Ps 62:1-13: "Dit is net van God wat ek werklik rus verwag, dit is net Hy wat my red. Hy beskerm my en red my en bewaar my veilig sodat ek nie sal val nie, al struikel ek ook" (vs. 6-7).
In sy boek 'Hou Op Kwel en Begin Lewe' laat die bekende skrywer, Dale Carnegie,'n vrou haar aangrypende verhaal vertel: "Gedurende die depressie, was my man se inkomste $18 per week. Ons het ons huis kwyt geraak en ons het die kruidenier geld geskuld. Ons het vyf kinders gehad. Ek het vir die bure gewas en gestryk en tweedehandse klere by die Heilsleër gekoop, wat ek vir my kinders reggemaak het. Een dag het die kruidenier, aan wie ons geld geskuld het, my elfjarige seuntjie van diefstal van 'n paar potlode beskuldig. My seuntjie het dit snikkende vir my kom vertel. Ek het geweet hy was onskuldig, maar hy is voor 'n klomp mense tot dief en leuenaar gemaak. Dit het my geknak. Verneder in my ellende en siek van kwelling, met geen hoop wat ek in die toekoms kon sien nie, het ek my vyfjarige dogtertjie na die slaapkamer toe geneem. Ek het al die openinge by die vensters en deur toegestop.
Daarna het ek die gasverwarmer oopgedraai, maar nie aangesteek nie. Ek het my dogtertjie geneem en met haar op die bed gaan lê. 'Kom ons twee slaap 'n bietjie voor die ander van die skool af kom,' het ek haar gerusgestel. Ek het my oë toegemaak en geluister hoe die gas uit die verwarmer blaas. Ek sal in my lewe nooit die reuk van daardie gas vergeet nie!
Skielik hoor ek musiek. Ek luister. Ek het vergeet om die radio in die voorkamer af te skakel. 'Laat hom maar speel,' dink ek. 'Dit maak tog nie nou meer saak nie'. Die musiek duur voort en teen my sin luister ek. Iemand begin sing: 'Wat 'n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan; Wat 'n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan! Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!'
Terwyl ek na die lied luister, besef ek watter tragiese fout ek begaan. Ek probeer my vreeslike stryd alleen stry. Ek moet al my node in Gods Vaderhart uitstort. Ek het opgespring, die gas toegedraai, die deur oopgemaak en die vensters oop geskuif. Die res van die dag het ek gehuil en gebid – nie vir hulp nie, maar om my hart in danksegging uit te stort. Ek het al God se seëninge in my lewe gesien! Ek het vyf lieflike, gesonde kinders. Ek het 'n man wat my en die kinders lief het. Ek is gesond. En ek het Hom geloof dat Hy my so wonderlik in my waansinnige daad gestuit het!
Ons het na 'n klein, ou skoolgeboutjie verhuis, wat ons teen $5 per maand kon huur. Ek het God eerlik gedank dat ons droog en warm kon slaap, 'n dak oor ons kop gehad het, elke dag kon eet. Toe begin dinge verbeter. My man het 'n beter werk gekry. Ek het 'n vaste werk gekry. My oudste seun het op 'n plaas werk gekry – hy moes wel soggens en saans 13 koeie met die hand melk! - maar hy het 'n inkomste gehad.
Vandag is my kinders groot en getroud. Almal het goeie werk. Ek het drie lieflike kleinkinders. As ek terugdink aan daardie verskriklike dag toe ek die gas oopgedraai het, dank ek God oor en oor dat Hy my betyds gekeer het. Wat sou ek gemis het, watter wonderlike jare sou ek verbeur het!"
Volg die lied se raad: Stort jou nood uit in God se vaderhart. Rus in Sy arms. "Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou" (Deut.33:27). Ons hét 'n Vriend in Jesus en deur Hom het ons 'n Almagtige Vader. "Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie" (Ps.56:4).
GEBED: Here, vandag stort ek my nood in u Vaderhart uit. – Manie Colyn