Wys tans plasings met die etiket 'n Kind van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 'n Kind van God. Wys alle plasings

Woensdag 25 Maart 2020

Jy is God se spesiale Skepping


Jy is 'n spesiale skepping van God! Jy moet weet God het jou lief en wil 'n persoonlike verhouding met jou hê.

            “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.

            “Ek loof U, omdat ek so ontsettend wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.” Ps 139:13-14

            "Want so lief het God die wêreld gehad dat hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe. " Joh 3:16

            Maar alhoewel God ons geskep het, skei ons sonde ons van Hom. Jou sonde  verhoed jou om 'n persoonlike verhouding met God te hê.

            "Want almal het gesondig, en kom kort aan die heerlikheid van God. " Rom 3:23

            "Daar is niemand regverdig nie, nie eens een nie; Daar is niemand wat verstaan nie, niemand wat God soek nie. Almal het weggedraai, hulle het saam waardeloos geword; Daar is niemand wat goed doen nie, nie eens een nie." Rom 3:10-12

            Ons sondig dalk nie meer as ons naaste nie, of ons kan baie erger wees as enigiemand wat ons ken, dit maak nie saak nie. Ons is skuldig voor God. Punt.

            Die loon van die sonde is die dood. Dit is nie net fisiese dood nie – maar geestelike dood. Die dood is ons regverdige betaling vir ons rebellie teen God. Dit is die straf wat ons verdien.

            "Want die loon van die sonde is die dood, maar die gawe van God is die Ewige Lewe in Christus Jesus, onse Here." Rom 6:23

Jesus het na die aarde gekom en 'n volmaakte sondelose lewe geleef. Hy is gekruisig selfs al was hy heeltemal onskuldig. Hy het die straf wat ons verdien het, ontvang. Hy was die volmaakte Offerande, hy was in ons plek geplaas en het homself die vonnis van die dood wat ons s'n moes gewees het op hom geneem.

            "Maar God bewys sy liefde vir ons daarin: toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf." Rom 5:8

"Want Christus het vir altyd vir die sondes gesterf, die regverdige vir die onregverdiges, om julle by God te bring." 1 Pet 3:18

Na drie dae, het Hy uit die graf opgestaan en later opgevaar na die Hemel. Hy sal terugkeer vir al diegene wat op hom vertrou as hulle Verlosser.

"Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, selfs al sterf hy ..." Joh 11:25

Jy moet verstaan dat jy persoonlik Jesus Christus moet vertrou om jou Verlosser te wees. Jy moet erken dat jy 'n sondaar is, werklik begeer om jou rug op daardie sonde te draai en Hom te vra om jou te vergewe. As jy dit doen, belowe hy om jou te vergewe.

"Maar aan almal wat hom aangeneem het, aan diegene wat in sy naam geglo het, het hy die reg gegee om kinders van God te word." Joh 1:12

As jy 'n persoonlike verhouding met Jesus wil begin, kan jy 'n gebed iets soos hierdie sê:

"Vader, ek weet dat ek 'n sondaar is en dat die loon van die sonde die dood is. Dankie dat U Jesus gestuur het om in my plek te sterf en weer op te staan om my lewende Verlosser te wees. Vergewe my van my sonde. Ek vertrou op U, want U is die enigste een wat my kan red. Kom in my lewe, neem weg my sonde en help my om te lewe soos wat dit U behaag. Dankie vir U geskenk van die Ewige Lewe. In Jesus se naam, amen.  "

            Dit is belangrik vir jou om te begin om te groei in jou verhouding met Jesus. Neem tyd om betrokke te raak by 'n plaaslike kerk – waar jy kan groei in jou kennis van die Bybel en die vriendskap en ondersteuning van ander Christene geniet.

“...en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” Hebr 10:23-25 – Wekroep

Maandag 10 September 2018

Sien jou kinders Jesus in jou?


Image result for Dad and son watching tv


Die seuntjie vra aan sy beskonke pa: “Pappa, hoe lyk Jesus?” Die pa kan nie antwoord nie en maak of hy TV kyk terwyl hy nog ‘n bottel oopmaak.

