Woensdag 23 Augustus 2017

Herstel die Huisaltare – ‘n onverbiddelike Mag


Image result for isaiah 58:1


God sê in Jes. 58:1: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortredinge en aan die Huis van Jakob hulle sondes.”
            Die sonde van ons tyd word onder meer vervat in Kol. 3:5-6.
            Ons huisaltaar, die TV-afgod, beeldsaai video’s en rolprente oor geweld, hoerery, owerspel, verkragting asook geesvernietigende sepies. Meer tyd word aan hierdie dinge spandeer is aan God en sy Woord.
            “Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Luk 12:56-57
            Die tyd het gekom dat ons duidelik tussen die tydelike en die Ewige onderskei en ons besig hou met die dinge van die Ewigheid.
            “Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is (let op) altyd daar.” Joh 7:6
            “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en (let op) koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Efes 5:15-16
            Mens kan feitlik aan alles in die lewe iets doen, behalwe aan tyd. Wanneer jy hier klaar gelees het is hierdie tydjie ook vir altyd verby. Ten minste het jy dit vrugbaar benut.
            Let op hoeveel tyd ons aan selfone en dergelike spandeer, tyd wat vir altyd verby is.
            Ons bely ons glo in die Heilige Gees, aan ‘n heilige Christelike Kerk, aan die gemeenskap van die Heiliges aan die vergewing van sondes, ens., maar, daar is geen teken onder ons dat ons aan die Heilige Gees glo nie want ons kan nie van leiding deur die Gees getuig nie.
            Daar is min tekens dat ons aan ‘n heilige Christelike Kerk glo want ons lewe nie heilig nie.
            Ons glo die HERE vergewe ons sondes, maar dan vergewe ons nie onsself nie en ons wil nie ons eie skuldenaars vergewe nie, nee, ons vertroetel eerder haat.
            Wat ons bely, moet tog inderdaad ook in die praktyk sigbaar wees, anders lieg ons vir onsself en vir God.
            Ons as Christene is verder onder ‘n verpligting want, die HERE sê in Eseg 3:18: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die  goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie,  dan sal die godlose deur sy  ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geëis word.” Hoe verskriklik tog!  ‘
            Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.”
            Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie. Hy kom om te oordeel die lewendes en dooies.
            Nuusblaaie dra daagliks berigte wat die resultate van allerlei onheile  weerspieël. Iemand vra: Hoekom doen “hulle” nie iets daaraan nie?
            Die vraag moet wees: Hoekom doen ons as Christenvolk niks daaraan nie? Hoekom staan 34-miljoen selfverklaarde Christene, nie saam teen hierdie euwels nie? Is ons dan nie veronderstel om ‘n Godsvolk te wees wat die Wederkoms afwag nie?
            Dis tog ons geroepe plig om die oes in te bring, die Getal vol te maak vir die Wederkoms.
            Hoekom maak ons nie hierdie begeertes dood nie Kol. 3:5-5? Hoekom begin ons nie die HERE opreg dien nie? Hoekom is die Heilige Gees nie aktief betrokke in ons geestelike lewens nie?
Hoekom vernietig ons nie die TV-afgod en bring die huisaltaar terug in ons huise nie?
Hoe gouer ons, ons verootmoedig, die Here weer opreg begin dien, die huisaltare weer instel, hoe gouer verkry ons, ons ware vryheid.
Wat behels die huisaltaar? Saam bid, saam Bybel lees, saam sing, vir mekaar die hande oplê, mekaar dra in die gebed, mekaar seën en saam brood breek. Saam bid vir die redding van familielede.
“Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.” Efes 5:19-21
“Een verjaag ‘n 1 000, maar twee (in eendrag) verjaag 10 000.” Deur 32:30. Hoeveel sou ‘n gesin van 3, of 4, of 5, of meer dan nie verjaag nie?
Gesinsgemeentes kan ‘n onverbiddelike mag wees!
Christelike Boekwinkels beskik oor groot voorrade materiaal wat mens kan aankoop vir sulke gesinsbyeenkomste. Herstel onverwyld die Huisaltaar!