Maandag 07 Augustus 2017

Mens wen nie die silwer nie, jy het die goud verloor


Op 1 Junie 1965 vaar Robert Manry met sy seilboot Tinkerbelle – 4m in lengte – byna ongesiens uit die hawe van Falmouth, Massachusetts die diepsee in... om uiteindelik die goud te wen.
Sy bestemming was Falmouth, Engeland. Die boot was die kleinste vaartuig ooit, om hierdie reis te onderneem.
Robert Manry was joernalis by Cleveland Plain Dealer. Tien jaar agter 'n lessenaar, was vir hom net genoeg frustrasie vir 'n leeftyd. Manry het net vir sy vrou en 'n paar getroue vriende van sy besluit verwittig.
 

Robert Manry op sy Tinkerbelle. Hy het weens ‘n wonderwerk sy bestemming bereik.

Met sy vaart, moes hy die verraderlikheid van die see, tesame  met slapelose nagte verduur. Hy moes ook probeer het om uit die pad van groot skepe te bly. Sy kos het smaakloos geword. Eensaamheid het hallusinasies veroorsaak.
Die boot se roer het drie keer gebreek. 'n Storm het hom oorboord gegooi - as hy nie 'n tou om sy lyf vasgebind het nie, sou hy homself nooit terug op die boot kon trek nie. Hoë deinings en stormweer was deel van die tog.
Uiteindelik, na 78 dae alleen op die see, vaar hy die hawe van Falmouth, Engeland, binne. Tydens die nagte agter die boot se stuur, het hy hom ingedink hoe hy stil-stil die hawe gaan invaar, in 'n hotel tuisgaan, alleen aandete geniet en die volgende oggend by een van die plaaslike koerante gaan hoor of hulle dalk in sy storie belang sou stel.


Robert Manry
Maar, 'n groot verrassing het op hom gewag! Nuus oor hom is wyd en syd versprei. Tot sy verbasing ontmoet en begelei 300 vaartuie, met blasende mishorings, Tinkerbelle tot in die hawe. Aan wal verwelkom 47 000 mense hom skreeuend en juigend. Sy vrou wasd ook daar.
            “Omdat julle glo word julle deur die krag van God veilig bewaar... al is dit nodig dat julle vir 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word." 1 Pet 1:5,6,7.
Die Skrif praat sterk oor volharding. Dit maak nie saak hoe groot 'n mens se roeping, talent, saak of doelwit is nie, sonder volharding kan mens dit nie maak nie. So iemand voldoen aan die volgende vereistes:

·       Hy weier om te twyfel
·       Hy weier dat enigiets sy aandag aftrek
·       Hy is en bly gedetermineerd
·       Hy weier om enige kompromieë aan te gaan
·       Hy is en bly gedissiplineerd
·       Hy wil ten alle koste wen

           Onthou, mens wen nie die silwermedalje nie, die waarheid is dat jy die gouemedalje verloor het!
            “Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” Hebr 12: 1-2
          Volhard beteken om aan te hou om op 'n doelwit af te stuur, al is die teëkanting ook hoe groot. Volharding bring oorwinning mee.
Paulus se beeld, van hierdie volharding in die geestelike lewe, is 'n atleet se inspanning om 'n prys te wen. "En elkeen wat aan 'n wedstryd deelneem, onthou hom in alles — húlle nogal om 'n verwelklike krans te ontvang, maar ons 'n onverwelklike." 1 Kor 9:25
Om te volhard in ons geestelike lewe, vereis om die hart geheel aan die HERE oor te gee, in Hom te vertrou en die Hemel, die Nuwe Jerusalem, ons doelwit te maak.
Baie elemente druis in teen hierdie lewenskoers. Die Heilige Gees werk hierdie krag en begeerte, om te volhard, in ons harte. Oorvloedig getuig die Skrif van die belangrikheid van volharding. "Maar wie volhard tot die einde toe, sal gered word." Mat 24:13, Mar 13:13
“.... verbly julle in die hoop… volhard in die gebed." Rom 12:12. "Let op jouself en op die leer; volhard daarin." 1 Tim 4:16
Elkeen wat volhard om 'n volgeling van die HERE Jesus te wees, kan uitsien na 'n feestelike verwelkoming in die Hemel! Ons groot praktiese hulp: gereelde Skriflesing, gereelde gebed en die uitreik na verlore siele sodat ook hulle die goue stad Jerusalem kan binnegaan.