Die dogtertjie vra ook: “Pappa, lyk liewe Jesus soos jy? Ek wil graag vir liewe Jesus sien wanneer ek na pappa kyk. Vir die pa raak dinge eens te erg en snou die kinders uit die sitkamer uit.

'n Man het een nag by 'n plattelandse gesin oornag. Die oulikheid en mooi maniere van die mense se seuntjie van 5 jaar, het hom groots beindruk.

Die volgende oggend ontdek hy die rede vir die kind se goeie gedrag. Die ma was in die kombuis besig om die roomafskeier te was, toe die seuntjie met 'n boek in die hand by haar inkom. "Ma," vra hy, "wat maak die man hier in die prent?"

Tot die kuiergas se verbasing, staak sy haar werk, droog haar hande af, hurk by hom en saam met hom kyk sy na die prent en verduidelik wat in die prent aangaan. Na die kind weer die kombuis verlaat het, gaan hy na die ma toe en spreek sy verbasing uit dat sy haar werk onderbreek het en soveel tyd aan die seuntjie bestee het.

"Meeste ma's sou vir hom gesê het om te gaan speel en later na haar toe te kom." Die vrou het geantwoord: "Ek verwag om nog vir baie jare elke oggend die roomafskeier te was, maar my seuntjie sal my dalk nooit weer daardie bepaalde vraag vra nie. Ek kon so 'n geleentheid nie verby laat gaan nie."

Dit is 'n goeie geleentheid om op so 'n stadium, die Here Jesus en Evangeliewaarhede by ons kinders tuis te bring. Die voorbeeld wat dan ook, met ons eie lewe en toewyding aan die HERE gestel word, is belangrik.

Die digter, Samuel Coleridge, en 'n vriend het in Coleridge se tuin gestap en die gesprek het oor die opvoeding van kinders gegaan.

Die man sê vir Coledridge, "Ek leer my kind niks oor godsdiens nie. Dis 'n moeilike onderwerp en hy moet self, as hy eers groot is, sy keuses maak."

Juis toe stap hulle by 'n pragtige bedding aarbeie verby. Coleridge sê: "Ek wou die onkruid laat uithaal, maar jy het my nou goeie raad gegee. Ek gaan wag tot die aarbeie eers groot is."

"Dan sal die onkruid die oorhand hê!" sê die man verbaas.

"My vriend, wat dan van jou kind?" vra die digter sag.

'n Man het by sy leraar se studeerkamer ingeloop. "My dogtertjie is skielik vanoggend dood," sê hy verslae. "Ek hoop sy is na God toe.

Wat sal sy vir God sê?

In haar pa se huis en van haar pa se lippe het sy nooit 'n gebed gehoor nie. Ag, as ek haar net een dag weer by my kan hê," sug die pa erg bedruk.

Gebedlose huise, gebedlose ouers, stilte in die huis wat die vermelding van Jesus se Naam as ons Verlosser en elke mens se ewige toekoms betref, is vir 'n kind 'n onberekenbare terugslag.

Is jou klein kindertjies nog by jou? Jou kleinkinders? Maak gebruik van die geleentheid om hulle na Jesus te lei.

"Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die Koninkryk van God... En Hy het Sy arms om hulle geslaan en hulle geseën." Mark 10:14,16

Pa, jy is die Hoë Priester van jou huis. Is daar ‘n huisaltaar? Is jy die voorganger soos dit hoort?

As daar nie ‘n Huisaltaar (Boekevat) aand is nie, vertel die kinders daarvan, vra om verskoning dat julle dit nou eers gaan begin. Sing heerlik saam en bid heerlik saam. Elkeen moet bid.

