Woensdag 25 Oktober 2017

Vrymoedigheid


In die glorieryke dae van die Romeinse Ryk het die keiser 'n triomftog deur die hoofstraat van Rome gelei.
Sterk soldate moes aan weerskante van die straat, die jubelende skare van die keiser af weghou. 'n Platform is langs die straat opgerig, vanwaar die keiserlike gesin sonder ongerief die optog kon dophou.
Net toe die optog regoor die keiserlike platform kom, spring die keiser se sesjarige seuntjie op, storm die platform af en nael tussen die mense deur straat toe.



'n Soldaat kry hom uiteindelik beet. "Waarheen gaan jy? Dis die keiser. Bly weg daar!" skreeu hy vir die seuntjie.
"Dis nie! Dis my pa! Los my!" skreeu die seuntjie vir hom terug, ruk homself los en hardloop verder.
Die soldate en die skare het respek en vrees vir die man op die keiserlike koets gehad.
Die keiser se seuntjie het egter vrymoedigheid en liefde vir sy pa gehad. Hy weet dit is die keiser, maar vir hom is dit sy pa.
            Die Heilige Gees, die Gees van aanneming, wek in die hart van die mens wat in Jesus Christus as sy Verlosser glo, hierdie besondere vrymoedigheid.
“Maar aan almal wat Hom (Christus) aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Joh 1:12
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” 1 Joh 3:1
“En omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘'Abba!’ Dit beteken Vader!" Gal 4:6
Vrymoedigheid, ja, let op: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God....En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra.” 1 Joh 5:1,14
'n Kind vra, en 'n vader gee. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?” Matt 7:9-11
As enigiemand of enigiets jou wil verhinder om na jou Vader te gaan, dan weet jy wat om te doen... skreeu en ruk los!