Wys tans plasings met die etiket Hoe om te bid. Godsdiens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hoe om te bid. Godsdiens. Wys alle plasings

Dinsdag 24 Oktober 2017

Die Duif se Opregtheid


“Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die Ark; want die waters was oor die hele aarde.” Gen 8:9
 

Reg deur die Talmoediese literatuur word die Huis van Juda met ‘n duif vergelyk. Wanneer ‘n duif sy maat ontmoet, bly hulle vir altyd bymekaar. En wanneer sy op haar nes sit en iemand neem haar kuikens weg, sal altyd terugkeer na haar nes. Sy bly getrou. Deur oorlewering word die soeke van die duif na droë grond, beskou as simboliek met die Jode se soeke na vrede. Soos wat die duif uiteindelik rus gevind het, net so sal die Jode terugkeer na die land Israel.
            Die Jode het getrou gebly aan God, maar Jesus aanvanklik verwerp. Eers keer die Jode terug na die oorspronklike land en die profesie gaan in vervulling: Die Vyeboom bot. Nou gaan profesie in verdere vervulling en word die Jode in menigtes Wedergebore.  Hulle noem hulself Messiaanse Jode. Sulke gemeentes kom  nou reg oor die wêreld voor, selfs in SA. In en om Jerusalem is daar reeds 274 Joodse Christen gemeentes.
            Soos die duif van die Ark uiteindelik rus gevind het, vind die Huise van Juda en Israel ook rus en vrede in die Messias, Jesus Christus. Die Bybel is deurspek met verwysing na die duif, veral die tortelduif. In Matt 3:16 beleef ons weer die duif wanneer die Heilige Gees op Jesus in die doopwaters neerdaal. So word die duif ook vergelyk met die Heilige Gees... want daar is geen bitterheid in ‘n duif nie, waarskynlik omdat hy nie ‘n gal het nie.
            Daar is min simboliek so lank en ryk soos die van die duif. ‘n Duif is bv. nie ‘n slang nie, ‘n duif is opreg. Matt 10:16. So moet ons ook opreg wees Efes 6:5; Fil 2:15; Titus 2:7.

Woensdag 27 September 2017

En jou begeertes?


Image result for butterfly

Mens sien nooit dat skoenlappers in die roosters van neonligte vasvlieg nie, maar motte and goggas vrek in hope. Skoenlappers vlieg eenvoudig by die neonlig verby asof dit nie bestaan nie. As dit net voor die sonsondergang is, gaan sit die skoenlappers eerder op die blomme.

            ‘n Pastorale sielkundige skryf: Hy het 'n kort navorsing oor hartsbegeertes gedoen. Vir 'n student vra hy watter drie dinge begeer hy die meeste. Hy het geantwoord: "Boeke, gesondheid en stilte."

Elkeen het volgens sy gedragsomgewing eie begeertes gehad.
Vir 'n boemelaar was kos, klere, en warmte, een koue oggend die belangrikste.
Die antwoorde van mense uit 'n skare het neergekom op: "Rykdom, plesier, roem."
'n Handearbeider het gesê: "Meer loon, meer ontspanning, meer vermaak."

Toe vra hy vir 'n betreklik arm man wat oor 'n lang tyd die gedrag van 'n toegewyde Christen openbaar het. Hy het ook een woord geantwoord, maar toe daarop uitgebrei: "Christus. Maar ek sal dit op drie maniere sê. Ek wil graag in Christus wees, soos Christus wees en met Christus wees." "…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom gee ek alles prys …" Fil 3:8,9
            'n Mens is gelukkig as die Heilige Gees hierdie gesindheid in jou hart opgewek het. "Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons begeertes ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het…

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!... in Christus... het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee…" Efes 2:3-6

"Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie." Ps 73:25

Woensdag 22 Junie 2016

Oorvloedige seën wag op ons...


Image result for sa flag



 Die HERE wil die vensters van die Hemel oopmaak.