Jesus sal dit elke keer bywoon. – Sjibbolet

Dinsdag 24 Oktober 2017

Die Duif se Opregtheid


“Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die Ark; want die waters was oor die hele aarde.” Gen 8:9
 

Reg deur die Talmoediese literatuur word die Huis van Juda met ‘n duif vergelyk. Wanneer ‘n duif sy maat ontmoet, bly hulle vir altyd bymekaar. En wanneer sy op haar nes sit en iemand neem haar kuikens weg, sal altyd terugkeer na haar nes. Sy bly getrou. Deur oorlewering word die soeke van die duif na droë grond, beskou as simboliek met die Jode se soeke na vrede. Soos wat die duif uiteindelik rus gevind het, net so sal die Jode terugkeer na die land Israel.
            Die Jode het getrou gebly aan God, maar Jesus aanvanklik verwerp. Eers keer die Jode terug na die oorspronklike land en die profesie gaan in vervulling: Die Vyeboom bot. Nou gaan profesie in verdere vervulling en word die Jode in menigtes Wedergebore.  Hulle noem hulself Messiaanse Jode. Sulke gemeentes kom  nou reg oor die wêreld voor, selfs in SA. In en om Jerusalem is daar reeds 274 Joodse Christen gemeentes.
            Soos die duif van die Ark uiteindelik rus gevind het, vind die Huise van Juda en Israel ook rus en vrede in die Messias, Jesus Christus. Die Bybel is deurspek met verwysing na die duif, veral die tortelduif. In Matt 3:16 beleef ons weer die duif wanneer die Heilige Gees op Jesus in die doopwaters neerdaal. So word die duif ook vergelyk met die Heilige Gees... want daar is geen bitterheid in ‘n duif nie, waarskynlik omdat hy nie ‘n gal het nie.
            Daar is min simboliek so lank en ryk soos die van die duif. ‘n Duif is bv. nie ‘n slang nie, ‘n duif is opreg. Matt 10:16. So moet ons ook opreg wees Efes 6:5; Fil 2:15; Titus 2:7.

Donderdag 19 Oktober 2017

Die Engel en jy wat die HERE dien


Image result for angels of god

As jy die HERE God YAWEH dien, dan slaan sy Engel laer op rondom jou.

            Dawid stel dit so: “Die Engel van die HERE slaan sy laer op rondom dié wat die Here (let op) dien, (om wat te doen?) en red hulle. (Dan die uitnodiging) Kom ondervind en sien dat die HERE goed is (hoekom?)Want dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil." Ps 34-8-9
            Ernest Gordon vertel hoe William Hacquist en die werkers van die Evangelical Alliance Mission, gedurende die Boxeropstand in Sjina, van die moordadige Chinese opstandelinge ontsnap het.
Ses dae lank het hulle voor die bendes uitgevlug, maar toe bereik hulle 'n punt, waar hulle moes kies of hulle sal voortgaan om oor land, tussen die berge deur, te vlug en of hulle met bote met die rivier sal afvaar.
Weens die droogte was die Hanrivier droog. Die vlug oor land het die aangewese roete geblyk te wees, want hulle draers en wagte, wat hulle moes beskerm, het geweier om anders as oor land, tussen die berge deur, te vlug.
Die vlugtendes bevind hulself in ‘n groot krisis. Dit gaan lewe of dood. Die vyand kom al hoe nader en die manne moet vlug om voor te bly.
Dan kom die berusting... ‘n tyd van gebed en op die HERE wag. Dis ‘n moeilike besluit wanneer jou lewe aan ‘n draadjie hang, maar dis veiliger om op die HERE te wag.
Tydens die gebed en wag, het daar in William Hacquist en die ander werkers se harte, 'n bewussyn ontwaak om rivierlangs te vlug. Maar die rivier was droog! Hulle het egter in die geloof twee platboomskuite bekom. Hulle het kos gekoop en dit saam met hul bagasie in die bote geplaas.
Alhoewel hulle gereed maak, bote en al, om rivier langs te vlug, kan hulle nie roer nie... die rivier is droog.
William Hacquist skryf: "Die plek waar ons was, was omring van hoë berge. Terwyl ons bid en wag, het daar so teen die middel van die agtermiddag sterk wolke opgesteek. Ons het die swaarste reën belewe wat ek ooit gesien het. Die rivier het gou afgekom. Hulle het die bote te water gelaat en haastig weggevaar.
Later moes hulle verneem, 'n paar honderd "Boxerbendes", het hulle in 'n bergpas, 'n entjie verder die berge in, ingewag om hulle dood te maak. Hieroor sê William Hacquist: "God het ons langs die veiliger weg laat vlug.”
            Ons omgewing: strate en wonings, sakepersele, plase, paaie, het deesdae onveilige plekke vir ons, en almal wat vir ons kosbaar is, geword.
Die belofte en versekering in Ps 91:1-5  het vir ons kosbare en gerusstellende woorde geword: "Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: 'My toevlug en my bergvesting, my God op Wie ek vertrou'.... Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie..."
Dit is nie 'n beveiliging wat maar sommer net vir almal is nie. Dit is 'n geloofsposisie wat ons moet inneem en deur 'n gehoorsame lewe aan die HERE moet handhaaf.
Die belofte is: Hy wat sit... en vir die HERE sê: My Toevlug en My Bergvesting en My God op Wie ek vertrou. So 'n geloofshouding en gemoedsvertroue kom, wanneer ons God se Woord lees en ter harte neem, en die Heilige Gees dan die Woord gebruik, om in ons harte geloof te laat ontwaak.
Ons weet die Here Jesus Christus gee ons die vrymoedigheid, om God se beskerming en hulp te vra.

