Donderdag 19 Oktober 2017

Die Genadekoets...

         
Uit Wilhelm Busch se Licht vom Unerschöpften Lichte  vloei die volgende storie:

Die prediker, Pastor Henhöfer wat in die 18e eeu opgetree het, het op 'n keer die poskoets as voorbeeld gebruik om God se geduld met ons te illustreer.



Destyds was daar nog nie treine nie, maar een keer elke week loop 'n poskoets tussen dorpe. Die poskoets staan dan, soos almal op die dorp dit weet, op die poskoets se halte en wag vir passasiers om op te klim. Daar is 'n klompie van die mense wat betyds kon opklim.
Die koets behoort eintlik nou te ry, maar die drywer dink by homself: "Miskien is daar iemand wat opgehou is." Dus neem hy sy tyd. Ewe rustig haal hy die komberse van die perde af. En werklik, daar kom nog iemand aangehardloop en klim in.
Nou gaan die drywer ewe rustig op die bok van die koets sit – en daar kom nog iemand aan gehaas en maak dit net. Nog talm die drywer 'n bietjie.
Eindelik neem hy dan die beuel en speel sy poskoets deuntjie klaar. Dan vertrek hy. Skaars is die poskoets by die stadpoort uit of twee passasiers kom uitasem by die poskoets halte aan.
Hulle het in die dorp met inkopies besig geraak... Daar staan hulle nou. Die koets is weg. Hulle is te laat!
Dan maak Pastor Henhöfer sy toepassing: "So is dit ook met die Genadekoets van ons Heiland! Hy wag ook lank op jou. Hy talm ook jou uur uit, solank Hy kan. Maar jy kan ook die tyd verpas!"
            Ons het in die Bybel die verhaal van 'n man wat byna te laat was, maar is wonderlik deur Jesus ingewag, of dalk ingehaal, en hy kon betyds inkom.
Die een misdadiger aan die kruis. Op die laaste tippie kom hy in. Maar die ander een verpas dié groot geleentheid.
"Toe hulle by die plek kom wat kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan Sy regter- en die een aan Sy linkerkant. Toe sê Jesus: 'Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!'
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom belaster...'Is jy nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!'
Maar die ander een sê... 'Jesus dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.' Jesus antwoord hom: 'Ek verseker jou; vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.'" Sy bitterste dag, word sy soetste dag!
            Moenie die Heilige Gees se werking in jou hart weerstaan en talm nie. Roep die HERE jou nou deur die dringende werking van Sy Gees in jou hart?
   “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. “ Heb 12:12-15
  "Vandag as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..." Heb 3:15 Wanneer die Basuin blaas, gaan dit te laat wees... vir altyd!