Die vurige gebed van die regverdige het groot krag. Jak. 5:16. Komaan, julle wat bid sonder vuur. Ons en die land is in ‘n krisis. Is julle nie al moeg vir alles nie? Nou kom, ons kan die situasie omkeer.
            Waar’s die reën? Die ekonomie vat-vat aan rommelstatus. Daar word gesê, en name word genoem, van die een en dan daai een wat SA sal red.
            Die wekroep wat moet uitgaan is: Onvoorwaardelik, Terug na God!
            Alle gebedsgroepe, moet met hernude ywer en drang en groter geloof na die Hemel roep. Dit moet wees soos ‘n magtige dreuning soos die volk in gebed ontwaak.
Die volgende is God wat praat in Maleagi 3, en die boodskap is vir nou.
“Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.
“Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.
“En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid 'n offer sal bring.
“Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.
“En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.
“Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.
“Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?
“Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
“Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
Let op: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.
En wat nog? “Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
“En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.
“Vermetel is julle woorde teen My, sê die HERE. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek?
Sommer onlangs is gehoor: “Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel?
“En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!
“Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
“En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien.
“Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”
Wanneer ons bid, dan kom die HERE God Jaweh se vermenigvuldende krag in werking en dan beleef ons dat gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak word.
  Dis nie die gebed as sodanig wat magtig is nie, maar die HERE God Yaweh is. Dis Hy wat belowe om groot en deurgrondelike dinge te doen as Sy kinders maar net sal bid.
  Met respek, die vrome aandgebedjies bring nie die verskil nie. Dit is die vurige gebede waarmee besigheid met God bedoel word, wat in grootse erns en besliste verwagting gebid word, wat die verskil  teweeg bring.
  Dat die HERE opsoek is na voorbidders maar hulle selde vind, word duidelik weerspieël uit die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
“Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenby tree nie,” asook Sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
“Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land... maar Ek het niemand gevind nie!”
Daar is drie dinge wat in ‘n voorbidder gesien sal word, wat nie noodwendig in gewone gebed  gevind sal word nie: vereenselwiging, sielesmart en gesag.
Die vereenselwiging van die voorbidder met diegene vir wie hy intree word op volmaakte wyse in Jesus self gesien.
Van Hom is gesê dat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
As die Goddelike Voorbidder wat vir ‘n verlore wêreld ingetree het, het Hy die beker van ons verlore toestand tot die laaste druppel geledig en “vir elkeen die dood gesmaak.”
Om in die volste sin van die woord dit te kon doen, moes Hy sit waar ons sit.
Vereenselwiging is dus die eerste vereiste van die voorbidder. Hy pleit met sukses omdat hy sy lewe gee vir diegene vir wie hy pleit. Hy is hulle verteenwoordiger. Hy het sy eie belang in hulle behoeftes en lyding laat wegsink en het sover moontlik letterlik hulle plek ingeneem.
Die tweede vereiste is sielesmart, want Hy, die Heilige Gees, “tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge.”
Mens lê dan alles op die altaar, want siele wat nie gered is nie, stort oor ‘n ewige afgrond, die helle dieptes in. Dan kruisig mens jouself met Christus. Jy lê alles af. Jy sterf. Nie ‘n teoretiese dood nie, maar ‘n egte kruisiging met Jesus. In die kruisigingsproses begin die voorbidding.
Let op hoe dat Moses, die jong voorbidder, uit vrye wil die paleis verlaat om hom met sy slawe-broers te vereenselwig.
Jesaja moes vir drie jaar lank “nakend en kaalvoet” loop as ‘n waarskuwing aan Israel teen die aakligheid en tragedie van gevangenisskap.
Esegiël is nie toegelaat om een traan te stort by sy vrou, die begeerte van sy oë, se dood nie.
En derdens moet ons met gesag bid. Ons is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag daartoe gee. Ons neem dus gesag oor die magte van die duisternis, ons bind en vervloek dit, en dryf  dit uit elke sektor van ons samelewing in die naam van Jesus Christus.
Ons berei die pad voor vir die Heilige Gees om mense se lewens binne te vaar en hulle om te keer.
Maar daar is ook ‘n laaste vereiste: Dat ons een(dragtig) sal wees. Waar ons oral saambid moet ons wees soos een wat gesamentlik ‘n swangerskap, ‘n dragtigheid dra.
Ons praat nie hier van eenheid nie want selfs nie ‘n getroude paar kan ‘n eenheid vorm nie. Eenheid beteken eendersheid, en dit kan tog nie. Ons het tog elkeen ons eie karakter en persoonlikheid. Maar ons kan eendragtig wees!
Elke keer wanneer die dissipels eendragtig in gebed  en in gees was, dan het die Here gewerk.
En wanneer mens vurig en in absolute verwagting bid, gebeur die volgende: “...9  aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal; wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde; om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
“Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie; wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
“Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
“So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
“So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
“Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
“Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
“In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.” Job 5:9-19
Wanneer moet ons bid? Begin vandag nog. Al is julle net twee of drie… die HERE sal daar teenwoordig wees om te hoor wat julle te sê het.
Verwag ‘n magtige Herlewing. –  Sjibbolet