Vrydag 08 September 2017

Die deure is toe, maar die Hemel was oop


Image result for hemel

Eerw. F.H.Pickering vertel van 'n man wat so deur angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is.
Snags kon hy nie slaap nie. Op 'n keer vra 'n Christenvriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy 'n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar 'n Bybel wees.
Die vriend skryf 'n teksvers op 'n strokie papier. "Gaan lees dit en doen dan so," sê sy vriend.
Moeg na siel en liggaam was hy gereed vir enige raad. Hy het sy Bybel gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebr 4:14-16, opgespoor: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."
Hierdie Hoëpriester na wie verwys word, is dieselfde Vredevors wat nou anderdag op ‘n esel se rug Jerusalem binnegery het,
Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy probleme vir die HERE vertel.
Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker geword. Verkwik in sy gees, het hy geweet hy het sielsgenesing gevind.
Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy Verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. "Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in Sy hande," verduidelik hy.
Die dokter antwoord: "As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit."
Let op na Hanna: Dit was Haar geheim toe sy met haar hartseer tempel toe gegaan het. 1 Sam 1
Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die HERE gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Vir priester Eli sê sy: 'Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is... Ek het my hart uitgestort voor die HERE... dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het...' en sy was nie meer bedruk nie.
Die HERE Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons Hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwagting al ons probleme vir Hom vertel.
Die Heilige Gees help ons om te bid: "Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is..." Rom 8:26
Inderdaad, as al die deure toe is, staan die Hemel oop.
Die dag kom egter vining nader dat die Hemel ook toe sal wees, so maak gereed. Sorg dat jy genoeg olie het… en strykdeur moet jy weet dat jy weet: Jesus is bitterlik lief vir jou!

Sondag 06 Augustus 2017

Genade BO genade


Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het 'n jong soldaat op wagdiens aan die slaap geraak. Hy is gevonnis om voor 'n vuurpeloton te sterf.
'n Afvaardiging het by pres. Lincoln vir die jongman se lewe gaan pleit. Hy was 'n goeie en gewilde lid van sy gemeenskap, die lieflingseun van sy ouers.
Die president het egter besluit dat die dissipline in die leër die voltrekking van so 'n vonnis vereis. Die groep het droewig van die president afskeid geneem.
          

