Donderdag 21 Mei 2015

Jy moet ‘n passie hê vir Jesus Christus se onvoltooide werk op aarde!


Image result for person praying on knees


Waarom moet ek en jy (hoegenaamd) bid?

Dit word van ons verwag om te bid vir ‘n Magtige Geestelike Herlewing! - 2 Pet 3:9

AS God  Almagtig is en enigiets kan doen volgens Sy wil, het Hy dan nog enigiets nodig van enigeen van Sy skepsels?

          Hy wat die heelal geskep het deur enkele woorde te spreek, en steeds alles in stand hou sonder dat Hy die mens benodig, waarom sou Hy ons nou nodig hê vir enigiets wat Hy teweeg wil bring?

          As Hy ons nie nodig gehad het om die heelal te skep nie, waarom het Hy gebed ingestel? Wanneer het Hy dan van ons “afhanklik” geword? Waarom kan Hy niks doen in die sfeer van menslike verlossing, behalwe deur menslike samewerking en dit deur gebed en geloof nie?

          Hoe het God Homself dan so in ‘n hoek toegeverf? As God in totaliteit selfgenoegsaam is – wanneer Hy deur bloot ‘n woord te spreek enige moontlike en onmoontlike ding tot stand kan laat kom – waarom gaan Hy dan nie voort, sonder die hulp van enigiemand se intelligensie of wil, en tree arbitrêr op en spreek net die woord nie?

          Is God dan “hulpeloos” sonder die mens. Die misterie van gebed as instelling word opgeklaar in Eseg. 22: 30-31.

          In ‘n tyd van nasionale geloofsversaking, het God gesê: “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.

          “Daarom het Ek my toorn oor hulle uitgegiet; deur die vuur van My grimmigheid het Ek hulle verteer; hulle wandel het Ek op hulle hoof laat neerkom, spreek die HERE, HERE.”

          Hier sien mens duidelik dat God na rede soek om ‘n verdiende loon uit te oefen. Hyself verlang daarna om die volk te spaar, maar vreemd genoeg is Hy “magteloos” sonder menslike ingryping, sonder ‘n bemiddelaar.

          As niemand in die bres wil tree nie, kan Hy nie Sy oordele, Sy toorn, terughou nie.

          Maar waarom moet Hy van ons gebed “afhanklik” wees om die volk te verdedig teen Sy eie toorn? God is tog Almagtig en verhewe, soewerein in die heelal?

          Hy is tog die uiteindelik Regter, die Jurie, die Uitvoerende Mag, die Een wat gesag toepas.  Of is Hy dalk nie?

          As Hy verlang om nie sy volk te oordeel nie, as Hy graag genade wil betoon, hoekom gebruik Hy nie Sy Almag en soewereiniteit nie, ten spyte selfs van wat ons mag bid of nie bid nie?

          Anders gestel: God se Wil is soewerein in alle dinge. As Hy wil dat siele gered word, dat Herlewing moet uitbreek, dat Sy afgedwaalde volk na Hom moet terugkeer, hoekom gaan Hy nie net arbitrêr oor ons koppe en voer Sy Wil uit nie?

          Waarom het Hy ‘n stelsel daar geplaas wat hom “afhanklik” maak van ons? Is dit nie ‘n verstommende misterie nie?

          God pleit by ons om te bid. Hy wil niks doen in die sfeer van menslike verlossing, sonder ons gebed en intersessie nie.

          Hy pleit nie net dat ons tussenbeide moet tree met gebed nie, Hy dring daarop aan, smeek ons eintlik.

          In Matt. 7:7 dring Hy daarop aan dat ons moet klop en nogmaals klop, en voeg dan by: Vir elkeen wat klop sal oopgemaak word.

          Dan verduidelik hy self: Die man en sy vrou en kinders slaap reeds, die deure is gegrendel –  toe die vriend opdaag en aanklop en vra vir drie brode.

          Maar die man wil nie opstaan en sy vriend help nie. Dan sê Jesus: Alhoewel hy nie sal opstaan en help omdat dit sy vriend is wat aanklop nie, staan hy uiteindelik tog op en help vanweë die vriend se aanhoudende irriterende geklop.

