Wys tans plasings met die etiket lofprysing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket lofprysing. Wys alle plasings

Saterdag 03 Februarie 2018

Die Kleed van Lofprysinge


Image result for Ps 35:28


Had jy al, of beleef jy soms, ‘n  gees van swaarmoedigheid?

Net so terloops: Hy gee ons nie die gees om die swaarmoedigheid te verdryf nie, maar die kleed van lofprysinge om dit mee te verdryf.

‘n Gees van swaarmoedigheid is van die satan, demone en alles wat negatief is. Ons triomfeer daaroor deur ons te klee in die kleed van lofprysinge.

            Dit is moeilik om te verstaan hoe ons dit met lofprysinge moet verdryf. Ons moet iets fisies doen, ons noet onsself KLEE met die KLEED van Lofprysinge.

            Anders loop ons dae lank met klaagliedere en vra oral, bid vir my… terwyl bid nie die oplossing is nie maar om die kleed van Lofprysinge aan te trek.

         
Triomf deur lofliedere en aanbidding! Dit kan die aller antwoord wees om seëvierend deur 2018 te kom.


“Toe sê Jesus: Daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Matt 4:120

            Dis ‘n opdrag van die HERE. Ons Moet... Nie net word dit vir die Gelowige aanbeveel nie, maar dis ook ‘n verwagting, ‘n opdrag. Om nie die HERE te aanbid nie, is om ongehoorsaam te wees aan sy opdrag.

            Dan die Aanbidding self: Om die HERE lief te hê, te bewonder, te vereer, dank aan Hom te bring, met die HERE te kommunikeer, Hom toe te sing, Hom te loof, te juig en verheug te wees oor Sy wonderdade.

            Ons aanbidding en lofprysinge is tot Sy voordeel en lof. Natuurlik baat ons ook daarby, maar dis meer vir Sy lof en glorie.

            Let weer op na die strofe: Eers aanbid en dan dien. Totdat ons geleer het om te aanbid, kan ons nie God met oorgawe en aanvaarding dien nie. Die HERE vra na:

“Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.

            “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24. Kan jy dit doen?

            Mens kan nie die HERE in die vlees aanbid nie. Dis daai leë blik wat die wind straataf rol.

            Wanneer ons in die Gees aanbid en lofprysinge bring, dan doen ons dit met volle oorgawe. Let op: Ons kom bymekaar. Die HERE is ook daar want Hy sê waar twee of drie in sy naam vergader is, daar is Hy.

            Die belangrikste persoon in ons samekoms is die HERE self... Ons groet almal en sê vir almal welkom... en die HERE? As ons in die gees is, sal ons Sy teenwoordigheid aanvoel. Vir seker!

            Volgens Johannes is daar aanbidders en ware aanbidders. Die ware aanbidder, sê die HERE, aanbid Hom in Gees en in Waarheid (opregtheid). Joh 4:23

            Ons aanbid die HERE want: “Die HERE is groot en baie lofwaardig.” Ps 48:2

            Ons aanbid Hom oor Sy goedheid. “Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in Ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.” Ps 100:5

            Ons aanbid Hom omdat Hy dit waardig is. “U is waardig, o HERE, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag.”

            Luister: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.” Ps 100:4 (Kom ons so die kerk binne? Is ons nie veronderstel om die byeenkoms so binne te kom nie... met wapperende gekleurde doeke, lappe, materiale?)

            Hou ‘n paar oomblikke stilte voordat met die sang begin word en bring eers aan God danksegging, danksegging uit jou hart en oor jou lippe. Verwelkom Hom in ons midde. Lofprysinge word deur danksegging voorafgegaan.

Dank die HERE vir Sy goedheid en guns, sy liefde, sy genade, dank hom vir sy ryke seëninge en vir sy liefde.

Begin dan die HERE in lofliedere en selfs koordanse loof.