Pres Lincoln en sy seuntjie Tad

Die President se seuntjie, Tad Lincoln, het onopsigtelik in 'n hoek van die kamer gesit en speel. Nou sluip hy nader, gee 'n plukkie aan sy pa se mou.
“Asseblief, Pappa, moenie dat hulle daardie arme man doodskiet nie." Lincoln, reeds ontroer deur die pleidooi van die afvaardiging, kon sy seuntjie se smeking nie weier nie. Hy het die vonnis herroep.
            'n Mens voel verlig die saak het so goed afgeloop en die jongman se lewe is gespaar.
Tog voel 'n mens die president was nie regverdig nie. Hy het nie reg gehad om bloot op die pleidooi van sy seuntjie, wat 'n sagte plek in sy hart gehad het, die jongman se skuldige daad af te skryf nie.
Maar, net soos wat die president se seun vir die veroordeelde soldaat ingetree het, die Seun van God ook vir my en jou ingetree.
“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
“Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
“Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
“Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
“Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
“Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
“Maar in al hierdie dinge is ons (let op) meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” Rom 8:31-39
Die Seun van God tree ook gereeld vir ons in by Sy Vader: Jesus se voorspraak vir ons by Sy Vader het regverdige waarde: "Christus Jesus het (vir ons) gesterf... Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Rom 8:33. Wat 'n groot gerusstelling vir ons in ons stryd teen ons sondigheid.
            “Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree... Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. Hebr 7:19,25

Saterdag 04 Maart 2017

Skaakmat...




Jare gelede, in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ‘n skildery met die titel "Skaakmat". Dit het die satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak -opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het omdat hy die spel gewen het. Die opponent word uitgebeeld as 'n jong man, sy kop gebuig in vernedering –  hy's verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn – en die satan grynslag oorwinnend. Daar's 'n paar stukkies oor op die skaakbord en die woord "Skaakmat" dui aan die spel is verby want die koning is vasgekeer en kan nie meer gered word nie.
            Die skildery is geskilder deur Friedrich Moritz August Retzch. Dit is vandag in privaat handee nadat dit in 1999 deur Christie’s op ‘n veiling verkoop is.
            ‘n Skaakkampioen stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Doodstil staan hy vir lank en bekyk die prent, toe hy skielik uitroep: "Dit is 'n leuen, dit is 'n leuen!" Ander mense in die galery het kom kyk wat aangaan. “Wat is die leuen?” vra hulle.
            Die Kurator van die museum daag op. "Meneer, is hier 'n probleem, kan ek help?"
            Die man kyk die kurator in die oë en sê: "Ek is die Franse skaakkampioen, ek sê vir jou dit is 'n leuen!" Die kurator was nog steeds verward - wat is 'n leuen? Die man wys na die skaakbord en sê: "Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie. Dit is 'n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog 'n skuif!"



·        ‘n Klein seuntjie met 2 vissies en 5 broodjies en duisende mense wat gevoed moet word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif, en hulle tel 12 mandjies kos na die tyd op.
·       'n Man met die naam Daniël word gegooi in 'n kuil vol honger leeus. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif oor!
·       Jesus kom by die graf van Lasarus. Hy's al vier dae dood. Die graf ruik al. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen want die Koning het nog 'n skuif oor!