          Met ander woorde, as mens ophou klop, word daar nie oopgemaak nie. Soms moet mens nogal lank klop, maar die belofte staan vas: As jy aanhou klop dan sal daar vir jou oopgemaak word!

          En verder: As jy aanhou soek, sal jy beslis vind.

          Dit is duidelik dat God niks doen, en niks gebeur, as ons nie bid nie.

          God is die God van die oes, nogtans dring Hy in Matt. 9:38 daarop aan dat ons moet bid dat Hy arbeiders in die veld moet stuur.

          Die oes is syne en die arbeiders is tog ook syne. Hoekom sou Hy “hulpeloos” toekyk terwyl Hy wag dat ons bid dat Hy arbeiders in die oes moet instuur? Hoekom stuur hy arbeiders uitsluitlik uit in antwoord op ons gebed?

          Die fundamentele belangrikheid van hierdie instelling van gebed in God se Raadsplan, word verder beklemtoon daardeur dat God homself onomwonde verbind om te antwoord!

          God se belofte om te antwoord is byna soos ‘n blanko tjek wat reeds Sy handtekening dra. Dis ‘n verbysterende gedagte, maar ‘n werklikheid. Dis of God Sy septer aan ons oorhandig het en by ons pleit om dit te gebruik.

          Die volgende voorbeelde ruim alle twyfel uit die weg:


·        En wat julle ook al in My naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in My naam vra, sal Ek dit doen. –  Joh. 14: 13-14.

·        As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. – Joh. 15:7.

·        En in daardie dag (nà die Hemelvaart) sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra IN MY NAAM, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie. Bid, en julle sal ontvang (hoekom?) sodat julle blydskap volkome kan wees! – Joh. 16:23-24.



Daar is geen voorwaardes wat God bind of verhoed om die gebed van ‘n getroue kind van Hom te beantwoord nie. God self hoef aan geen voorwaardes te voldoen nie, maar, ons bid hopeloos te min!

Die voorwaarde: As julle in My bly en My woorde in julle, is moontlik en binne bereik van elke Wedergeborene wat dit erns met God bedoel.

As dit nie moontlik was om hierdie voorwaarde na te kom nie, dan sou dit sekerlik ‘n risiko aan die kant van God wees om sulke verreikende beloftes te maak – en so iets is tog onmoontlik, God sal nie ‘n fout maak nie.

As God dus nie kan fouteer nie, dan is die totale verantwoordelikheid  vir gebedloosheid of oneffektiewe gebed, ons sin.

Van God se kant af is dit dus ‘n eervolle optrede. Van God se kant af is dit ‘n waterdigte aangeleentheid. Sy deel is reeds gedoen. Sy belofte is om altyd te antwoord ingevolge Sy Wil. Daar is dus ook geen fynskrif nie.

Die getroue kind van God sal nooit iets vra buite die Vader se Wil nie.

God wou in ‘n stadium iemand hê om in die bres te staan vir die volk. Dit is dus Sy Wil dat ons tot Hom bid om herlewing en restourasie van die volk.

As ons sekere middele daarvoor benodig, dan sal Hy dit ook gee. Dieselfde geld in die geval van siele inwin vir Sy Koninkryk.

Ook geld dit ons blydskap want dit is Sy Wil dat ons blydskap volkome sal wees!

God se aanbod aan ons is ‘n bona fide aanbod, ‘n aanbod ter goeder trou. Dit is ‘n uitnodiging aan die Wedergeborenes om in volle vennootskap saam met Hom te lewe. Nie dat ons namens Hom besluite sou neem nie, maar meer in die sin van medewerker. 1 Kor 3:9

Die verantwoordelikheid en die uitvoer van God se raadsbesluite, plaas Hy op die skouers van Sy volgelinge.

En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die Koninkryk van die Hemele gee; en wat jy (My gemeente) ook op die aarde mag bind, sal in die Hemel gebonde wees, en wat jy (My gemeente) ook op die aarde mag ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees. – Matt. 16: 18-19.

Die belofte word aan die Liggaam in die algemeen herhaal in Matt. 18:18:  “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees, en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.

