Vrydag 17 Junie 2016

Dis tyd – Staan op vir Jesus!



'n Uitgesproke en welsprekende, sogenaamde agnostikus het op ‘n keer in Engeland rondgereis en oral sy vergaderings gehou om mense van die dwaasheid van Geloof te oortuig. Hy het met soveel oorleg en oortuiging die dwaasheid van geloof in God verkondig, dat niemand dit gewaag het om in sy vergaderings op te staan en vir die Here te getuig nie.
By een so 'n vergadering het 'n seuntjie en sy sussie opgedaag, want hulle het gedink die man gaan oor die HERE praat. Hulle kon niks uitmaak van wat hy so geleerd die mense voorhou nie, maar toe hy sy gewone uitdaging rig en enigiemand wat vir die HERE iets wil sê, uitnooi om dit op die verhoog te kom doen, het dié twee kinders gedink hy bedoel dit ernstig.
Hand aan hand het hulle voor almal se verbaasde oë vorentoe geloop. "Ons wil iets vir die HERE sing," verduidelik die seuntjie aan die verbaasde geleerde man. Met sy hand beduie hy vir hulle om voort te gaan, terwyl hy met 'n breë glimlag terugstaan.
Hulle het hande gevat en begin sing: "Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis! Verhoog sy krygsbaniere deur al die stryd gedruis!"
Terwyl hulle sing het iemand in die gehoor opgestaan en begin saamsing en toe nog een en nog een:
"Die stryd lei tot oorwinning, die Heiland keer op keer, tot Hy oor elke vyand vir ewig heers as Heer."
Teen hierdie tyd het feitlik die hele gehoor gestaan en saam gesing.
Die godloënaar het sy goed geneem en stilletjies padgegee.

"Staan op staan op vir Jesus! Die krygsgeroep weergalm;
Begeef u in die strydperk, volg Hom met vreugdepsalm!
Kom, stryders, wees dan moedig, weerstaan met al u mag;
Die bose moet terugval, want Jesus gee u krag!" (Hal.244)

Met die Here Jesus se intog in Jerusalem het Hy die krag van getuienis, al is dit uit 'n kind se mond,beklemtoon. "Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die priesterhoofde...die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: 'Loof die Seun van Dawid!' was hulle verontwaardig...'Ja,' antwoord Jesus. 'Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof besing?'" Mat 21:14-16
            Die lied wat die boetie en sussie met soveel oorwinning gesing het, is 'n duur lied. Tydens die Herlewing in Philadelphia in 1858 het 'n 29-jarige Episkopale predikant, Dudley Tyng, die Evangelie met groot krag verkondig.
Een Dinsdagaand, 30 Maart 1858, het meer as 5 000 mans in die Y.M.C.A.-saal bymekaar gekom en na sy preek oor Eks 10:11 te luister: "Net die mans gaan! Gaan dien die Here...!" Meer as 'n duisend van hulle het dié aand hul lewens aan die HERE oorgegee.
In een stadium in sy preek het hy uitgeroep: "I must tell my Master's errand, and I would rather that this right arm were amputated at the trunk than that I should come short of my duty to you in delivering God's message."
Die volgende week was hy op 'n plaas en het gekyk hoe 'n dorsmasjien koring dors, toe 'n wiel sy mou gryp en sy arm tussen die groot ratte vergruis word. Die skok en bloedverlies, skryf Kenneth Osbeck, het sy dood veroorsaak. Op sy sterfbed het 'n groepie bedroefde vriende en ander leraars 'n laaste woord van hom gevra. Hy het sag gefluister: "Let us stand up for Jesus."



'n Medewerker en vriend, eerw. George Duffield, van die Temple Presbyterian Church in Philadelphia, het in sy Sondagoggend preek hulde gebring aan die ontslape prediker en toe 'n gedig gelees wat hy gaan skryf het na hy Dudley Tyng se laaste woorde gehoor het: "Stand up, stand up for Jesus, ye soldiers of the cross!"
Hoekom het so iets met die getroue jong prediker gebeur? Ons sal nooit weet nie. Nie een van sy preke het bewaar gebly nie, maar die lied wat soos 'n vrug uit sy ongeluk en dood voortgekom het, spreek tot vandag toe aanmoediging tot Jesus se volgelinge.- Sjibbolet.