·       Die vrou by die put, moet deur mans met klippe dood gegooi word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen want die Koning het nog 'n skuif oor. "Gaan en moenie langer sondig nie!"
·       Die moordenaars saam met Jesus aan die kruis. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif oor. “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”.
·       Op die Paasfees word die Lam geslag. Die mense skreeu veroordelend - "Kruisig Hom, kruisig Hom”. Hulle spot Hom en slaan Hom. Hulle spoeg hom en kap Hom met spykers vas aan 'n kruis. Jesus skreeu met 'n hortende asemteug en gebarste lippe dit uit:  “Eloi, Eloi lama sabagtani - my God, my God waarom het U my verlaat". Eenkant staan mense en sê: “Ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”. Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe...  satan leun smalend oor die skouer van die mens, alles is verby, maar dan kom Opstanding Sondag en ek en jy weet. Dit het gelyk soos skaakmat, maar dit was 'n leuen, want die Koning had nog 'n skuif oor!
·       Ons land is in 'n gemors. Moorde vind oral plaas (Daar was 17 plaasmoorde in 28 dae in Februarie 2017). Vroue en kinders word wreed vermoor en verkrag.  Mense verloor hul werke, huise, huwelike, lewens, selfrespek, morele waardes, harte en verstand... Jou lewe is 'n gemors. Jy soek, jy klop, jy roep... Jy huil, jy lag, jy raak kwaad... Jy voel leeg. Jy voel verlore. Jy soek jou voetspore, maar vind verdwaalde paaie. satan staan en lag. Dis verby. Sluk daai pil, trek die sneller, gee daai tree oor die rand... Vrees is aan die orde van die dag. Vrees bepaal jou kom en jou gaan. Vrees vir jou lewe, vrees vir jou medemens, vrees vir jouself, vrees vir jou gedagtes, vrees vir jou omstandighede, vrees vir môre, vrees vir die herinnering van gister, vrees vir die omstandighede van vandag. VREES... Maar luister, die spel is nie oor nie! Die Koning, ons Koning, het nog 'n skuif oor!
Mag hierdie boodskap julle bemoedig want: Die KONING, ons Koning, het die laaste skuif. Sien met rykhalse daarna uit.
·       Bid ernstig vir 22 April 2017 wanneer Angus Buchan die volk in Bloemfontein gaan toespreek/aanspreek.





Woensdag 22 Junie 2016

Oorvloedige seën wag op ons...


Image result for sa flag



 Die HERE wil die vensters van die Hemel oopmaak.