“Kyk, ek gee aan julle mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” – Luk. 10:19.

“Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Joh. 20:21.

Wat betref Joh. 20: 21-23 is dit duidelik dat ons as God se verteenwoordigers op aarde aangestel is. Soos wat die Vader Hom gestuur het, stuur Hy ons ook.

Hy sou ook nie die opdrag gegee het as Hy ons ook nie die krag voorsien het om die taak uit te voer nie.

Die vraag is: Waarom het God verkies om binne die raamwerk van gebed te opereer? Waarom het hy die volle verantwoordelikheid vir die uitvoer en administrasie van Sy  Goddelike regering op aarde, op die skouers van die wedergeborenes geplaas?

Waarom sal Hy hom nie inmeng in aardse aangeleenthede nie, behalwe om op te tree in medewerking met Sy Liggaam?

God het uit en uit van Sy magte aan Sy Liggaam gedelegeer om die werk wat Jesus Christus begin het, te voltooi. Hoe anders kon dit moontlik word om die Evangelie na elke uithoek van die wêreld te neem?

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo —  die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter(meer) werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Joh. 14:12
Deel van die Opdrag is:  “En leer hulle”. Hoe sou dit moontlik wees om die nuwe siele wat inkom in die Koninkryk te leer, as dit nie die plig van die Wedergeborenes, God se Medewerkers, is nie?

God had iets oneindig groot in gedagte toe Hy die stelsel van gebed ingestel het. God se ewigheidsdoel met die heelal en Sy volk was om ‘n Ewigheidsmaat vir Christus op aarde te skep —  ons, die Bruid.

Hierdie feit is deel van die openbaarmaking van die misterie in die Boek Efesiërs wat die klimaks in Hoofstuk 5 bereik.

Hierdie hoofstuk verklaar die Goddelike openbarende parallel tussen God se menslike en Goddelike huweliksprogramme.

Strofe 32 klaar die misterie op wanneer Paulus onomwonde verklaar dat die huweliksmaats  in die huweliksprogram, Christus en die Bruid (ons die Wedergeborenes) is.

Hoekom? Want die Bruid (die Liggaam van Christus) in sy hoedanigheid as Bruid van Christus, as huweliksmaat, sal die hoogste amp in die heelal beklee, naas die Godheid self.

As Bruid van die Ewige Seun, sal sy saam met Hom universele soewereiniteit deel!

“Weet julle nie dat die Heiliges die wêreld sal oordeel nie. Weet julle nie dat ons Engele sal oordeel nie?” – 1 Kor. 6: 2a-3a.

“As ons verdra, sal ons saam met Hom regeer.” 2 Tim. 2:12.

“En aan hom wat oorwin en My werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee.” Openb. 2:26.

“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het.” Openb. 3:21.

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop, uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” – Openb. 5: 9-10.

Omdat die Wedergeborenes Christus se Geliefde en Bruid is, moet sy onderrig word, geleer word, en voorberei word vir haar Koninklike rol.

Deur Sy gesag aan die Bruid te delegeer om Sy administrasie en besluite op aarde uit te oefen moet die Bruid  leef  soos een wat gereed is om in die huwelik te tree.

Die Bruid moet toenemend in die binnekamer in gebed verkeer wat betref God se Raadsbesluite en die uitoefening daarvan. Ons kan dit ook in-diens opleiding noem.

Sy moet die kuns van geestelike oorlog aanleer en begryp, oor hoe om die onheilsmagte te verslaan in voorbereiding vir haar huwelik met die Lam van God en haar troonbestyging.

Om haar in staat te stel om die tegniek van oorwinning aan te leer, het God die stelsel van gebed ingestel.

Let op hoe word haar sfeer van aksie beklemtoon: “Wat jy ook al bind op die aarde sal in die Hemel gebonde wees,” “wat jy ook al ontbind op die aarde sal in die Hemel ontbonde wees.”

En, “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra,  dit sal hulle ten deel val  van My Vader wat in die Hemel is.” Matt: 18:19.

Hierdie delegering en verantwoordelikheid betreffende gesag en administrasie wat aardse aangeleenthede aanbetref,  beslaan die hoogste eer, en verhoog die Bruid tot die hoogste rangorde onder alle lewende wesens.

