Spring op o’ put! Besing Hom!
Al ooit gehoor van die lied Spring op o’ put! Besing Hom! Dit klink na ‘n baie vreemde naam vir ‘n lied. Boonop is dit op ‘n baie vreemde plek en onder baie vreemde omstandighede gesing.
Die volk Israel was in Numeri 21 besig om onder leiding van Moses, deur die woestyn te trek. Die reis was uitputtend en die mense was dors en moeg.
GOD sê aan Moses om die volk bymekaar te laat kom sodat Hy vir hulle water kan gee.
En toe gebeur die volgende: Met hulle septers en stafwe het hulle in die woestynsand begin grou, maar in soveel vertroue dat GOD wel sy Woord gestand sal doen, dat hulle net daar ‘n lied van lofprysing begin sing het: Spring op o’ put! Besing hom!
Toe hulle die onderaardse stroom tref, het die water bo die sand uitgestroom. Soos altyd wanneer GOD gee, was die water in oorvloed – meer as genoeg vir die hele volk.
Dit is duidelik dat as die gedelwery na water, nie gepaard gegaan het met geloof en lofprysinge nie, sou hulle die water nie gekry het nie.
Tussen ons deur loop ook GOD se rivier van rykste seën.
Ons eie geloof en lofprysinge maak ook die een put na die ander oop, terwyl murmurering en ongeloof ons in mismoedigheid en oordeel laat verval.
GOD het ‘n besondere behae in ons geloof en lofprysinge.
Met geloof en lofprysinge verslaan ons selfs die grootste vyand soos in Psalm 149 Lofgesang en oorlogswaard!
Halleluja! Sien tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote (ja, ons is Sy gunsgenote).
Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter.
Want die HERE het ‘n welbehae in Sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil.
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hulle bedde.
Hoekom?
Want dan is: Lofverheffinge in hulle keel, en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
Om wraak te neem onder die heidene, strafgerigte onder die volke;
Om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;
Om ‘n vonnis uit te spreek wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al Sy gunsgenote! Halleluja! –Sjibbolet