            Kyk, ons bring ‘n offer, ‘n lofoffer: “Laat ons dan gedurig deur Jesus aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Hebr 13:15

            Onder die wet het mense diere geoffer. Onder die Nuwe Verbond van genade bring ons lofoffers.

            Wil jy ook die wonder beleef om met God in ‘n geestelike Hemelse taal te kan praat... bring aan Hom lofliedere. Het jy al die wonder beleef wanneer ‘n paar honderd en selfs ‘n paar duisend Gelowiges elk in ‘n Hemelse taal lofliedere aan die HERE bring! Jy sal daarna nooit weer dieselfde mens wees nie, maar ‘n ware Pelgrimsreisiger op pad na die Nuwe Jerusalem.

            Om aan God lofliedere te bring is om dit te doen selfs al is alles rondom jou verkeerd.

            Paulus en Silas sit in die tronk bebloed en in pyn, sonder klere. Middernag begin hulle lofliedere sing en stap vry uit die gevangenis.

            En luister na Dawid: “My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing.” Ps 57:8

            En weer: “Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer.” Ps 86:12

            Hoekom wil Dawid dit doen: “Want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.” Ps 86:13

            Dink net, die oomblik toe jy gered is, het jy die Ewige Lewe ontvang. Jy is nou in ‘n ander dimensie, jy het die Ewige Lewe! Dis mos al genoeg om jou dankbaarheid voor God uit te stort.

            “Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem – wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.” Ps 66:8-9

            Bring alle musiekinstrumente saam na die byeenkomste. “Juig voor die HERE, o ganse aarde, breek uit en psalmsing!

            “Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit; loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale! Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” Ps 150:3-6 (waar is ons musiekinstrumente?)

            “Psalmsing tot eer van die HERE met die siter, met die siter en die stem van gesang, met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE!” Ps 98:4-6

            “En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.” Ps 35:28

            Die HERE het aan die mens die wysheid gegee om al die musiekinstrumente op die aarde te vervaardig om Hom mee te prys. Hoe wend jy jou musiekinstrument aan?

            Mens loof die HERE in woorde, maar ook met ‘n gejuig en gejubel: “Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met 'n stem van gejubel!” Ps 47:2

            “Laat húlle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid.” Ps 35:27

            “Laat U priesters beklee wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel.” Ps 132:9

            En met sang: “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!” Ps 47:6

            “Hef aan 'n lied en laat die tamboeryn klink, die lieflike siter saam met die harp.” Ps 81:3

            “En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.” Ps 40:4

            “Halleluja! Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!

            “Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!

            “Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter.” Ps 149;1-3

            Kyk wat doen lofprysinge nog: “Lofverheffinge van God is in hulle keel, en 'n tweesnydende swaard in hulle hand (hoekom?); om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om 'n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. 'n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!” 149: 6-9

            “Juig tot eer van God, o ganse aarde! Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!” Ps 66 1-2

            “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig!” Ps 95:1-2

            Mense lag ook wanneer blydskap hulle oorval: “Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” Ps 126:2

            Ander klap die hande: “Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met 'n stem van gejubel!” Ps 47:2

            Op die sport paviljoene spring mense hande in die lug van opgewondenheid. Ons loof die HERE ook met ons hande in die lug.

            “Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.” Ps 63:5

            “En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe.” Neh 8:7

            “Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die HERE!” Ps 134:2

            “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.” 1 Tim 2:8

            Dawid en ander en selfs vandag nog dans mense ook voor die HERE. “Loof Hom met tamboeryn en koordans.” Ps 150:4

            “En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het 'n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse.” Ex 15:20

            Die dans eindig wanneer die blydskap ophou: “Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander.” Klaag 5:15

            Jer 31:13: sê die koordans hervat wanneer die vreugde terugkeer: “Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.”

