Maandag 14 Augustus 2017

'n Vrolike hart bevorder die genesing

 Osteoporose is skeurbuik van die been en nie ‘n kalsium tekort nie, skryf dr. Suzanne Humphries in  http://drsuzanne.net/2012/08/osteoporisis-is-scurvy-of-the-bone-not-calcium-deficiency-suzanne-humphries-md/  en dan haal sy juis aan uit Spreuke 17:22 “'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees (gebroke hart) laat die gebeente uitdroog.”


Dr. Suzanne Humphries

            Lees haar mediese uiteensetting van Spr 17:22.
            Dié strofe openbaar dat ons houding die fisiese staat van ons liggame affekteer. ‘n Vrolike hart is soos medisyne vir die fisiese ongesteldheid. Deur vrolik en gelukkig te wees is om ‘n positiewe uitkyk op die lewe te hê.
            Medies is bewys dat dit selfs hartaanvalle en ander gesondheidsprobleme verhoed, aldus ‘n studie deur die Washington Universiteit.
            Medici het ook ontdek dat ‘n hartlike lag hoë bloeddruk afbring. Sommige medici beveel aan dat mense wat aan depressie en ernstige siekte ly, na ‘n video moet kyk wat hulle laat lag. ‘n Heerlike gelag skei endorfien in die brein af en het ‘n pynstillende en kalmerende effek op die liggaam.
            Diegene wat pessimisties en negatief is, word makliker siek as die wat positief is.
Gelowiges egter, het ook ‘n bykomende middel in hul medisynekas: Geloof.
            Wanneer ons God glo, die Skrifte glo veral wat genesing betref, kom die genesing beslis. Weier dat enigiemand of iets jou blydskap van jou steel.
            Daar is egter ook mense wat vir ons ‘n pyn is. Hulle kan ander grensloos irriteer. Die meeste van ons veg daarteen. Dis hopeloos. Ons probeer hulle vermy, wens hulle eintlik weg, behandel hulle kortaf. Ons hou nie van hulle nie... maar Jesus het hulle lief.
Die oester, wat binne sy skulp sag en teer is, bied die oplossing.
            Wanneer ‘n sandkorreltjie binne sy skulp beland irriteer dit die oester erg, maar die oester maak dit toe met die mees waardevolle deel van sy hele wese en omskep die sandkorrel uiteindelik in ‘n pêrel... pragtig, duursaam, glad en rond.        
            'n Pêrel is die oester se oorwinning oor 'n irritasie.
            Pêrels word langs ‘n moeiliker weg gekweek, soos die Sunday School Times dit vertel. 'n Irritasie, soos 'n sandkorrel, beland in die oester se binneweefsels, en word dan lagie op lagie met 'n innerlike en kosbare stof van die oester, perlemoenwas, bedek om die irritasie teë te werk, en so vorm die kosbare pêrel.
Elke irritasie wat vandag in ons lewens indring, is 'n geleentheid vir die 'pêrel kultuur'. Ons moet irriterendes verwelkom om hulle met liefde – ons kosbaarste element – toe te maak en hulle in Pêrels vir Jesus te omskep.
So maak ons Pêrels: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.
“Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” 1 Kor 13:4-7
So word die geestelike Pêrels in ons lewe gevorm. So 'n lewenshouding is nie uit ons eie krag moontlik nie. Ons is van die Heilige Gees se werking in ons hart afhanklik. Die Heilige Gees gebruik God se Woord en vestig ons aandag op Jesus, en só kom die pêrelproses in ons lewe in werking.
Wees altyd gereed om ‘n volgende Pêrel te skep.