Maandag 18 Mei 2015

Verruil jou tydelike lewe vir die Ewige Lewe


Image result for heaven


Die Wedergeboorte is die enigste manier om die Ewige Lewe te verkry en uiteindelik die Hemel te sien. Jesus sê in Joh 10:1 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur (Jesus Christus) in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower”.
            Joh 3:16 lees: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dis God se wens dat ons met Hom versoen sal word.

            Daar is diegene wat sê hulle sal nie verlore gaan nie want hulle lewe mooi lewens. Rom 3:23 sê duidelik: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”
            In die Ou Testament het God aan Sy volk ‘n skeibrief gegee weens hulle geestelike owerspel teen God. Jer. 3:8. Ingevolge die Wet mag die vrou (ons) nie weer trou voordat die man (God) nie gesterwe het nie. Dan kom God in die vorm van Jesus Christus en sterf aan die kruis van Golgota.
            Dit is so dat elkeen van ons wat Jesus as Saligmaker aanneem, weer met God versoen word, maar is dit al?
            Rom 3:24  “...en hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig (hoe) deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

            Wanneer ons Christus as Saligmaker aanneem, word ons gered en terselfdertyd geregverdig.
            1 Kor 6:9-11 - “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die Koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”
            En hierna is jy ‘n Christen. Watse Christen? As 32 miljoen Suid-Afrikaners op hul sensusvorms invul dat hulle Christene is, dan vra mens onmiddellik: En as dit so is, waar is hulle, wat doen hulle?

            Die Evangelie het ‘n veel groter boodskap as dit. Jesus sê in Joh 17:3  “En dit is die Ewige Lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
            Wat is die Ewige Lewe? “Dat hulle U ken.”
            Dit beteken die Ewige Lewe begin nie wanneer ons sterwe nie, maar dit begin by die oomblik van die Wedergeboorte – sodat ons God kan leer ken.
            Die woord “ken” word reg deur die Bybel gebruik om die mees intieme, persoonlike verhouding te beskryf. Die werklike doel van saligheid is nie net om uiteindelik vir ewig   dete lewe nie.
            Die ware doel van saligheid is om ‘n intieme persoonlike verhouding met die HERE God te hê vanaf die oomblik van die Wedergeboorte. “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” Joh 6:63

            Die Wedergeboorte is die Ewige Lewe. Jy het die Ewige Lewe omdat jy Wedergebore is. Jy stap nou ‘n heel ander pad, ‘n nuwe pad na die Nuwe Jerusalem.
            Min ongereddes stel vandag in die redding van hul siele belang. Die rede is die groot swaarkry. Hulle wil nie nou weet van ‘n Ewige Lewe na die dood nie.

            Hulle aandag word deur die nou in beslag geneem. Daar is mense wat honger moet gaan slaap, huwelike is op die rotse, kinders is rebels, drank vernietig gesinne, twis en tweedrag heers onder die armlastiges. Owerspel vier hoogty. Dinge is benard.
Die Ewige Lewe begin by die Wedergeboorte, wanneer Jesus van jou hart en gees besit kom neem. Dan word jy ‘n nuwe skepsel in Christus Jesus, dan begin ‘n nuwe lewe, ‘n Ewige Lewe saam met Christus.

            Gal 1:4 lees: Jesus, wat Homself gegee het vir ons sondes (Hoekom?), sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader.
            Ja, dit is die wil van God die Vader dat mense uitgered moet word, uitgered uit hierdie bose wêreld van swaarkry en ellende. ‘n Nuwe Lewe wag.
            God wil aan almal terugbring na ‘n intieme persoonlike verhouding met Hom. Jesus wil aan almal kwaliteit en oorvloed van lewe gee, ‘n lewe soos wat hulle nooit geken het nie.
            Kyk wat Jesus sê: “Die dief (satan) kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Joh 10:10.
            Christus het nie net vir ons sondes gesterf nie. As jy reeds Wedergebore is maar ‘n stagnante lewe lei, dan ken jy nog nie vir God nie, dan het jy nie ‘n persoonlike intieme lewe saam met Hom nie.

            “Wie die Here aanhang, is een gees met Hom.” 1 Kor 6:16-17. Om een gees met Hom te wees beteken ‘n intieme persoonlike verhouding.
            Die HERE wil ‘n persoonlike verhouding met jou hê. Dit moet die belangrikste verhouding in jou lewe wees. Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” Openb 3:20.
            Ja, Hy klop, Hy wag dat jy oopmaak want Hy wil saam met jou kom maaltyd hou. Hy verlang ‘n intieme persoonlike verhouding met jou.
            “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” 1 Joh 5:11-12
            Hoe word ons gered? “Want uit genade is julle gered (hoe?), deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Efes 2:8-9
            Die Ewige Lewe bekom mens sonder verdienste. Dis ‘n geskenk... “want so lief het God die wêreld gehad...”

            God het deur Jesus die saligheid vryelik aan elke persoon aangebied. Titus 2:11. Die geskenk  word verleen deur  “genade”. Dit beteken dat dit nie gebaseer is op hoe heilig jy leef nie, of jy kerk toe gaan, jou Bybel lees of ander “goeie” dinge doen nie. Die saligheid word ons aangebied deur God se onverdiende guns.
            Rom 5:8 “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Die saligheid is ‘n vrye geskenk wat God vryelik deur genade aan ons bied, maar dit moet deur geloof ontvang word. Al wat ons moet doen is om dit aan te neem. “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Efes 2:8-9
            Al die roem, eer en lof kom God toe, daarom dat die saligheid nie kom vanuit werke nie, sodat niemand kan roem nie. Net God kan roem.

            Wie kan gered word? “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.” Titus 2:11
            Rom 3:21-23 lees “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is een onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”
            ‘n Boer saai saad en eersdaags oes hy dit dalk 100 maal terug. Die Woord van God, die Bybel is die saad wat ons in ons Gees moet saai.
            In ons persoonlike en intieme verhouding met Hom, bestudeer ons Sy Woord en so saai ons die Woord in ons gees waar dit ontkiem en vermenigvuldig. So leer ek God se natuur en karakter ken. Ons mediteer op die Woord, ons maak dit ons eie. Hy hou maaltyd met ons en ons met Hom.
            “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor 5:17
            Noudat jy in Christus is, is jy ‘n nuwe skepsel, soos in nuut geskep, alles gaan nou nuut word. Hoe? Soos wat jy en Hy saam maaltyd hou, soos wat jy Sy Woord in jou hart saai waar dit ontkiem en alles nuut word.
            Jy sal in stadiums groei totdat jy ‘n volwasse nuwe skepsel, ware Christen is, presies soos: “Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar.” Markus 4:28
            En die ou dinge is weg. Dit het verbygegaan, sê die HERE.
            En wat het nuut geword? Alle dinge het nuut geword.
            Die mieliepit in die grond verdwyn en in sy plek staan ‘n geheel nuwe mielieplant, pragtig groen, vol blare en mieliekoppe. Alles het nuut geword.
            Jy is ‘n nuwe skepsel omdat jou gees daardie deel is  wat met die wedergeboorte verander. Dit is eintlik die lewegewende deel. Jak 2:26 lees: “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”
            Let op: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.”Efes 2:1
            Jou gees het nou die Ewige lewe. Wanneer jou liggaam sterwe, gaan dit na die graf en vergaan, maar jy, in gees, gaan na die teenwoordigheid van God.
            Soos Paulus vir die Tessalonisense bid, bid ons ook vir jou: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”1 Thes 5:23.
Bid asseblief om ‘n dringende Herlewing in Suid-Afrika. – Sjibbolet