            Dawid sê: “U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof.” Ps 30:12

            Siel en gees: “En Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker.” Luk 1:46-47

            “Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” Ps 103:1

            En selfs die vlees loof die HERE: “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.” Ps 145:21

            Ons bely gedurig Sy naam: “Laat ons dan gedurig deur Jesus aan God 'n lofoffer bring, dit is... die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Hebr 13:15

            Ons bring hierdie lofprysinge met selfs ‘n groter oorgawe as toe ons vroeër dit by die sportvelde en op skool gedoen het.

Uitbundig... dis dié Jesus wat ons een van die dae kom haal. Ons sien uit na Sy koms!

            Die HERE woon in ons lofliedere: “Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel.” Ps 22:4

            Blydskap beskut ons: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE –  dit is julle beskutting.” Neh 8:11

            Triomf word voorafgegaan deur lofprysinge: Lees in 2 Kron 20 oor die ontsettende oorlog massas wat teen Josafat aan die opbou was en hoe hy die vyand met ‘n jubelende koor aandurf en wen. Waar het mens ooit gehoor dat iemand ‘n veldslag wen met sangers en lofprysinge!

            Ons stryd is ook nie teen vlees en bloed nie maar pleks van bind en bestraf en vervloek en uitdryf, probeer lofprysinge.

            Wil jy die wonder beleef om met God in ‘n geestelike Hemelse taal te praat... begin die HERE loof uit hart, siel en liggaam, in oorgawe. – Sjibbolet



Woensdag 02 Augustus 2017

Prys die Poorte van die Hemel oop


Image result for worship singers

Die volgende verhaal laat mens aan Paulus en Silas in die tronk dink. Toe hulle geestelike lofliedere begin sing het, die HERE verheerlik het, het God se heerlikheid en krag in werking getree en hulle bevry. Hand 16:16-36
            'n Jong soldaat het tydens die Tweede Wêreldoorlog manalleen, 'n groep Japannese gevange geneem en na sy basis gebring. Hy wou die medalje wat aan hom toegeken is nie aanvaar nie. Hy het verduidelik:
            "Ek en vyf van my maats is deur die Japannese gevange geneem. "Hulle het ons met gevelde bajonette teen ons rug, deur die oerwoud laat marsjeer.
“Ek moes aanskou hoe my maats een na die ander gedood is. Ek het Ps 23 biddend herhaal. Ek het die Onse Vader gebid.
“Ek het God geken, deur my geloof in Jesus Christus, maar dit was 'n moeilike tyd. Sterwe moes ek, maar ek was vasbeslote om die Japanners nie te laat sien hoe bang ek was nie.
“Bewende van kop tot tone, terwyl ek tot oor my enkels in die modder marsjeer, met die punt van 'n bajonet teen my rug, het ek begin fluit, soos ek as 'n seuntjie gedoen het, wanneer ek in 'n donker straat moes afloop. Ek het gefluit:

'Ons kom saam en bid om die HERE se leiding;
Sy wil en Sy weg maak Hy spoedig bekend.
Die bose verdrukking, slaan oor in verrukking!
Loof God wat Sy kinders bewaar tot die end.'

