Dinsdag 24 Oktober 2017

Die Duif se Opregtheid


“Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die Ark; want die waters was oor die hele aarde.” Gen 8:9
 

Reg deur die Talmoediese literatuur word die Huis van Juda met ‘n duif vergelyk. Wanneer ‘n duif sy maat ontmoet, bly hulle vir altyd bymekaar. En wanneer sy op haar nes sit en iemand neem haar kuikens weg, sal altyd terugkeer na haar nes. Sy bly getrou. Deur oorlewering word die soeke van die duif na droë grond, beskou as simboliek met die Jode se soeke na vrede. Soos wat die duif uiteindelik rus gevind het, net so sal die Jode terugkeer na die land Israel.
            Die Jode het getrou gebly aan God, maar Jesus aanvanklik verwerp. Eers keer die Jode terug na die oorspronklike land en die profesie gaan in vervulling: Die Vyeboom bot. Nou gaan profesie in verdere vervulling en word die Jode in menigtes Wedergebore.  Hulle noem hulself Messiaanse Jode. Sulke gemeentes kom  nou reg oor die wêreld voor, selfs in SA. In en om Jerusalem is daar reeds 274 Joodse Christen gemeentes.
            Soos die duif van die Ark uiteindelik rus gevind het, vind die Huise van Juda en Israel ook rus en vrede in die Messias, Jesus Christus. Die Bybel is deurspek met verwysing na die duif, veral die tortelduif. In Matt 3:16 beleef ons weer die duif wanneer die Heilige Gees op Jesus in die doopwaters neerdaal. So word die duif ook vergelyk met die Heilige Gees... want daar is geen bitterheid in ‘n duif nie, waarskynlik omdat hy nie ‘n gal het nie.
            Daar is min simboliek so lank en ryk soos die van die duif. ‘n Duif is bv. nie ‘n slang nie, ‘n duif is opreg. Matt 10:16. So moet ons ook opreg wees Efes 6:5; Fil 2:15; Titus 2:7.