Saterdag 10 Januarie 2015

RSA Christene kan hele land transformeer





Maar, God kan nie mismoedige mense gebruik nie!

Alhoewel mens dit nie aan die daagliks nuusblaaie en TV sal agterkom nie, is die Christendom die grootste beweging in die wêreld. Wanneer na die ontsaglike groei en impak van die Christendom wêreldwyd gekyk word, dan kan dit maklik beskryf word as “Die grootste storie wat ooit misgeloop is,” aldus dr. Peter Hammond van United Christian Action.
         
In die 2000-sensus het net meer as 32 miljoen inwoners van Suid-Afrika verklaar dat hulle Christene is.
            Hierdie Christene beskik oor ‘n dinamika potensiaal wat SA oornag kan transformeer.
            In Josua 1 is Moses dood. Die groot volksleier het weggeval. Dit was natuurlik dat die volk mismoedig sou wees.
            Maar luister:  God kan nie mismoedige mense gebruik nie!
            Kyk na die mismoedige Elia in 1 Kon,. 18:4-8. Let op die kontras tussen die Elia van Karmel en die Elia van die jenewerboom.
            In ons dag is die wekroep tot moed!
            “Maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan”.  Die wagwoord vir oorwinning is altyd  “Vorentoe.”  Onthou, daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie!
            God het aan Moses bevel gegee om deur die Skelfsee te trek (Ex. 14:13-16);  nou gee Hy opdrag aan Josua om deur die Jordaan te trek na die Land van die Belofte.  Baie mense kyk na Kanaän, maar wil dit nie waag om die land binne te trek nie.
            Kyk na Josua 1:3-5 oor inspirasie tot moed, en dan strofe 6 vir aansporing tot moed, en 7 vir die geheim van moed, en 8 vir die handboek tot moed, en 9 vir die rede vir moed, en 10-15 om moed te skep en 16-18 hoe moed reageer op moed.
Suid-Afrikaanse Christene sit aan die verkeerde kant van die Jordaan.  God se volk bestaande uit meer as 34 miljoen Suid-Afrikaners – 27.6 miljoen Swart, 2,9 miljoen Bruin, 204 800 Indiër, 3,6 miljoen Wit en 231 239 “ander” – hou die toekoms van ‘n totaal nuwe SA in hulle hande.
            Wat sou dit 34 miljoen Suid-Afrikaners baat om in ‘n sensus te verklaar dat hulle Christene is, maar God is nie in aksie in hulle lewens nie! Nie in aksie in hulle gemeenskappe nie!
            Dr Hammond kyk op sy beurt na die wêreldtoneel en wys onder meer op die volgende:
            “Die Kerk van Jesus Christus is ‘n wêreldwye beweging met verteenwoordigers in elke land van die wêreld.  Die Koninkryk van God het meer burgers as enige ander bevolking in die wêreld.
            “Dit het baie meer werknemers en “kliënte” as Coca-Cola, of Microsoft of General Motors.
            “Die gekombineerde wêreldwye bates van die Christendom beloop ver meer as die “Fortune 500” maatskappye.  Amerikaners gee 10 keer meer aan kerke en Christen-organisasies as wat hulle aan sport bestee.
            “Kerkbywoning in ‘n betrokke jaar is by verre meer in vergelyking met die getalle wat sportbyeenkomste bywoon.
            “Die Bybel is steeds die boek met die grootste verkope in die wêreld.  Geen ander boek kon nog ooit in die geskiedenis naby die Bybel se verkope kom nie.
            “Die Bybel word elke jaar in 18 tale nuwe tale vertaal. Agt uit elke tien mense op die aarde het reeds toegang tot die hele Bybel in hul eie taal.
            “Nege uit tien mense op die aarde het reeds in hul eie taal toegang tot die Nuwe Testament.
            “Mense van meer as 2 600 tale het reeds gedeeltes van die Bybel in hul eie tale beskikbaar.
            “Die Evangelie word in 250 tale deur middel van die radio verkondig. In die jaar 2000 is reeds 99% van die wêreld se bevolking met die Evangelie bereik deur middel van die radio, TV, kasetbande en video’s.
            “Die rolprent wat die meeste vertalings ondergaan het en deur die meeste mense al gesien is, is die JESUS film. Meer as 750 miljoen mense in 217 lande het al na die rolprent gaan kyk.