Die vurige gebed van die regverdige het groot krag. Jak. 5:16. Komaan, julle wat bid sonder vuur. Ons en die land is in ‘n krisis. Is julle nie al moeg vir alles nie? Nou kom, ons kan die situasie omkeer.
            Waar’s die reën? Die ekonomie vat-vat aan rommelstatus. Daar word gesê, en name word genoem, van die een en dan daai een wat SA sal red.
            Die wekroep wat moet uitgaan is: Onvoorwaardelik, Terug na God!
            Alle gebedsgroepe, moet met hernude ywer en drang en groter geloof na die Hemel roep. Dit moet wees soos ‘n magtige dreuning soos die volk in gebed ontwaak.
Die volgende is God wat praat in Maleagi 3, en die boodskap is vir nou.
“Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.
“Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.
“En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid 'n offer sal bring.
“Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.
“En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.
“Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.
“Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?
“Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
“Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
Let op: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.
En wat nog? “Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
“En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.
“Vermetel is julle woorde teen My, sê die HERE. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek?
Sommer onlangs is gehoor: “Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel?
“En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!
“Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
“En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien.
“Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”
Wanneer ons bid, dan kom die HERE God Jaweh se vermenigvuldende krag in werking en dan beleef ons dat gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak word.
  Dis nie die gebed as sodanig wat magtig is nie, maar die HERE God Yaweh is. Dis Hy wat belowe om groot en deurgrondelike dinge te doen as Sy kinders maar net sal bid.
  Met respek, die vrome aandgebedjies bring nie die verskil nie. Dit is die vurige gebede waarmee besigheid met God bedoel word, wat in grootse erns en besliste verwagting gebid word, wat die verskil  teweeg bring.
  Dat die HERE opsoek is na voorbidders maar hulle selde vind, word duidelik weerspieël uit die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
“Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenby tree nie,” asook Sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
“Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land... maar Ek het niemand gevind nie!”
Daar is drie dinge wat in ‘n voorbidder gesien sal word, wat nie noodwendig in gewone gebed  gevind sal word nie: vereenselwiging, sielesmart en gesag.
Die vereenselwiging van die voorbidder met diegene vir wie hy intree word op volmaakte wyse in Jesus self gesien.
Van Hom is gesê dat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
As die Goddelike Voorbidder wat vir ‘n verlore wêreld ingetree het, het Hy die beker van ons verlore toestand tot die laaste druppel geledig en “vir elkeen die dood gesmaak.”
Om in die volste sin van die woord dit te kon doen, moes Hy sit waar ons sit.
Vereenselwiging is dus die eerste vereiste van die voorbidder. Hy pleit met sukses omdat hy sy lewe gee vir diegene vir wie hy pleit. Hy is hulle verteenwoordiger. Hy het sy eie belang in hulle behoeftes en lyding laat wegsink en het sover moontlik letterlik hulle plek ingeneem.
Die tweede vereiste is sielesmart, want Hy, die Heilige Gees, “tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge.”
Mens lê dan alles op die altaar, want siele wat nie gered is nie, stort oor ‘n ewige afgrond, die helle dieptes in. Dan kruisig mens jouself met Christus. Jy lê alles af. Jy sterf. Nie ‘n teoretiese dood nie, maar ‘n egte kruisiging met Jesus. In die kruisigingsproses begin die voorbidding.
Let op hoe dat Moses, die jong voorbidder, uit vrye wil die paleis verlaat om hom met sy slawe-broers te vereenselwig.
Jesaja moes vir drie jaar lank “nakend en kaalvoet” loop as ‘n waarskuwing aan Israel teen die aakligheid en tragedie van gevangenisskap.
Esegiël is nie toegelaat om een traan te stort by sy vrou, die begeerte van sy oë, se dood nie.
En derdens moet ons met gesag bid. Ons is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag daartoe gee. Ons neem dus gesag oor die magte van die duisternis, ons bind en vervloek dit, en dryf  dit uit elke sektor van ons samelewing in die naam van Jesus Christus.
Ons berei die pad voor vir die Heilige Gees om mense se lewens binne te vaar en hulle om te keer.
Maar daar is ook ‘n laaste vereiste: Dat ons een(dragtig) sal wees. Waar ons oral saambid moet ons wees soos een wat gesamentlik ‘n swangerskap, ‘n dragtigheid dra.
Ons praat nie hier van eenheid nie want selfs nie ‘n getroude paar kan ‘n eenheid vorm nie. Eenheid beteken eendersheid, en dit kan tog nie. Ons het tog elkeen ons eie karakter en persoonlikheid. Maar ons kan eendragtig wees!
Elke keer wanneer die dissipels eendragtig in gebed  en in gees was, dan het die Here gewerk.
En wanneer mens vurig en in absolute verwagting bid, gebeur die volgende: “...9  aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal; wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde; om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
“Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie; wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
“Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
“So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
“So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
“Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
“Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
“In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.” Job 5:9-19
Wanneer moet ons bid? Begin vandag nog. Al is julle net twee of drie… die HERE sal daar teenwoordig wees om te hoor wat julle te sê het.
Verwag ‘n magtige Herlewing. –  Sjibbolet

Maandag 13 Junie 2016

Dan ontmoet ons weer mekaar...



Die Olyfberg is deel van Oos Jerusalem en onder Israel se beheer. (Tans is daar konflik tussen Israel en die Palestyne oor Oos-Jerusalem en die Golan Hoogtes – Eerste Minister Benjamin Netanyahu het pas gesê Israel sal nooit in der ewigheid van Jerusalem en die Golan Hoogtes afstand doen nie).
In hierdie geskrif gaan dit oor die verseëlde Goue Poort (of Gate of Mercy of The Eastern Gate) waardeur die koms van die Messias voorspel is.  Vir hierdie rede het baie Jode die Olyfberg gekies as begraafplaas, sodat hulle, wanneer die Messias kom, van die eerstes sal wees om Hom deur die Oospoort te volg.
Hieroor sê Jesus: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” Matt 19:30
Die Turke het die Oospoort in 1530 gesluit en dit is vandag nog toegebou. Die Ou Stad het nege poorte. Al die poorte is oop, behalwe die Oospoort. Dit sal eers oopgaan met Jesus se Koms, word geglo.



