Vrydag 20 Oktober 2017

Waarvoor sal jy onthou word?


“En in Joppe was daar 'n sekere vroue dissipel met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken dit Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het, veral vir die weduwees en armes.
            En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê.
Lydda
Lydda

            En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom.
            En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.
            En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.
En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.” Hand 9:36-41
            Nicholas Halasz word in Robert Raines se boek, Creative Brooding, aangehaal, om 'n storie oor Alfred Nobel te vertel.
Een oggend in 1888, lees Alfred Nobel, die man wat deur sy uitvinding van dinamiet beroemd geword het, sy eie doodsberig in 'n oggendkoerant.
Hy het volgens die berig glo 'n fortuin versamel deur sy vervaardiging en bemarking van wapens.
Die doodsberig was 'n joernalistieke flater. Alfred se broer is oorlede, maar 'n koerantman het sonder om verder ondersoek in te stel, dit as die dood van Alfred aangekondig.
 Alfred_Nobel3
Alfred_Nobel3
Alfred Nobel
Enige mens sal ontsteld wees om jou eie doodsberig in 'n koerant te lees. Vir Alfred Nobel was dit 'n oorweldigende skok, want in die berig het hy homself gesien, soos die wêreld hom sien.
In Nicholas Halasz se woorde: “ Die dinamiet koning (die wapenmaker), die nywerheidsreus wat ‘n magdom verdien het uit plofstof. Dit, volgens die algemene publiek, was die uitsluitlike doel van sy lewe.”
Nie een van sy werklike motiewe... “om die hindernisse wat mense en idees geskei het af te breek” is in die doodsberig genoem nie.
In die oë van die publiek was hy 'n 'handelaar in die dood’. Daarvoor sou hy onthou word.
Terwyl hy die berig met geskokte afgryse lees, neem hy hom voor om die werklike doel van sy lewe aan die mense te vertoon. Dit gaan hy doen, besluit hy, met die bemaking van sy fortuin in sy testament.
In sy testament is sy enorme fortuin in vyf verdeel en elkeen van die vyf dele sou vir altyd uitbetaal word aan presteerders op die gebied van: Fisika,  Chemie, Sielkunde of Medisyne, Literatuur en Vrede... alles solank die mensdom voordeel daaruit kon trek.
Die man het die einde van sy skatte nie geken nie. Hy het tot by sy afsterwe in 1896 altesame 355 uitvindsels wêreldwyd patenteer
Charles R. Swindol, skryf in sy Ultimate Book of Illustrations:  “Soms wonder ek wat sou gebeur as my doodsberig ewe skielik sou verskyn. Dink vir ‘n oomblik as jy jou eie doodsberig sou lees... waarvoor is jou lewe bekend? Hoekom sou mense jou onthou?
Ons lewe, is soos 'n man wat by die strand terugkyk hoe hy oor die sand geloop het. Hy sien sy spore presies soos hy geloop het. Terwyl hy kyk, kom 'n brander en spoel oor sy spore. Toe is daar ongerepte, gladde sand. Deur God se liefde en die groot verlossingsprys wat die Here Jesus Christus betaal het, hoef ons verlede ons ook nie meer te verskrik nie. Soos die brander wis God se vergifnis ook ons misdade uit.
"Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons, ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie..." Ps 103:10
Maar meer: Ons kan met die hulp en krag van God deur die Heilige Gees, dit wat van ons lewe oor is, aanwend tot heil en vreugde van mense in ons omgewing. Daarvoor sal ons onthou word.