            “Op die oomblik is die JESUS film in 99% van die tale van die wêreld beskikbaar. “Slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is van die oes.”  Joh. 4:35.
            “Hierdie ongekende prestering is nog te meer besonders wanneer mens in ag neem dat na Jesus Christus se Hemelvaart, daar net 120 mense was wat bymekaar gekom het om te bid.
            “Binne ‘n paar dae is 3 000 siele bygevoeg.  Na drie eeue en tydens die vervolging deur die Romeinse Ryk, was daar reeds 10 miljoen belydende Christene.
            “Teen die einde van die eerste millennium het belydende Christene tot 50 miljoen aangegroei. Teen 1 800 het die lidmate van alle denominasies – Katoliek, Ortodoks en Protestants – tot 215 miljoen aangegroei.
            “In 1886 berig Pierson in sy navorsingswerk The Crises of Missions dat Bybelvertalings  in net 100 jaar se tyd van 50 tot 250 aangegroei het; sendingrade het van 7 tot 100 toegeneem en manlike sendelinge van 170 tot
3 000. Geldelike bydraes het van $250 000 tot $10 miljoen toegeneem en nuwe bekeerlinge van 50 000 tot 2.5 miljoen.                                                                
            “In 1795 het William Carey die moderne sendingbeweging begin en binne die bestek van ‘n eeu was daar in 1900 reeds 500 miljoen Christene wêreldwyd.
            “In die jongste eeu tot 2000 het die getalle aangegroei tot 2 biljoen.
            “Statistiek kan misleidend wees en die vraag kan tereg gevra word hoeveel van hierdie bekeerlinge waarlik wedergeborenes is?  Net God sal weet.
            “As  daar egter net ‘n fraksie van hierdie getalle waarlik ‘n intieme verhouding met God het, dan is dit steeds ‘n reuse getal.
            “Daar is niks in die wêreld wat vergelyk kan word met die groei van die Christendom nie, ook nie wat die sending betref nie, en nog minder wat die geestelike honger betref.
            “In 1970 het twee-derdes van die wêreld se Christene in Europa en Amerika gewoon.  Nou woon 75% van die wêreld se Christene in die nie-Westerse wêreld.
            “In Afrika was daar in 1900 altesame 10 miljoen Christene. Nou is daar 300 miljoen.
            “In Latyns Amerika was daar in 1900 altesame 50 000 Protestante.  Nou is daar 100 miljoen Protestante in Suid- en Sentraal Amerika.
            “In Sjina is daar daagliks 25 000 nuwe bekeerlinge, ten spyte van streng vervolging.
            “Die woorde van Christus gaan in vervulling: “…op hierdie rots sal Ek my gemeente bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”  Matt. 16:18
            “Die groot uitdaging vir die Christendom vandag is die dringende noodsaaklikheid van Bybelse lering.  Die Woord word oppervlakkig geëvangeliseer en diepte aan lering ontbreek.
            “Dit is veral vanuit Afrika waar ‘n organisasie soos United Christian Action ernstige pleidooie ontvang vir Christen boeke, nuusbriewe, traktate, kasetbande en radioboodskappe asook vir leierskap-opleidingskursusse.
            “Die ongebruikte potensiaal van die Christendom in die wêreld om die ganse aarde te transformeer, is onberekenbaar.
            “In die verlede het Godvresende Bybelse gelowige Christene ‘n einde gebring aan al die onheile soos kannibalisme, kinder-prostitusie, menslike brandoffers, slawerny, ens.
“Dink net wat kan gedoen word as die wêreldwye mannekrag van die Christendom met al sy geriewe en materiaal gemobiliseer kan word tot gebed en verootmoediging!
“En as God genadiglik ‘n Heilige Gees vervulde wêreldwye herlewing boonop laat plaasvind, sal die resultate asemrowend wees.
“Benjamin Franklin het gesê dat wie ook al die beginsels van die Christendom in die openbare sektor inbring, sal die beeld van die wêreld in totaliteit verander.
“Franklin het gesê die potensiaal is daar om die wêreld ingevolge die beginsels van die Bybel te regeer en bygevoeg:  Die Kerk is meeste van die tyd ‘n slapende reus, maar as die Kerk van Christus opgewek word dan sal reformasie en herlewing die ganse wêreld ten goede toe verander.”          

