Wat makeer jou dat jy so vas slaap?
“Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou GOD! Miskien sal dié GOD aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie.” Jona 1:6
Die HERE is opsoek na bidders – jy en ek! Dis bekend dat wanneer die HERE na bidders soek Hy hulle selde vind.
“En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie...” Jes. 59:16.
“En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat 'n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.” Eseg. 22:30
’n Bidder vereenselwig hom met die situasie waarvoor hy gaan bid. As vir die redding van siele bid, dan sal hy die kenmerke van ’n voorbidder is: Vereenselwiging, sielesmart en gesag.
Wanneer ons, ons persepsies reg het, dan begin ons besef wat die verskil is tussen wasdom en onvolwassenheid. Dan besef ons wat die verskil is tussen melk en vaste spys – Hebr. 5:12-14.
Rom. 8:20 lees: Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Die Grieks dui aan dat die woord kinders hier “volwasse” kinders bedoel.
Die Ou Testament is letter en die Nuwe Testament is Gees. In 1 Kor. 3 vanaf vers 1, sê Paulus: Ek kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
En verder: Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie (hoekom nie?) omdat julle nog vleeslik is (hoekom is julle nog vleeslik?) omdat daar onder julle nog jaloersheid, twis en tweedrag is.
In Heb. 5:12 sê Paulus: Want hoewel julle vanweë die tyd reeds leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat mens julle die eerste beginsels van die Woord van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spyse nie.
En verder: Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die Woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir die volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit (hoe verkry mens dit?) deur die gewoonte geoefen om goed van kwaad te onderskei.
En verder: daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God.
Wat is dan die pad van die volmaaktheid? Eenvoudig. Efes. 5:1: Wees navolgers van God, soos geliefde volwasse kinders, wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het, en Efes: 4:1 … wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra, en, ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede.
Dit verkry ons deur sensitief na die leiding van die Heilige Gees te luister, deur die Woord in diepte te bestudeer.
Elkeen van ons, sê Efes. 4:7, is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus, daarom moet ons voortgaan op die pad van volmaaktheid sodat ons ook kan word apostels, profete, evangeliste en herders (hoekom?) om, soos Efes. 4:12, die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en ons ook almal kom tot die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.
Lees weer die voorafgaande paragraaf stadig deur. En dan lees jy verder vanaf vers 14: sodat ons nie meer kinders sou wees nie, wat soos die golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid en listigheid tot dwaling te bring…
Sommige Christene kan so maklik ander oordeel aan sogenaamde sondes wat sigbaar is. Dit veroorsaak ‘n binding in hulle gees en hulle kan nie geestelik groei nie. Terloops: GOD sê Hy het die werk in elkeen van ons begin en Hy sal dit voleindig. Ons durf dus nie tussenbeide tree nie.
Dieselfde Christen is dalk groter in die skuld, want, terwyl die ander Christen se sigbare “sonde” (wat dalk nie eers sonde is nie) uitgewys word het eersgenoemde ‘n onsigbare sonde: ja, hy of sy is soos Jak. 1:6-7 sê: hulle sondig deur te twyfel. En dan is daar die waarskuwing dat iemand wat twyfel moenie dink dat hy iets van die Here kan ontvang nie.
As jy skuld het aan so ‘n onsigbare sonde soos twyfel, rig dan jouself op, bely dit by die HERE, weier om langer te twyfel, en groei voort na wasdom. – Sjibbolet