Geen Engel of Aartsengel sal ooit hierdie hoë rangorde beklee nie, want nie Engele nie, maar alleen Wedergeborenes is in die beeld van God geskape en kwalifiseer om die Bruid te wees en die Bruidegom se troon te deel.

Hierdie raadsplan van God is nie as ‘n losse gedagte agterna ingestel nie, maar kom nog voor die grondlegging van die aarde af, aldus Efes. 1: 4.  “Hy het die Wedergeborenes uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”

En dit is waarom ons in hierdie tyd dringende verootmoediging bepleit, sodat Sy volk na Hom kan terugkeer (hoekom?) “sodat hulle sonder gebrek voor Hom in Liefde kan wees.”

Ja, sodat hulle Hom in Gees en in Waarheid kan Dien.

Dit was God se oorspronklike doel met die skepping van die heelal. En Sy gebedsprogram is die metode om die Bruid voor te berei vir haar toekomstige rol as Koningin.

Dit is waarom God nooit oor die kop van Sy Liggaam gaan nie. Hy sal nie dinge uit ons hande neem nie. Hy handhaaf die heilige protokolle. Ons het ‘n kardinale rol om te vervul.

Deur  Haar rol hier op aarde te vervul, kan Sy haar volle status bereik as mederegeerder van die heelal. God kan Haar nie verlos voordat Sy nie haar verantwoordelikheid aanvaar en ‘n sukses van haar taak maak nie.

2 Pet 3:9 lees: “Die HERE vertraag nie die belofte (van Sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Hoe lank ons dus nog op hierdie aarde gaan wees voordat ons oor die konings en priesters van hierdie wêreld gaan regeer, hang alles af van ons eie prestasie.

Feit is, Hy kom nie voordat Sy Bruid nie sonder vlek of rimpel is nie. Efes. 5: 27.

God sal dus niks doen, anders as in antwoord op gebed nie. Die Wedergeborenes moet in gebed en intersessie intree vir God se volk, vir herlewing, vir restourasie.

Die grootste wat enige Wedergeborene vir God en vir die mens kan doen, is om te bid!

Natuurlik kan ons meer doen as net bid nadat ons gebid het, maar ons kan niks doen alvorens ons nie gebid het nie. En ons bid te min.

Deur gebed slaan ons die uitklophou. Deur dienswilligheid versamel ons die resultate. Hoe meer gebed daar is, hoe ‘n beter plek sal die wêreld wees waarin ons woon, en hoe magtiger sal ons teen die onheil staande kan bly.

Ons het en maak tyd vir alles, behalwe om te bid. Maar hopelik, nou dat ons almal besef wie ons werklik is en watter belangrike rol ons op aarde moet vervul en watter groter rol ons in die Hiernamaals gaan vervul,  hopelik sal ons nou tyd maak om met God te versoen en ons voor te berei vir die komende Huwelik.

Van nou af aan, laat die volgende strofe ons slagspreuk of ons wagwoord wees: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God!” – 1 Kor. 10: 31.

En wat leer Die Bybel, hoe bid ek om seker te maak dat my gebede beantwoord word?

          Baie mense bid nie meer nie. Hulle sê dit help nie want hulle gebede word tog nie beantwoord nie.

          Wat ons hier gaan doen is nie om te kyk wat ons nie moet doen nie, maar wat ons wel moet doen, om seker te maak dat ons antwoorde op ons gebede kry.

          Voordat jy nog begin bid, sê die HERE: “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

“Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.” Mark 11:25-26

          Ten eerste moet ons besluit presies wat ons van die Vader verlang. Hoekom?

          Want Jak. 3:6-8 sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel: want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word … want dié mens, moenie dink dat hy iets van die Vader sal ontvang nie.”

Met ander woorde, dis ‘n uitgemaakte saak, so iemand wat twyfel, sal niks van die Here ontvang nie.

          Jakobus sê verder dat so iemand dubbelhartig is en boonop onbestendig is in al sy weë.