·       “As My volk – van meer as ‘32m’ in SA – oor wie My naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, dan sal Ek uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” – 2 Kron. 7:14.

God sê in Matt. 12:30 aan die meer as 34 miljoen Suid-Afrikaanse Christene: “Hy wat nie met my is nie, is teen MY; en hy wat nie saam met versamel nie, verstrooi.”
Hoe kan meer as 34 miljoen Suid-Afrikaanse Christene sê hulle is aan Sy kant, maar hulle laat na om die bitterste vyand  van onheil en misdaad teen te staan! Hoekom hoor ons nie die Christen-stem in alle sektore van die gemeenskap nie en nog minder in die raadsale?
Alle ware manne behoort ‘n besluit te neem, want ‘n verskriklike stryd is nou aan die gang en ‘n vloek sal rus op diegene wat neutraal staan.
Die tyd van powere pogings om SA uit sy misdaadhel te red is verby. Die vloedgolf van permissiwiteit, moord, roof, verkragting kapings, louheid, kan net deur die Christendom hokgeslaan word.
God het aan ons ‘n ruggraat gegee, nie ‘n wensbeentjie nie.
Nou het ons moed en deursettingsvermoë nodig, verootmoediging en gebed.
“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;
“en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Heb. 12:12-13. –  Sjibbolet

Wag – en weier om te twyfel





Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed voort na die einde en sal nie teleurstel nie.
As dit dalk vertoef,wag daarvoor, want alte seker sal dit kom en nie versuim nie. – Hab. 2:3

In die boekie Expectation Corner van Adam Slowman wandel Slowman deur GOD se skatkamers. Een van
die skatkamers is die Vertraagde Seëninge Kantoor, waar GOD in Sy wysheid sekere dinge wat voor gebid
word terughou tot op ‘n bestemde tyd.

Dit neem baie van ons soms te lank om te besef dat vertraging nie weiering beteken nie.

Baie van ons pluk ons seëninge nog groen in die mandjie, soms lank voordat dit ryp is.

Jes. 30:18 …Welgeluksalig is almal wat op Hom wag

Die HERE waak oor ons struikelgang en Hy sal nooit toelaat dat ons bo ons kragte beproef word nie.

Ons durf nie in Sy Liefde twyfel nie. Ons moet onsself ophef en Sy naam grootmaak in lofprysinge want
die antwoorde en die oorvloed is beslis op pad.

Jes. 40:28-31 … Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende;
hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

En dan die belangrikste: Weier om te twyfel, want hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die
HERE kan ontvang nie. Jak. 1:7

Die werklikheid is dat die Christen geen keuse in ‘n aangeleentheid moet hê as suiwer om positief te
bly en op God te vertrou nie.

Die teenkant van die saak is dat as ons nie positief bly en God 100% vertrou nie, dan twyfel ons en
dan kan ons niks – nie eers iets nie – van die HERE verwag nie.

Ons bid dan en vra God se wil. Hy kan nee sê of Hy mag ja sê. Die belangrikste daarna is God se
tydskedule. As dit Sy wil is sal Hy sy Woord gestand doen en die antwoord gee. Vir seker!

As ons egter intussen begin twyfel, dan gebeur niks want God laat hom nie bespot nie. Of ons glo
en vertrou Hom as ‘n waarmaker van sy Woord, of ons bevraagteken Hom of ons twyfel.

Besluit nou en besluit finaal: Ek gaan God vertrou, ek gaan nooit weer twyfel nie! –Sjibbolet