Vrydag 13 Oktober 2017

My Anker...


Image result for Anker

'n Goeie en gerespekteerde man in die omgewing was siek, vertel Christian Herald die storie. Sy vriende het gekom, om hom te troos en te bemoedig. Hulle het sy goeie lewe in gedagte gehad, sy goeie dade en hoe hy prakties en aktief, in die kerklike lewe deelneem, om Christus se volgelinge te beskerm en op te bou.

Toe hulle wou vertrek bid een van hulle vir hom. "HERE", bid die man, "U weet hoe lief hy U het."

Hy val die bidder in die rede:
"Nee, vriende," praat die man van sy bed af, "moet dit nie so sê nie. Toe Marta en Maria, die boodskap oor Lasarus se siekte, na Jesus toe gestuur het, het hulle nie laat weet: 'HERE, hy wat vir U liefhet is siek nie.' Hulle het laat weet: 'HERE, hy vír wie U liefhet, is siek.' Dit is nie my gebrekkige liefde vir Jesus wat my moed gee nie, maar Sy groot liefde vir my. Dít is my krag en vashouplek."

            Dit is ook die raad, wat die groot prediker Mark Guy Pearse, vir 'n bekommerde jong meisie gegee het. Sy het met haar geestelike behoefte na hom toe gegaan. "Ek weet ek het Jesus in my lewe aangeneem," kla sy, "maar ek kry nie reg om Hom regtig lief te hê nie."

Mark Pearse het haar geantwoord: "My dogter, moenie aanhou aan jóú liefde vir Jesus dink nie. Sê oor en oor vir jouself: 'Jesus het my lief.'

Kom spreek my weer môreoggend."

“Toe sy die volgende oggend kom om hom te sien, was dit nie nodig om hom te vertel van die verandering in haar gemoed nie. Sy was stralend. Die Heilige Gees het die liefde van Jesus wyd in haar hart en gemoed versprei.”

            Jesus het vir Sy dissipels vertel Hy het hulle lief. Dit is die geloof wat ons nodig het. Glo aan Jesus se liefde vir jou. Sê dit in eie hart. Die Heilige Gees sal dit beaam en in die hart oorwinning bring.

            “Hy het Sy eie mense wat in die wêreld is liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad." Joh 13:1