          Dis soos iemand wat ‘n trollie op en af in ‘n hipermark stoot en nie kan besluit wat om te koop nie, net omdat hy of sy nie vooraf besluit het wat hulle nodig het nie.

          As twyfel jou probleem is, bely dit en weier om te twyfel.

          Ons moet aanvaar dat daar twee magte op die aarde aanwesig is: God se mag en die satan se mag. Die twee staan teenoor mekaar. Twyfel kan nooit van die Hemel af kom nie.

          Die amptelike opdrag is in Jak. 4:7: “Onderwerp julle dan aan God: weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug!”

          Om te twyfel is dus sonde. Dis ook selfvernietigend.

          Ten tweede moet ons die Vader vra vir dit wat ons nodig het. Onthou, Hy voorsien dit wat ons nodig het, en nie dit wat ons wil hê nie!

          Matt. 7:7-8 lees: “Bid, en vir julle sal gegee word: soek en julle sal vind: klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want, elkeen wat bid, ontvang: en hy wat soek, sal vind, en vir hom wat klop sal oopgemaak word.”

          En verder (Matt. 6:8) “… julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle vra.”

          Hoeveel mense het nie al hierdie strofe aangehaal en gesê maar hulle hoef nie te bid nie want die Vader weet reeds wat hulle nodig het.

          Maar, waarom moet ons dan nogtans vra?

          Dis eenvoudig. Wanneer jy agterkom dat jou kind se skoene vervang moet word en jy vervang dit voordat hyself agtergekom het dit is flenters, dan het daardie kind geen waardering vir die nuwe skoene nie.

          Kom die kind egter self agter dat sy skoene vervang moet word en hy vra mooi dat sy ouers vir hom nuwes moet koop, dan sal hy nie net waardering openbaar nie, maar  hy sal ook mooi na die skoene omsien.

          Ten derde moet ons glo dat ons wel ontvang.

          “Want voorwaar, ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg (probleem) sê: hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.

          “Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang (glo dat julle dit reeds ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.

          Vierdens moet ons Skriftuurplase lees wat beloftes vir ons gebed bevestig.  Fil. 4: 8.

          Asook Jos. 1: 8; “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan: want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”

          Die opdrag is dat ons die Woord van Here deeglik sal ken, sodat ons nougeset kan wandel – natuurlik ook wat betref wat rondom ons aangaan sodat ons presies kan weet waarvoor om te bid of in die bres daarvoor in te tree.

          Christus het nooit ‘n wapen saam met Hom rondgedra nie. Hy het deurentyd die Woord as swaard gebruik, bv toe die duiwel Hom drie keer versoek het.

          Die volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. Kyk net wat leer mens nie al net uit hierdie geskrif nie.

          Joh. 15:7  lees: “As julle in My bly en My woorde (kennis) in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”

          Ons het geen verskoning daarvoor as ons nie die Woord ken nie.

          Vyfdens moet ons aan God lofprysinge gee. Fil. 4: 6 lees: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes (oor die dinge wat julle werklik benodig) in alles deur gebed en versoeke met danksegging by God bekend word.”

          Ps. 149 sê lofprysinge is soos ‘n tweesnydende swaard: Aan die een kant maak ons God se naam groot, terwyl ons aan die anderkant  “wraak uitoefen oor die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie, om ‘n vonnis wat (reeds) opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al Sy gunsgenote. Hallelujah!”

          Sesdens bid ons altyd in die naam van Jesus Christus. Joh. 16: 23 lees” “En in daardie dag sal julle my niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in My naam, sal Hy julle gee.

          2 Kron. 7:14 is ‘n realiteit:  “As My Volk oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek, en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ek (beslis) uit die Hemel hoor en hulle vergewe en hulle land genees.”

          Waarom toets ons nie God aan sy Woord nie?

          Inderdaad is gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.  Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse God is!

          Alles is reeds probeer vir sogenaamde vryheid en reg, behalwe deurdringende, aanhoudende gebed.

          Begin vandag nog ‘n gebedswaak in jou eie huis.  Dit is die antwoord, die enigste antwoord! Al is julle net twee wat begin, maak daardie begin.
          “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;
“en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
“en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb. 12:12-15  —  Sjibbolet