Donderdag 03 Augustus 2017

Die toegewyde Onderwyser


'n Siek Sondagskoolonderwyser, mnr. Edward Kimball van Boston VSA, sou binne afsienbare tyd sterf. Hy het sy klaslede een vir een besoek en hulle na die HERE gelei. Dit was in 1858. Een van hulle was 'n seun, wat in 'n skoenwinkel gewerk het, Dwight L. Moody.
            Moody het Saterdae in ‘n skoenwinkel gewerk. Kimball het Moody een Saterdagoggend agter in die winkel besoek waar Moody besig was om skoene reg te pak en hom na die HERE gelei.
            D. L. Moody het een van die wêreld se beroemdste evangeliste geword. In 1878 hou hy in Londen dienste. 'n Predikant wat in sy klein gemeentetjie 'n moedelose stryd voer, gaan luister na D. L. Moody.
'n Nuwe vuur van toewyding ontbrand in hom. Dit was die begin van die vrugbare skrywerbediening van dr. F.B. Meyer.
            Op uitnodiging preek dr. F.B. Meyer op 'n Amerikaanse kampus. 'n Man met die naam van J. Wilbur Chapman, kom tot bekering. Chapman word een van die baanbrekers van die YMCA.
            Deur Chapman se belangstelling en aanmoediging, besluit Billy Sunday, 'n gewilde bofbalspeler, wat 'n tyd tevore by 'n opelugdiens tot bekering gekom het en 'n vurige getuie vir die Jesus Christus geword het, om evangelis te word. Hy was so 'n kragtige prediker en het met sy bofbal-"dialek" so tot die mánne se harte gespreek, stede se morele lewe het na sy veldtogte verander.
            Billy Sunday het in 'n stad Charlotte 'n veldtog gehou. Dit het 'n plaaslike groep sakemanne geïnspireer. Hulle het 'n opvolgveldtog gehou. Hulle het Mordecai Hamm as hulle veldtogprediker ingebring. Onder Hamm se prediking kom die jongman, Billy Graham, tot bekering.

Dr Billy Graham en sy dogter Anne, ook ‘n Evangelis. Dr Graham word in November 99 jaar
oud. Sy seun Franklin is ook ‘n Evangelis.

Tot 'n dekade of twee gelede was Billy Graham een van die invloedrykste evangeliste en godsdiensleiers in die wêreld. Sommige van ons het in 1972 Billy Graham se saamtrek op Ellis Park bygewoon, waar die pawiljoene gevul was met mense wat na die evangelie kom luister het.


Dr Billy Graham se diens op Ellispark, Johannesburg 1973. Altesame 3 000 mense het daardie dag Jesus aangeneem.

            Onder al hierdie groot manne se prediking en boeke het baie duisende mense die HERE gevind of beter leer volg. Dit het begin met 'n Sondagskoolonderwyser wat toegewyd en getrou genoeg was, om sy klaslede na die Here te lei.
"Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir Sy oes. Gaan nou!." Luk 10:2.
Ons kan nie soos die groot evangeliste na die duisende gaan om te preek nie. Ons verantwoordelikheid is die een’s of twee’s, wie se pad ons kruis en teenoor wie ons vir die HERE iets kan sê of doen. Of vir wie ons oor Jesus se redding iets te lees gee.
            "Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe." Joh 3:36
            Kom, ons moet almal siele inbring met die Blye Boodskap... al offer mens jou Saterdag daarvoor op.
Bid vir Herlewing in ons skole. Elke siel wat jy inbring, bring jou nader aan Jesus.
            “Wat dink julle? As iemand 100 skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die 99 laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie?
“En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die 99 wat nie verdwaal het nie.” Matt 18:12-13. – Sjibbolet