Saterdag 11 Junie 2016

Is jy ook Swerwende?




Die legende is die eerste keer vertel deur ‘n Armeense biskop wat Engeland in 1228 besoek het.
Soos dit maar met legendes verloop, het daar sedertdien baie variasies voorgekom in die letterkunde van Europa, en ‘n aantal beroemde romans het daaruit ontstaan.

Daar was ‘n man, Kartafilus, wat deur­wagter was by die paleis van Pilatus.
Toe Jesus Christus uit die paleis gelei word om gekruisig te word, skel Kartafilus op Hom. “Toe dan, toe dan, loop gouer – waarom draai jy nog?”

Daarop het die Veroordeelde tot die dood, vir Katafilus aangekyk en hom veroordeel tot die lewe.
“Ek gaan, ja; maar jy bly ... tot Ek weer kom.”

En van daardie tyd af swerf Kartafilus deur die lande en volke van die wêreld en deur die honderde jare van die geskiedenis, onsterflik. Hy soek gevare, ellendes, aardskuddings, brande, slagvelde, pes­tilensies, maar alles tevergeefs. Hy probeer om op alle maniere selfmoord te pleeg; dit wil hom nie geluk nie.

Die dood is vir hom ongenaakbaar; hy is tot die lewe gedoem.

Volgens die legende was hy met die tyd van die kruisiging, dertig jaar oud. Elke keer wanneer hy 100 jaar oud geword het, het hy sy bewussyn verloor en wanneer hy weer sy bewussyn herwin het, dan was hy weer 30 jaar oud en deurloop hy weer dieselfde pad totdat hy weer 100 jaar oud is.

Dit in soverre dit die legende betref. Die realiteit van die tyd is, dat ek en jy ook moet wag totdat Hy ons kom haal.

As ek en jy wedergebore is, dan swerf ons nie meer doelloos oor die aarde rond nie, maar is dit ons Groot Opdrag om die swerwendes na die HERE te lei en so GOD se Koninkryk te bou – al die mense gereed te kry vir wanneer Hy weer kom om ons te kom haal.

Wanneer jy hier lees en ontdek dat jy steeds swerwende is, weet dan dat daar  Genade vir jou is.
“As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

“As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

“My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

“En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

“En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.

“Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.
“Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.

“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” 1 Joh. 1:9: 2:1-6
Ons is nie soos Kartafilus in die legende tot die lewe gedoem nie, maar ons is tot die nuwe lewe in Christus Jesus geroep!

Almal wat Jesus Christus as Saligmaker aanneem, gee Hy mag om kinders van God te word. Joh. 1:12

“Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” Joh. 3:17-18
As jy dus swerwende is, sonder God, sonder roeping, sonder visie, dan is Sy uitnodiging aan jou gerig:
            “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
“As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.

“Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.” Jes. 1:18-20. – Sjibbolet