Maandag 30 Oktober 2017

Word Sy kind!

Image result for Rom 8:15Ken jy God ook net op ‘n afstand?


Steve Flaig, van Grand Rapids, Michigan, het geweet hy is 'n aangenome kind. Op sy 18e verjaarsdag besluit hy om uit te vind, wie sy regte ma is. Sy aanneemouers, Pat en Lois Flaig, het hom in sy voorneme gesteun.

Pat Flaig het by DA Blodgett for Children, die agentskap wat Steve se aanneming hanteer het, vir agtergrond inligting aangeklop. 'n Paar maande later kry hy Steve se eie ma se naam, Christine Tallady. Sy was enkel en baie jonk toe Steve gebore is. Sy het die aannemingsrekord laat oop bly, met die hoop haar seun eendag na haar sal soek.

            Na Steve sy eie ma se naam gekry het, het hy op die Internet na haar woonadres begin soek. Sonder sukses. Na vier jaar ontdek hy, hy spel haar naam verkeerd as Taladay, terwyl sy Tallady is. Eers toe kry hy haar adres.

Dit was minder as 'n 2km van Lowes Store af, waar hy werk, af. Opgewonde vertel hy dit die volgende oggend vir sy baas by Lowes Store. Verbaas sê sy baas: "Bedoel jy Christine Tallady, wat hier werk?” Steve was stomgeslaan.

Steve sê hieroor: “Vir ‘n paar weke het ek om haar geloop en haar goed dopgehou, maar nie geweet hoe ek haar  moet benader nie. Sou ek eenvoudig na haar toe stap en sê ‘hi, ek is Steve jou seun?’ En wat sou gebeur as sy my verwerp?”

Op Vrydag 14 Desember 2007, ontmoet Steve en Christine, wat mekaar al so lank op 'n afstand ken, mekaar as moeder en kind! "Dit was ‘n wonderlike ontmoeting, maar ‘n tranedal,” het Steve later vertel.

As ons God net op 'n afstand ken, soos Steve en sy ma, kan ons deur die HERE Jesus Christus as 'n eie kind naby aan God kom. Vertrou in Jesus as jou Verlosser. Sê vir Hom, hardop of in jou hart: "HERE Jesus, red my, asseblief." En word 'n naby kind van God deur Sy Gees in jou hart.

            “Die Gees... laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak...” Rom 8:15.