Donderdag 12 Oktober 2017

Twee soortgelyke gebeurtenisse


Image result for 2 Kor 4:6

In Dictionary of Illustrations vertel Walter Baxendale dat dr. Simpson, wat in 1862 die gebruik van chloroform ontdek het, 'n geliefde seun aan die dood moes afgee.

Die jong seun was 'n belydende Christen met 'n blye vertroue in Jesus Christus as sy Verlosser. Die manier waarop sy seun gesterf het, sy geloof en vrede en geduld, het hierdie briljante mediese pionier diep beïndruk.

In sy hart het die dokter tot die gevolgtrekking gekom dat blywende gemoedsvrede en ware blydskap slegs in Christus gevind kan word. In die ure van sy sterwe het die jongman getuig dat die vrolikheid van die wêreld verbygaande en onseker is; dat die wêreld se plesier en vermaak slegs, in sy woorde, vergulde droefheid is.

Die vrede wat Jesus met Sy bloed gekoop het, is so ewig en blywend soos Sy troon. Toe hy sterf het die seun gesê: "Hoe heerlik en kosbaar is dit nou vir my om van Jesus te praat."

Die dokter, sy vrou en die ander kinders het rondom die bed gekniel en dr. Simpson het gebid dat hulle huidige beproewing hulle almal net nader na God sal trek: "Ja, dierbare Jesus, Jamie se God sal nou ons God wees en ons wil vir U getuig soos Jamie dit gedoen het."

Byna 80 jaar gelede is ‘n mediese dokter en sy vrou se tweejarige dogtertjies voor hulle huis in Kaapstad deur ‘n ambulans doodgery.

Hulle besluit na die begrafnis om vir ses maande oorsee te toer om oor hul groot verlies te kom.
Die eerste week bring hulle in die Switserse Alpe deur. Elke oggend voor ontbyt gaan stap hulle ‘n ent. Op een plek loop ‘n klein stroompie water oor die pad. Hulle spring met gemak daaroor.
Op pad terug elke oggend kom ‘n skaapwagter met sy skape ook daar verby en die skape stap met gemak agter die herder aan deur die stroompie.

Een oggend was die stroom te breed en die dokter en sy vrou kon nie daar deur nie. Hulle wag om te sien wat die skaapwagter met sy skape gaan maak.

Die skaapwagter het deurgeloop, maar die skape wou nie. Toe stap hy met moeite terug en gaan haal ‘n lammetjie. Terug aan die oorkant het die lammetjie erg begin blêr. Haar ooi het toe die stroom gedurf en deurgekom en die ander skape het gevolg.

Daardie oomblik praat die HERE te duidelik met die dokter en sy vrou: “Ek het julle lammetjie ook net oorkant toe geneem om seker te maak julle kom ook hierdie kant aan.”

Hulle is in trane gered en ‘n paar dae later terug in die mooie Kaap, verlos en vol blydskap.
            Dit is soos 'n lig wat ons hart inskyn wanneer ons die verlossing in Christus ontdek en die waarde en krag van Christus se sterwe en opstanding, deur die Heilige Gees, ons eie ervaring word.
Die HERE gebruik baie maniere om hierdie lig na ons harte toe te bring. "Dit was die bedoeling van God in Sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in Sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié wat glo, te red." 1 Kor 1:21

Soms bereik die HERE nie op hierdie gewone manier mense se harte nie. Dan gebruik die HERE in Sy genade op 'n ander manier om by hulle uit te kom.

“Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.  2 Kor 4:6