Woensdag 22 Junie 2016

Oorvloedige seën wag op ons...


Image result for sa flag



 Die HERE wil die vensters van die Hemel oopmaak.


Die vurige gebed van die regverdige het groot krag. Jak. 5:16. Komaan, julle wat bid sonder vuur. Ons en die land is in ‘n krisis. Is julle nie al moeg vir alles nie? Nou kom, ons kan die situasie omkeer.
            Waar’s die reën? Die ekonomie vat-vat aan rommelstatus. Daar word gesê, en name word genoem, van die een en dan daai een wat SA sal red.
            Die wekroep wat moet uitgaan is: Onvoorwaardelik, Terug na God!
            Alle gebedsgroepe, moet met hernude ywer en drang en groter geloof na die Hemel roep. Dit moet wees soos ‘n magtige dreuning soos die volk in gebed ontwaak.
Die volgende is God wat praat in Maleagi 3, en die boodskap is vir nou.
“Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.
“Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.
“En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid 'n offer sal bring.
“Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.
“En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.
“Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.
“Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?
“Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
“Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
Let op: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.
En wat nog? “Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
“En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.
“Vermetel is julle woorde teen My, sê die HERE. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek?
Sommer onlangs is gehoor: “Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel?
“En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!
“Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
“En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien.
“Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”
Wanneer ons bid, dan kom die HERE God Jaweh se vermenigvuldende krag in werking en dan beleef ons dat gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak word.
  Dis nie die gebed as sodanig wat magtig is nie, maar die HERE God Yaweh is. Dis Hy wat belowe om groot en deurgrondelike dinge te doen as Sy kinders maar net sal bid.
  Met respek, die vrome aandgebedjies bring nie die verskil nie. Dit is die vurige gebede waarmee besigheid met God bedoel word, wat in grootse erns en besliste verwagting gebid word, wat die verskil  teweeg bring.
  Dat die HERE opsoek is na voorbidders maar hulle selde vind, word duidelik weerspieël uit die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
“Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenby tree nie,” asook Sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
“Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land... maar Ek het niemand gevind nie!”
Daar is drie dinge wat in ‘n voorbidder gesien sal word, wat nie noodwendig in gewone gebed  gevind sal word nie: vereenselwiging, sielesmart en gesag.
Die vereenselwiging van die voorbidder met diegene vir wie hy intree word op volmaakte wyse in Jesus self gesien.
Van Hom is gesê dat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
As die Goddelike Voorbidder wat vir ‘n verlore wêreld ingetree het, het Hy die beker van ons verlore toestand tot die laaste druppel geledig en “vir elkeen die dood gesmaak.”
Om in die volste sin van die woord dit te kon doen, moes Hy sit waar ons sit.
Vereenselwiging is dus die eerste vereiste van die voorbidder. Hy pleit met sukses omdat hy sy lewe gee vir diegene vir wie hy pleit. Hy is hulle verteenwoordiger. Hy het sy eie belang in hulle behoeftes en lyding laat wegsink en het sover moontlik letterlik hulle plek ingeneem.
Die tweede vereiste is sielesmart, want Hy, die Heilige Gees, “tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge.”
Mens lê dan alles op die altaar, want siele wat nie gered is nie, stort oor ‘n ewige afgrond, die helle dieptes in. Dan kruisig mens jouself met Christus. Jy lê alles af. Jy sterf. Nie ‘n teoretiese dood nie, maar ‘n egte kruisiging met Jesus. In die kruisigingsproses begin die voorbidding.
Let op hoe dat Moses, die jong voorbidder, uit vrye wil die paleis verlaat om hom met sy slawe-broers te vereenselwig.
Jesaja moes vir drie jaar lank “nakend en kaalvoet” loop as ‘n waarskuwing aan Israel teen die aakligheid en tragedie van gevangenisskap.
Esegiël is nie toegelaat om een traan te stort by sy vrou, die begeerte van sy oë, se dood nie.
En derdens moet ons met gesag bid. Ons is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag daartoe gee. Ons neem dus gesag oor die magte van die duisternis, ons bind en vervloek dit, en dryf  dit uit elke sektor van ons samelewing in die naam van Jesus Christus.
Ons berei die pad voor vir die Heilige Gees om mense se lewens binne te vaar en hulle om te keer.
Maar daar is ook ‘n laaste vereiste: Dat ons een(dragtig) sal wees. Waar ons oral saambid moet ons wees soos een wat gesamentlik ‘n swangerskap, ‘n dragtigheid dra.
Ons praat nie hier van eenheid nie want selfs nie ‘n getroude paar kan ‘n eenheid vorm nie. Eenheid beteken eendersheid, en dit kan tog nie. Ons het tog elkeen ons eie karakter en persoonlikheid. Maar ons kan eendragtig wees!
Elke keer wanneer die dissipels eendragtig in gebed  en in gees was, dan het die Here gewerk.
En wanneer mens vurig en in absolute verwagting bid, gebeur die volgende: “...9  aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal; wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde; om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
“Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie; wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
“Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
“So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
“So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
“Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
“Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
“In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.” Job 5:9-19
Wanneer moet ons bid? Begin vandag nog. Al is julle net twee of drie… die HERE sal daar teenwoordig wees om te hoor wat julle te sê het.
Verwag ‘n magtige Herlewing. –  Sjibbolet