Donderdag 12 Oktober 2017

‘Dit is waar!’


Image result for vrag steenkool

Gedurende ’n koue winter in een van die min­der gegoede dele van Europa, het ’n ryk man hom ontferm oor die armes en besluit om ’n paar vrag­te steenkool te bestel en ’n ¼-ton by elke huis in die agterbuurt te laat aflaai, aldus Die Spoorwegbode van November 1981.

            Die steenkoolwa hou by die eerste huis stil en die drywer klop aan die deur. ’n Man maak die deur oop. Die drywer sê vir hom hy het vir hom ‘n ¼-ton steenkool gebring, waar moet hy dit aflaai. “Van wie af kom dit?” vra die man. Die drywer trek sy skouers op. “Ek weet nie. Ek is net aangesê om dit hier te kom aflaai. “Vat dit weg. Dis nie vir my nie,” reageer die man. “Maar dis tog u adres? Kyk.” “Ja, maar dis ’n fout. So ’n geluk kom my nie oor nie. Nee, ek wil niks daarmee te doen hê nie.” Daarmee maak die man die deur toe en gaan terug na sy koue, dooie vuurherd toe.

            Die steenkoolwadrywer het van huis tot huis ge­ry, en ongelooflik, niemand wou van die aanbod gebruik maak nie. Hulle kon nie glo iemand sou dit  verniet vir hulle stuur nie.

Eindelik hou die drywer voor die huisie van ’n ou tannie stil en bied weer die steenkool aan. “Vir my?” vra sy vol verbasing. “Dit moet seker vir iemand anders wees.” “Nee, mevrou, hier is u nommer, duidelik genoeg – nr.8, ’n ¼-ton steenkool.” Die vrou lees dit in sy boekie, swart op wit.
“Dis waar!” roep sy. “Wel, dan het God dit vir my gestuur. Net Hy weet ek het nie ’n stukkie steenkool oor nie. Bring dit in, asseblief. Ek wil Hom dank!” “U moet,” antwoord die drywer.
By homself dink hy: “Sy is die enigste verstandige onder die klomp. Die ander is almal dwase om ’n geskenk wat swart op wit gegee word, sommer so af te dank.”

            Die steenkool is deur die gewer gekoop en betaal en aan behoeftige mense geskenk. Hulle weier die gawe wat vir hulle soveel aangenaamheid kon bring! Net so is ons verlossing ook gekoop en betaal met die kosbare bloed van die Seun van God, en tog weier mense hierdie groot gawe, wat vir hulle soveel geluksaligheid sou bring, en wat in die Bybel duidelik geskryf staan, aan te neem.

            Hoekom het die mense die geskenk so afgewys? Miskien trotsheid, miskien wantroue. Feit is egter: hulle het duidelik geantwoord: dit is nie vir my nie, dankie! Moenie self hierdie fout met die HERE Jesus se aanbod van sy groot redding maak nie. Neem dit. Sê: Dankie!

            “Kom… selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal… “ Jes.