Wys tans plasings met die etiket Ons vriend in Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ons vriend in Jesus. Wys alle plasings

Woensdag 19 Desember 2018

Jesus Christus sê: ‘Ek noem julle vriende’


“Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie … nee,Ek noem julle vriende … “  Joh. 15:15.

Die HERE praat met ‘n mens op vele maniere. Een daarvan is deur menslike vriendskap.

GOD bring mense bymekaar, laat word hulle vriende, op so ‘n wyse, dat die vriendskap kragtig werk om ons te red van die verwarring en ellende waarin ons onsself van tyd tot tyd bevind en ons te bou tot rotspilare in Sy Koninkryk, ook onder ons volk.

            Aristoteles wat 300 voor Christus gelewe het, word nie eintlik as ‘n Christen-filosoof beskou nie, maar sy drie elemente oor vriendskap straal die mooi gesindheid van Christus uit.

            Eerstens het hy gesê, vriende is mense wie se geselskap ons geniet. Een van die dinge wat ‘n ware vriendskap tot gevolg het  is om mekaar te laat glimlag wanneer hulle van mekaar hoor of mekaar besoek bring.

            Die ervaring tussen ware getroue vriende is altyd vrolik. Hulle kan die verskrikking van die lewe vir mekaar verander in geleenthede van soveel opregte erns, maar ook uitbundige vrolikheid.

            Die Prediker sê in die Boek van die Wyse: “’n Getroue vriend is ‘n sterk vesting. Hy wat so ‘n vriend gevind het, het ‘n skat gevind.”

            Die dissipels kon sekerlik dieselfde van die HERE Jesus Christus sê: Of hy nou iets met hulle gedeel het, saam langs die See van Galilea gaan stap het, gelag het by ‘n eetmaal, wyn geskink het by ‘n bruilof, gehuil het by ‘n vriend se graf, selfs wanneer Hy hulle vermaan het – sy blote teenwoordigheid kon die gewone teleurstellings en die bitter van die lewe transformeer na ware lewenskrag, oomblikke van bruisende varsheid, nuwe insig, nuwe visie en ook nuwe insig oor die werklikheid van die Ewige Lewe.

            Soms wil mens net by daardie iemand besonders wees. Nie by enigiemand nie, daardie besonderse vriend wat jy weet wat nooit uitpraat nie omdat hy of sy lojaal aan jou is, graag wil luister wanneer jy praat. Al klink jou gepraat soms ook na die versinsels van verdwaalde gedagtes.

            So is GOD ook ons Vriend. Soms wil ons net alleen in ons binnekamer, in die woud, langs die strand, iewers, alleen met Hom wees. Daar is sake wat jy op Sy uitnodiging eenvoudig moet uitpraat.

            Tweedens het Asristoteles gesê: Vriende is mense wat mekaar help. Paulus beklemtoon  dit in ‘n brief aan die Korinthe:  In elke  moeilikheid  bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander  bemoedig  wat in allerlei  moeilikhede verkeer. Ons kan hulle  bemoedig met dieselfde  bemoediging waarmee GOD ons bemoedig. (2 Kor. 1-4)

            Soms gaan mens deur ‘n dal van doodskaduwee. Ons weet GOD is steeds by ons. Die volgende oomblik stuur Hy ‘n vriend om ons te help. Inderdaad is dit GOD wat help. Hy gebruik die vriend.

Alhoewel ons altyd baie dankbaar is vir die vriend, moet ons onthou dat onse GOD ‘n jaloerse GOD is en dat Hy AL die eer wil hê.

            Derdens het Aristoteles gesê: Vriende is mense met wie ons ‘n visie deel, soos ‘n Dawid en ‘n Jonathan, een van hart en siel. 1 Sam. 18:1-5

            Ons is nou omring deur moeilikhede en gevare. Nou stry ons saam vir dit wat die hoogste waarde het. Geen omstandigheid kan vriende se dunk van mekaar verander nie.

            Kyk weer na Joh. 15:15: “Ek  noem  julle  nie meer  ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte  weet nie  wat sy  heer doen nie. Nee, Ek  noem  julle vriende, omdat Ek  alles wat  Ek  van  my Vader  gehoor  het, met  julle  gedeel  het.”

            Vriende se lewens verskil in baie opsigte. Dit word respekteer. Maar ware vriende word saamgebind deur die visie van GOD se heerskappy, GOD se geregtigheid, GOD se vrede, GOD se Koninkryk, GOD se wil vir ons VOLK en ons toekoms, en geen omstandighede van tyd of afstand kan vriende skei van die gemeenskaplike visie wat ons in Christus Jesus deel nie!

            En wat sal die mense eendag van vriende sê? ‘n Prediker sê een keer tydens ‘n begrafnisdiens: Die oorledene was ‘n wonderlike vader, ‘n liefdevolle eggenoot, ‘n reuse bate vir die samelewing…

            Toe stamp die ma aan haar seun en sê: Gaan kyk vir my in die kis en maak seker dis jou pa van wie hy praat.

