Vrydag 27 Oktober 2017

Jou boggelrug flaters


Image result for Jesaja 50:9


Op Sondag 5 September 1971, wou Pastoor Ray Stedman sy preek “Die Weg na Volheid” beter toelig, om God se getrouheid, liefde en krag te beklemtoon…

Hy vertel: 'n Klein boggelrugseuntjie het saam met al sy maats 'n paar Bybelverse uit die kop geleer.
By die aanddiens kry die kinders geleentheid om hul tekse voor te dra. Boggelruggie wil soos die ander, ook op die verhogie voor die preekstoel klim, om sy teks op te sê. Hy struikel op die verhoog.
Een van die seuns in die gehoor sien dit en hy skreeu uit: “Hi boggelrug, hoekom raak jy nie ontslae van die vrag op jou rug nie!”

'n Mens kon 'n speld hoor val, toe die seuntjie stop en in trane uitbars.

'n Man staan in die middel van die gemeente op en stap na die verhoog toe. Hy sit sy arms om die seun. Hy sê: "Ek weet nie watter soort mens so iets sou sê nie, maar ék wil net sê, die dapperste persoon in hierdie kerk vanaand, is hierdie seuntjie. Hy is my seun en ek is trots op hom."
Met daardie woorde buig hy af en tel die seuntjie op en dra hom na sy sitplek toe.
Past. Stedman sluit af met hierdie woorde: "Dit is presies wat God vir ons doen. In die gekneusde, boggerug ellende van ons lewens, prober ons, ons bes… en dan struikel ons en ons val en alles eindig in ‘n gemors. Dan kom Jesus en Hy sê: “O’ jy is myne, Ek is so trots op jou.”

Die HERE se Woord bevestig hierdie beskerming van die HERE vir almal wat Hom wil dien. "Die HERE my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?"Jes 50:9

"Daarom kan ons met vertroue sê: 'Die HERE is my helper, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen?'" Heb 13:6. Laat ons met ons gebreke en al die HERE dien en Sy werk doen.
“Die HERE is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied." Ps 28:7

·       Ons is nie geroep om te verstaan nie, ons is geroep om te Vertrou!