julle vir mekaar alles wat mooi en goed was. Later in die getroude lewe het die liefde in baie gevalle verflou.
Toe ons wedergebore is, het ons ook niks ontsien om God te behaag nie, maar intussen het ons liefde verflou. Dit het ook ongehoorsaamheid in die hand gewerk.
Hieroor sê die HERE in Openb. 2:4-5 “Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”
            En in strofe 7: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.”
            As jy wedergebore is ontvang jy soveel seëninge dat jy daardeur ook ‘n groter verantwoordelikheid teenoor God het:
            Efes. 1-14 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
“soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,
“deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
“tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.
“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
“wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,
“deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,
“om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig
“in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
“sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,
“in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
“wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
            As jy hierdie artikel gelees het, dan het die Heilige Gees dit oor jou pad gebring – dan is die vermaning – om terug te keer na jou Eerste Liefde – ook vir jou!

En die Tweede wat hieraan Gelykstaan

·       Wat is ware liefde?
       “God is liefde” 1 Joh 4:16   Daar is drie liefdes in die Bybel: Eros (seksuele liefde), Fileo (menslike liefde) en Agapé (Goddelike liefde). In die gesprek tussen Jesus en Petrus
       het Petrus drie keer na menslike liefde verwys, terwyl Jesus na Goddelike liefde verwys het.
·       God het hierdie feit bewys:
       “Want so lief (Agapé) het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die Ewige Lewe kan hê.” Joh 3:16
·       Is dit moontlik dat die liefde (Agapé) van God in Sy kinders volmaak kan word?
        Ja, “Elkeen wat sy Woord bewaar, in hom het die liefde (Agapé) van God waarlik volmaak geword,” 1 Joh 2:5
·       Is daar enige verskil in die liefde wat God vir Sy kinders het en vir diegene wat wedergebore is? Joh 3:3,5
       Nee, “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome man kan wees, en dat die wêreld kan weet dat U my gestuur het en hulle lief gehad het soos U my lief gehad het.” Joh 17:23
·       Kan mens in die liefde van die Here bly?
Ja, “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” Joh 15:10
·       Is dit moontlik om ‘n liefdelose geaardheid te hê en God nog te ken?
       Nee, “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.” 1 Joh 4:8.
·       Weet God of jy ware liefde het?
     Ja, “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.” Joh 5”42
·       Kan ‘n ware gelowige sonder twyfel bewys dat hy of sy in God bly en Hy in hulle?
       Ja, “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” 1 Joh  4:16
·       In watter mate word van ons verlang om God lief te hê?
       In vier dimensies: “...en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart  en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” Mark 12:30 Asook: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Matt 22:37
·       Kan mens voortgaan om God te behaag wanneer jou liefde verminder?”
       “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou  dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” Openb 2:4-5
·       Waarom het wedergeborenes God lief?
       “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.” 1 Joh 4:9-10.
·       Wat is Sy Gebod?
        “... 4:2 Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God.” 1 Joh 4:2
·       Behoort ‘n mens se liefde vir familie groter te wees as jou liefde vir God?
       Nee, “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie  seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” Matt 10:37
·       Moet die mans en die vroue aanhou om mekaar lief te hê?
       Ja, “In alle geval moet elkeen van julle (sonder uitsondering) ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.” Efes 3:33
·       Behoort die liefde ‘n permanente instelling in ons lewens te wees?
        Ja, “wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.” Efes 5:2      
·       Wat is die HERE se nuwe Gebod?
      “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Joh 13:34. Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.” Joh 15:17
·       Hoe sal “almal” weet dat ons Jesus se dissipels is?
“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Joh 13:35
·       Wat het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet?
     “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” 1 Kor 2:9
·       Behoort ‘n mens se liefde beperk te wees tot diegene wat dit beantwoord?
       Nee, “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.  “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle?
      Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? “En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Matt 5:44-47
·       Is die liefde en die haat verenigbaar?
       “Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.” 1 Joh 2:10-11
·       Het jy die liefde?
        “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” 1 Kor 13:1-4
·       Hoe weet ander ons het God  lief?
     “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld
     oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” 1 Joh 5:2-5
·       Moet alle gelowiges soos God handel?
     “Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te  hê.” 1 Joh 4:11
·       Waarom het ons God lief?
     “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” 1 Joh 4:19
·       In watter mate moet ons, ons naaste liefhê?
     “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Matt 19:19
·       Hoe verdryf mens vrees?
     “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees      buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.” 1 Joh 4:16-17
·       Ons moet onberispelik in die liefde wees.
     “... om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.” Efes 1:4
      “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.  Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” 1 Tim 6:11-12
·       Hoe kan ek vervul word met al die volheid van God?
     “... dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan  word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk. Efes  3:16-20
·       Kan mens die wêreld liefhê terwyl jy God liefhet”
     Nee, “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of  benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as  oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat  geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of  toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” Rom 8:35-39 en “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” 1 Joh 2:15
·       Hoe ontvang ons God se liefde?
       “... maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie (hoekom nie?), omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is (hoe?)deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. Rom 5:3-5
·       Kan die grootheid van liefde bepaal word?
     “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het ie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed  uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.

     “Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.  Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind,  geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar  eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal  ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop,  liefde – hierdie 3; maar die grootste hiervan is die liefde.” 1 Kor 13:1-13
·       Is die liefde ‘n gawe of ‘n vrug?
     “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid,  vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22

“Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. (en as jy dit nie doen nie?)

“Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” Openb. 2:4-5 – Sjibbolet