            Maar, oor ware vriende sal die mense praat soos vandag oor Dawid en Jonathan.

            Jesus noem ons ook Sy Volk, Sy eiendom, Erfgename. Sy medewerkers. Ons het die geloof van 'n mosterdsaadjie  –  ons (moet) groei tot 'n reuse Geloofsboom.

            Oor ons visie vir Sy Volk se herlewing en verlossing het ons Sy belofte in Jer 32: 27: Kyk, Ek is die HERE, die GOD van alle vlees;  sou enige ding vir My té wonderbaar wees?

            Die HERE behartig die regsaak van Sy volk; Hy ontferm hom oor sy dienaars. Ps. 135:14 ...maar dien die volk Hom ooit? —  Wekroep

https://www.youtube.com/watch?v=79mMYzocOkY
Preview YouTube video Wat n Vriend het ons in Jesus

Donderdag 15 Januarie 2015

‘n Tydige Boodskap



 
Ps 62:1-13: "Dit is net van God wat ek werklik rus verwag, dit is net Hy wat my red. Hy beskerm my en red my en bewaar my veilig sodat ek nie sal val nie, al struikel ek ook" (vs. 6-7).
 
In sy boek 'Hou Op Kwel en Begin Lewe'  laat die bekende skrywer, Dale Carnegie,'n vrou haar aangrypende verhaal vertel: "Gedurende die depressie, was my man se inkomste $18 per week. Ons het ons huis kwyt geraak en ons het die kruidenier geld geskuld. Ons het vyf kinders gehad. Ek het vir die bure gewas en gestryk en tweedehandse klere by die Heilsleër gekoop, wat ek vir my kinders reggemaak het. Een dag het die kruidenier, aan wie ons geld geskuld het, my elfjarige seuntjie van diefstal van 'n paar potlode beskuldig. My seuntjie het dit snikkende vir my kom vertel. Ek het geweet hy was onskuldig, maar hy is voor 'n klomp mense tot dief en leuenaar gemaak. Dit het my geknak. Verneder in my ellende en siek van kwelling, met geen hoop wat ek in die toekoms kon sien nie, het ek my vyfjarige dogtertjie na die slaapkamer toe geneem. Ek het al die openinge by die vensters en deur toegestop.
 
Daarna het ek die gasverwarmer oopgedraai, maar nie aangesteek nie. Ek het my dogtertjie geneem en met haar op die bed gaan lê. 'Kom ons twee slaap 'n bietjie voor die ander van die skool af kom,' het ek haar gerusgestel. Ek het my oë toegemaak en geluister hoe die gas uit die verwarmer blaas. Ek sal in my lewe nooit die reuk van daardie gas vergeet nie!
 
Skielik hoor ek musiek. Ek luister. Ek het vergeet om die radio in die voorkamer af te skakel. 'Laat hom maar speel,' dink ek. 'Dit maak tog nie nou meer saak nie'. Die musiek duur voort en teen my sin luister ek. Iemand begin sing: 'Wat 'n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan; Wat 'n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan! Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart, Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!'
 
Terwyl ek na die lied luister, besef ek watter tragiese fout ek begaan. Ek probeer my vreeslike stryd alleen stry. Ek moet al my node in Gods Vaderhart uitstort. Ek het opgespring, die gas toegedraai, die deur oopgemaak en die vensters oop geskuif. Die res van die dag het ek gehuil en gebid – nie vir hulp nie, maar om my hart in danksegging uit te stort. Ek het al God se seëninge in my lewe gesien! Ek het vyf lieflike, gesonde kinders. Ek het 'n man wat my en die kinders lief het. Ek is gesond. En ek het Hom geloof dat Hy my so wonderlik in my waansinnige daad gestuit het!
 
Ons het na 'n klein, ou skoolgeboutjie verhuis, wat ons teen $5 per maand kon huur. Ek het God eerlik gedank dat ons droog en warm kon slaap, 'n dak oor ons kop gehad het, elke dag kon eet. Toe begin dinge verbeter. My man het 'n beter werk gekry. Ek het 'n vaste werk gekry. My oudste seun het op 'n plaas werk gekry – hy moes wel soggens en saans 13 koeie met die hand melk! - maar hy het 'n inkomste gehad.
 
Vandag is my kinders groot en getroud. Almal het goeie werk. Ek het drie lieflike kleinkinders. As ek terugdink aan daardie verskriklike dag toe ek die gas oopgedraai het, dank ek God oor en oor dat Hy my betyds gekeer het. Wat sou ek gemis het, watter wonderlike jare sou ek verbeur het!"
 
Volg die lied se raad: Stort jou nood uit in God se vaderhart. Rus in Sy arms. "Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou" (Deut.33:27). Ons hét 'n Vriend in Jesus en deur Hom het ons 'n Almagtige Vader. "Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie" (Ps.56:4).
 
GEBED: Here, vandag stort ek my nood in u Vaderhart uit. – Manie Colyn