Die Bybel wys dat Jesus destyds op sy reise telkemale heen  en terug deur die Oospoort beweeg het. Volgens die Joodse Bybelse tradisie gaan Jesus deur die Oospoort Jerusalem binnegaan by Sy Wederkoms.
“Toe het hy my teruggebring na die buitenste poort van die Heiligdom wat na die ooste kyk; en dit was gesluit.
“En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly.
“Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die HERE; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan.” Eseg 44:1-3
Met Jesus se Koms gaan ‘n aardskudding die Olyfberg splyt: “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.
“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal weg wyk na die noorde en die ander helfte na die suide.” Sag 14: 4-5
Die begraafplaas teen die olyfberg is baie klipperig. Hier is geen blomme op grafte nie... ‘n Joodse gebruik is om klein klippies op die graf te plaas om aan te toon dat hulle die graf besoek het. Die begraafplaas sit teen die hange van die Olyfberg waar eens net olyfbome gegroei het.
Besoekers aan die Olyfberg staan op heilige grond. Omtrent 2000 jaar gelede, het Jesus hier teen die hange van die Olyfberg gestaan en uitgekyk oor die Ou Stad en profesieë uitgespreek wat die ganse wêreld verander het, met die grootste daarvan, Sy Wederkoms, waarna ons reikhalsend uitsien.
Die Olyfberg word eers genoem tydens die vlugtog van Dawid (2 Sam 15:30) en word ook genoem in Sag 14:4, 1 Kon 11:7, 2 Kon 23:13, Neh 8:15, Eseg 11:23. Dawid vlug uit Jerusalem tydens die opstand van Absalom.
Kaalvoet, met bedekte hoof, wenende, klim koning Dawid die Olyfberg uit. Op die top bid hy. Hy ontmoet sy vriend Husai daar. ‘n Entjie verder ontvang hy ‘n opgesaalde esel en proviand vir sy vlug na die Jordaanrivier. 2 Sam 15: 30-31
Eeue later ontvang Jesus, Seun van Dawid, ook ‘n esel op die Olyfberg om Jerusalem mee binne te ry….
Die Olyfberg word verskeie kere genoem in die Nuwe Testament as die roete van Jerusalem na Betanië wat strek oor die Olyfberg. Matt 21:1,26:30. Jesus het baie tyd op die berg spandeer waar hy ook lering en profesieë aan sy dissipels deurgegee het.
Aan die voet van die Olyfberg is die Tuin van Getsemane. Jesus en sy Vriende hier saam gesing het: “En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.” Matt 26:30
Jesus het ook vanhier na die Hemel opgevaar. Hand 1:9-11
Die beroemde Olyfberg Profetiese rede, soos dit in Matt 24, Mark 13 en Luk 21 opgetekenis, vorm die kern van Bybelprofesie. Hierdie kernprofesie wat Jesus enkele dae voor Sy Kruisiging in afsondering aan Sy dissipels oorgedra het, gee ons ‘n woordbeeld van die Eindtydgebeure.
Omdat Jesus hier gaan verskyn, is besoekers aan die Olyfberg besig om olyfbome daar te plant in afwagting en ter verwelkoming van Jesus se Koms.
Daar is ‘n pragtige lied is oor die Oospoort geskryf. Die lirieke en musiek is soos volg:
The Eastern Gate
I will meet you in the morning,
Just inside the Eastern Gate;
Then be ready, faithful pilgrim,
Lest with you it be too late.

Refrain:
I will meet you, I will meet you
Just inside the Eastern Gate over there;
I will meet you, I will meet you,
I will meet you in the morning over there.

If you hasten off to glory,
Linger near the Eastern Gate,
For I’m coming in the morning;
So you’ll not have long to wait.

Keep your lamps all trimmed and burning;
For the Bridegroom watch and wait;
He’ll be with us at the meeting
Just inside the Eastern Gate.

Oh, the joys of that glad meeting
With the saints who for us wait!
What a blessed, happy meeting
Just inside the Eastern Gate!

http://www.bing.com/videos/search?q=the+eastern+gate+youtube&view=detail&mid=943D3E6FD52BB0ABC65A943D3E6FD52BB0ABC65A&FORM=VIRE

“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
“Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matt 24:42-44.
En dan ontmoet ons almal weer mekaar. – Sjibbolet