Sondag 06 Augustus 2017

Genade BO genade


Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het 'n jong soldaat op wagdiens aan die slaap geraak. Hy is gevonnis om voor 'n vuurpeloton te sterf.
'n Afvaardiging het by pres. Lincoln vir die jongman se lewe gaan pleit. Hy was 'n goeie en gewilde lid van sy gemeenskap, die lieflingseun van sy ouers.
Die president het egter besluit dat die dissipline in die leër die voltrekking van so 'n vonnis vereis. Die groep het droewig van die president afskeid geneem.
          

Pres Lincoln en sy seuntjie Tad

Die President se seuntjie, Tad Lincoln, het onopsigtelik in 'n hoek van die kamer gesit en speel. Nou sluip hy nader, gee 'n plukkie aan sy pa se mou.
“Asseblief, Pappa, moenie dat hulle daardie arme man doodskiet nie." Lincoln, reeds ontroer deur die pleidooi van die afvaardiging, kon sy seuntjie se smeking nie weier nie. Hy het die vonnis herroep.
            'n Mens voel verlig die saak het so goed afgeloop en die jongman se lewe is gespaar.
Tog voel 'n mens die president was nie regverdig nie. Hy het nie reg gehad om bloot op die pleidooi van sy seuntjie, wat 'n sagte plek in sy hart gehad het, die jongman se skuldige daad af te skryf nie.
Maar, net soos wat die president se seun vir die veroordeelde soldaat ingetree het, die Seun van God ook vir my en jou ingetree.
“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
“Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
“Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
“Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
“Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
“Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
“Maar in al hierdie dinge is ons (let op) meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” Rom 8:31-39
Die Seun van God tree ook gereeld vir ons in by Sy Vader: Jesus se voorspraak vir ons by Sy Vader het regverdige waarde: "Christus Jesus het (vir ons) gesterf... Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Rom 8:33. Wat 'n groot gerusstelling vir ons in ons stryd teen ons sondigheid.
            “Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree... Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. Hebr 7:19,25