Maandag 14 Augustus 2017

Maak jouself los, die HERE het jou nodig


Image result for Kol 3:1-4

Al vier die Evangelies vertel ons van die Jesus Christus se triomfantlike intog in Jerusalem; vyf dae voor Sy sterwe aan die Kruis. Matt 21:1-11

Uit hierdie stukkie interessante geskiedenis leer ons 'n aanskoulike les of twee vir ons Christelike lewe.
Die HERE stel Homself afhanklik van middele. Hierdie is die enigste keer dat ons lees dat Christus gery het, dat Hy Homself afhanklik gestel het van 'n vervoermiddel.

Hy het altyd gestap. Hy het die land te voet deurkruis, maar nou laat haal Hy 'n esellin en haar vul omdat Hy hulle nodig het.
Was Hy 'n aardse koning sou die soldate met basuin geskal en pragtige perde die koning vergesel het. Jesus maak egter die intog in die hoofstad Jerusalem,  op die rug van 'n esel.
Dit pas by Sy nederigheid as mens op aarde; maar eendag as Hy weer kom as die Regter van almal, op die wolke van die Hemel, dan sal Sy majesteit en heerlikheid, Sy krag en mag openbaar word.
Toe Hy sê: “Die HERE het hulle nodig.” Laat haal Hy vir Hom die nederigste en eenvoudigste van alle rydiere.
Kan ons glo dat die HERE ooit iets nodig gehad het? Die HERE wat die kreupeles laat loop het en die dowes laat hoor het, die HERE wat die storm stilgemaak het en die dooies opgewek het, het Hy iets nodig? Is Hy afhanklik van middele?
Nee, Hy is nie afhanklik van enige ding ter wêreld nie, maar Hy stel Homself afhanklik daarvan.
So doen Hy vandag nog. Dis Sy manier van doen: Hy wil ook swak en eenvoudige mense gebruik om Sy werk op aarde te doen. Eers was Hy alleen en begin hy van alle mense eenvoudige vissermanne een na die ander nader trek om saam met Hom te werk. Hoe moet ons wees as Hy ons kan gebruik?
            Eenvoudig. Alhoewel Christus 'n Engel uit die Hemel kon beveel het om Hom Jerusalem binne te dra, ry Hy op 'n esel. Omdat die Meester nederig is gebruik Hy ook nederige en eenvoudig mense.
            Hy wil elkeen van ons gebruik, al sou dit net wees deur jou Bybelse liefdevolle gedragspatroon sodat ongelowiges Christus in en deur jou kan leer ken.
Gewillig.  Die esel waarop Jesus gery het was 'n gewillige middel. Hy het hom laat lei en het nie geskop of gespring toe die Meester op hom geklim en gery het nie.
Ons weet almal hoe steeks ‘n donkie kan  wees... en soms kan selfs ons ook maar steeks wees. Ons moet gewillig wees om na ander uit te reik met die liefde van Jesus.
Onthou net, Jesus dwing niemand nie.
Losgemaak. – Die esellin moes losgemaak word. Waaraan is ek en jy vas dat ons kwansuis nie vir die HERE iets kan doen nie? Maak los.
Ons moet losgemaak wees van onsself. Ook van aarde dinge, want ons moet bedink wat daar bo is. “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.
“Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Kol 3:1-4
Esels is diere wat enigiets vir jou sal doen solank hulle goed behandel word.
            ’n Esel is nederige dier en wil agter jou aanstap. ’n Esel is ’n simbool van vrede en Jesus Christus ry op een omdat hy gekom het as Vredevors. ’n Perd simboliseer oorlog.
Jesus kom in alle nederigheid, maar betoon ook deernis deurdat hy die esellin en die vulletjie saam laat loop omdat die vulletjie nog erg oor sy ma is. Jesus gee om en betoon liefde teenoor die esellin en haar vulletjie.
            As mens ‘n esel goed behandel, word dit ‘n troue dier, ‘n vriend… ‘n vriend wat selfs jou vrag ywerig en geduldig sal dra. As jy egter aan hom slaan, of op hom skreeu, gaan steek hy viervoet vas.
            Baie mense hou vandag esels op hulle hoewes en plase aan as troeteldiere. Esels hou nie daarvan om alleen te wees nie. Dit word vertel dat boere in veral die Karoo ‘n donkie saam met ‘n volstruis in ‘n leë kamp plaas om veediewe weg te hou. Die donkie en die volstruis baklei saam en glo verwoed, as ‘n indringender in hul kamp kom.
            Jesus het die esel en haar vul laat kom want esels wil nie alleen wees nie.
            Moenie ‘n tou om hulle nek sit nie en werk sag en geduldig met hulle.
            Let op Jesus het mense nooit op grond van hul prestasie gekies om Hom te volg nie.
            Hy het die esels soos Petrus, Andreas, ens., gekies. Boonop het Hy vir my en jou gekies.
Die mense wat Jesus gekies het, was almal eenvoudige menswe. Hulle was geensins volmaak nie, elkeen had ‘n problem in sy lewe wat Jesus Christus moes heel.
As jy nie geleerdheid nie, vir niks opgelei is nie, moenie op jouself neersien nie. Jesus het jou nodig, net soos wat Hy die esellin nodig gehad het.
            Jesus het nie een keer die beste gekies nie, maar hy het almal ten beste gebruik.
            Vandag is die Christendom die grootste beweging wêreld.
            Jesus bied aan om jou en my se pakesel te wees.  "Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle." 1 Pet 5:7
            Maar Jesus het ons ook nodig om die oes in te bring, die getal vol te maak vir sy Wederkoms.
Maak jouself los en kom, kom gou. Jesus het jou nodig.