"Ek kom agter iemand anders fluit saam met my – dit was die Japannees met sy bajonet teen my rug. Hy trek sy geweer terug en kom loop langs my.
“Ek ruk soos ek skrik toe hy in goeie Engels sê: 'Ek kan nooit ophou om die Christelike liedere te bewonder nie.' In kort vertel hy dat Engels in 'n sendingskool, (waarvoor ek ook al bygedra het), geleer het.
“Hy praat van die oorlog en hoe moeilik dit vir die Japannese Christene is. Ons praat oor ons huise en ons families. Hy dwing my stadigaan weg van die ander af en na 'n rukkie is ons alleen in die woud.
“Op sy voorstel kniel ons in die modder en bid saam vir die lydende mensdom en almal, wat as gevolg van die wrede oorlog, swaarkry en ons eie behoeftes. Ons staan op van ons knieë af en omhels mekaar in 'n oomblik van broederskap.
“Hy stel voor ek moet hom nou gevange neem en na die naaste Amerikaanse basis marsjeer. Hy weet waar ander Japannese Christene skuil. Hy neem my na hulle skuilplekke toe.
“Nooit sal ek die hoop en blydskap vergeet, wat in hulle oë gekom het toe my vriend hulle een vir een vertel, hoe ons mekaar gevind het en waarheen ons hulle nou wou neem nie.
“Die hele pad het ons oor Christus gesels en hoe ons saam vir Hom moet lewe, al behoort ons aan twee vyandige volke. Toe ons naby die kamp kom, trek almal hulle gesigte suur en donker en ek, met die Japannees se geweer in my hande, marsjeer hulle die kamp in.
“Ek verdien dus nie hierdie medalje vir daardie wonderlikste ervaring van my lewe nie."
As ons in al ons omstandighede naby God bly, Hom bely, Hom vertrou, sy naam verheerlik, bring Hy vir ons oorwinnende uitkoms – ver bo wat ons verwag het. Soos wat die HERE in die geval van die twee soldaet ingegryp het, sal hy vir my en jou ook ingryp. Daar is geen einde aan die wonderlike wyses waarop God vir Sy kinders sorg nie. Ons mag gerus wees.
            "Omdat jy die HERE as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref nie. Ps 91:9-10
            Fluit ‘n geestelike lied by die werk, in die straat, oral waar jy gaanen jy maak lig. Speel geestelike musiek in jou motor, in jou huis. Maak lig. Wees lig.

Saterdag 23 Mei 2015

Sing tot Eer van die Here!


Image result for Moses en die volk trek deur die woestyn




Spring op o’ put! Besing Hom!


Al ooit gehoor van die lied Spring op o’ put! Besing Hom! Dit klink na ‘n baie vreemde naam vir ‘n lied.  Boonop is dit op ‘n baie vreemde plek en onder baie vreemde omstandighede gesing.
            Die volk Israel was in Numeri 21 besig om onder leiding van Moses, deur die woestyn te trek.  Die reis was uitputtend en die mense was dors en moeg.
            GOD sê aan Moses om die volk bymekaar te laat kom sodat Hy vir hulle water kan gee.
            En toe gebeur die volgende:  Met hulle septers en stafwe het hulle in die woestynsand begin grou, maar in soveel vertroue dat GOD wel sy Woord gestand sal doen, dat hulle net daar ‘n lied van lofprysing begin sing het:  Spring op o’ put!  Besing hom!
            Toe hulle die onderaardse stroom tref, het die water bo die sand uitgestroom. Soos altyd wanneer GOD gee, was die water in oorvloed – meer as genoeg vir die hele volk.
            Dit is duidelik dat as die gedelwery na water, nie gepaard gegaan het met geloof en lofprysinge nie, sou hulle die water nie gekry het nie.
            Tussen ons deur loop ook GOD se rivier van rykste seën.
            Ons eie geloof en lofprysinge maak ook die een put na die ander oop, terwyl murmurering en ongeloof ons in mismoedigheid en oordeel laat verval.
            GOD het ‘n besondere behae in ons geloof en lofprysinge.
            Met geloof en lofprysinge verslaan ons selfs die grootste vyand soos in Psalm 149  Lofgesang en oorlogswaard!
            Halleluja!  Sien tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote (ja, ons is Sy gunsgenote).
            Laat Israel hom verheug in sy Maker;  laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!
            Laat hulle Sy naam loof in koordans, Hom psalmsing  met tamboeryn en siter.
            Want die HERE het ‘n welbehae in Sy volk;  Hy versier die ootmoediges met heil.
            Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;  laat hulle jubel op hulle bedde.
            Hoekom?
            Want dan is:  Lofverheffinge in hulle keel, en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
            Om wraak te neem onder die heidene, strafgerigte onder die volke;
            Om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;
            Om ‘n vonnis uit te spreek wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek.  ‘n Eer is dit vir al Sy gunsgenote!  Halleluja! –Sjibbolet