Saterdag 10 Januarie 2015

Die besluit is jou eie!



Dit is hoe eenvoudig dit is: Die besluit is jou eie – wil jy wen, of wil jy verloor!

Gal. 6: 7-10 stel elkeen van ons voor die ‘n keuse: Lewe of Verderf:

·        Moenie dwaal nie, GOD laat Hom nie bespot nie

·        Want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai

·        Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai!

·        Hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die Ewige Lewe maai

Die keuse is jou eie. Saai in die vlees – daardie dinge wat jou vernietig, jou vlees vernietig, soos ook om onwaardig
by die Nagmaaltafel aan te sit.

Daardie dinge wat jy weens oortuiging van die Gees, in jou diepste wese weet, is verkeerd, skadelik. Daardie dinge
wat ‘n binding in jou gees veroorsaak sodat jy nie met GOD en almal rondom jou in die Lig kan wandel nie.

Die sinneloosheid wat jy aan jouself opdis met allerlei praatjies en verskonings, net om jou onreinhede te regverdig,
terwyl jy goed weet, jy is met verkeerde dinge besig.

Die valse troos  wat jy self opdis: Maar ek dien mos die HERE, ek probeer my bes, almal is nie volmaak nie, ag, julle
verstaan nie, ek is soos ek is en ek vind geen probleem daarmee nie.

Die keuse in jou eie: Kies vlees en jy sal voorwaar verderf maai. Jy gee jou eie vlees aan die verderf oor. Die besluit
is jou eie.

GOD dwing weliswaar niemand nie, maar Hy laat Hom ook nie bespot nie. Moenie vir Hom probeer verskonings
aanbied waarom jy nie dinge van die verderf kan of wil los nie. Jy sal Hom nie kan bluf nie.

Hy weet dat jy weet dat Hy weet jou lewe is ‘n klug. Jy probeer aan Hom vertel dat soet en bitter water uit dieselfde
fontein kan voortvloei, terwyl Hy juis daarop wys dat so iets onmoontlik is. Jak 3:11

Kompromie is die sonde van ons tyd. GOD haat kompromieë. Kompromieë sê dit is verkeerd maar ek is darem op
die goue middeweg.

Helaas, ook die goue middeweg is veroordeel, want was jy maar koud of was jy maar warm, maar louwarm op die
goeie middeweg word jy uitgespuug – dis die goue helleweg.

Die besluit is jou eie!

Saai uit die Gees en jy kies Lewe!

·        Laat ons nie moeg word om goed (en reg) te doen nie

·        Want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie

·        Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen

·        Veral aan die huisgenote van die Geloof.

Volgens Gen. 8:22 sal saaityd en oestyd voortduur tot en met Sy Wederkoms. Dis ‘n Verbond wat ons met Hom
het. Dit geld vir die landbouer, maar dit is ewe veel van toepassing op wat ons in die daaglikse lewe saai.

Ons moet nooit moed opgee oor die oes nie want GOD vergeet nooit van saad wat gesaai word  nie.

Die grootste leuenaar is misleiding. Dis ook GOD se eerste waarskuwing in die gelese gedeelte: Moenie dwaal
nie!

Misleiding beteken dit wat ‘n valse indruk skep, of dit nou deur voorkoms of deur ‘n standpunt is.

In die Tuin van Eden sien ons duidelik die valse indruk geskep deur ‘n standpunt. Die standpunt was vals, die
indruk was vals.

Misleiding is satan se magtigste wapen, daardeur het regerings al tot ‘n val gekom.

Hy ag dit sy taak om jou wys te maak dat die “goeie” saad wat jy saai nie ‘n opbrengs sal lewer nie. Hy weet
ook dat as jy vasstaan en uit die Gees saai, jy beslis die goeie sal maai. Met jou verkeerde gesindheid het jy ‘n
ontsettende gevaar vir Sy eie Koninkryk word.

Naas misleiding  is moegheid, gebrek aan uithouvermoë. Sy Woord is die lamp vir jou voet, sonder die lamp sal
jy sekerlik moeg word. Die keuse is jou eie: Brand jou Lamp? Het jy genoeg olie?

As jy in Sy Woord bly, bly Hy in jou. As jy nie in Sy Woord bly nie, bly Hy nie in jou nie en uiteindelik maai jy
verderf.

In Jes. 40:28-31 sê GOD Hy word nie moeg of mat nie. Hy wil ook nie hê ons moet moeg of mat word nie, en
belowe dan deur Sy groot genade en Liefde vir ons:

Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.

Hy aanvaar heeltemal dat jy moedeloos kan word. Hy sê dan ook: die jonges word moeg en mat en die
jongmanne struikel selfs, maar:

Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word
nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Die besluit is jou eie!

Saai in die vlees en jy eindig in die verderf, maar saai in die Gees en sou jy moeg en mat word, maar die wil
openbaar om in Sy Woord te bly, dan neem Hy jou hand, hy hef jou op, jy ontvang nuwe krag, jy hardloop
selfs en word nie moeg nie.

Let op na die oplossing: Diegene wat op die HERE wag! Neem Sy Woord en gaan wag op Hom.

Hoe belangrik is dit vir jou om die goeie te kan oes? Wil jy werklik die goeie in die lewe en hierna oes?

Wees dan op die uitkyk vir die rowers van misleiding, moeg- en matheid en sonde.

Moenie met ander begin twis oor wat is sonde en wat nie. Die HERE sê Hy het die werk in jou begin en Hy
sal dit voleindig. Praat met Hòm daaroor. Moenie regverdiging vir jou verkeerde dade by vriende soek nie,
die misleiding sal net vererger en jy het uiteindelik ‘n goeie verskoning:  Ja, niemand weet of dit reg of
verkeerd is nie en totdat iemand dit nie kan bewys nie, gaan ek voort op my pad.

So maklik is dit nie. GOD laat Hom nie bespot nie. Hy nooi jou ook om die saak met Hòm uit te maak, nie
met iemand anders nie.

Hy lewer weereens die teenprestasie in 1 John. 1:9 wanneer Hy belowe:

As julle, julle sondes bely – Ek is getrou en regverdig om die sondes te vergewe (en nie net dit nie) maar
om julle van alle ongeregtighede te reinig.

Die besluit is jou eie?

Lees maar Jeremia 5 en let op strofe 25: “Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer en julle sondes
het die goeie van julle teruggehou.”

Nou weet jy waarom dit met sommige Gelowiges so goed en vooruitstrewend gaan, en waarom ander op
krom kieries deur die lewe aansukkel.

Die Besluit is jou eie. Waarom sou jy so dwaas wees om die vleespad na die verderf  te bewandel, as jy
daagliks in oorwinning kan lewe!

Onthou: Die besluit is jou eie!

Niemand anders gaan, of kan, vir jou besluit nie, niemand gaan jou dwing nie. Die besluit is jou eie!