Vrydag 24 Junie 2016

Die Goeie Samaritaan...


Joseph Scriven was 'n diep gelowige ryk en geleerde jongman in Ierland. Die nag voor sy troue het sy verloofde in 'n rivierongeluk verdrink.
“Die 25-jarige Joseph was diep bedroef. Hy het besef niemand kan hom help nie, behalwe sy getroue vriend Jesus Christus. Vir hom was Jesus uit en uit sy Vriend. Hy het geweet Jesus is uit en uit ‘n getroue Vriend.
Kort hierna, in 1845, het hy na Kanada verhuis waar hy bietjie later op trou gestaan het met Eliza Roche. Sy het egter kort voor die troue siek geword en gesterf.


Scriven het sy BA graad aan Trinity Kollege verwerf en bekend geword vir sy gedigte. Daar was een gedig wat niemand van geweet het nie, wat hy baie lank aan gewerk het. Hy het later gesê hy en Jesus het dit geskryf.
Na die dood van Eliza het hy besluit om sy lewe aan Christus toe te wy deur ander te help, soos Jesus sy dissipels geleer het: “Gee en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol... met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Luk 6:42
Hy het geld en klere aan mense wat dit nodig gehad het gegee, vir ander het hy sonder vergoeding take verrig, en bekend geword as die Goeie Samaritaan van Port Hope, waar hy gewoon het.
Sy moeder in Ierland het siek geword. Hy het vir haar 'n vertroostende brief geskryf en die woorde van die nuwe gedig wat hy geskryf vir haar ingesluit. Hy het haar aangemoedig om nie te twyfel in haar beste vriend, Jesus Christus, nie.
Hy het eenkeer self siek geword. 'n Vriend het hom besoek en die gedig se woorde op 'n los vel papier, langs die bed, gesien.
“Wie het dit geskryf?” wou die verbaasde vriend weet. “Ek en die HERE het dit saam geskryf,” het Scriven geantwoord.
Joseph is op 66-jarige ouderdom Huis toe. Sy graf, met die lied se woorde op die grafsteen, is te sien naby Peterborough, Ontario. Die gedig is later deur Charles C. Converse getoonset.
Van toe af sing ons almal: “Wat 'n Vriend het ons Jesus.”
            Die rykste aardse vrug van Joseph Scriven se beproewing en toewyding daarna, is die waarde wat hierdie lied die afgelope byna 'n eeu en 'n half vir gelowiges gehad het.
Dit inspireer geloof en bring vrede vir die hart. Die lied vertel van die grootste beskutting wat ons in hierdie lewe het: om Jesus as Vriend te ken:

Wat 'n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan...
                       Dis geskryf deur ‘n man wat twee keer ‘n aanstaande bruid kort voor die troue aan die Ewigheid moes afstaan.
            Joh. 15: 9-17: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê... So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.” Joh 15: 13,16
            Joseph het hom gereeld saam met sy vriend Jesus Christus afgesonder. Vir hom was dit ‘n werklikheid, ‘n uitgemaakte saak... Jesus, sy beste vriend.
            Let op na die woorde van die lied wat hy geskryf het. Dis so betekenisvol dat ons ook elke keer wat ons onsself saam met Jesus afsonder, die lief kan sing.

1.    Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan;
Wat ‘n voorreg om gedurig, tot God’s troon deur Hom te gaan!
Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart,
Net omdat ons nie ons node uitstort in God’s Vaderhart!

2.    As versoeking en beproewing, of kwelling ons bedreig,
Laat ons nooit mismoedig word nie, laat ons bede opwaarts styg…
Nêrens is ‘n vriend getrouer, as Hy wat ons node weet;
Jesus voel met al ons swakheid, en wil deel in al ons leed.

3.    Is ons swak, gedruk deur laste, onder kommer neergebuk,
Dierb’re Heiland, onse toevlug, o bevry ons weer van druk,
As ons vriende ons versaak het, soek ons in gebed o Heer,
Aan Sy boesem is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer.

Mens moet dit eintlik mooi laat druk en oral uitdeel. Ook voor in jou Bybel sit. Dit kom uit die hart van ‘n man wat geweet het van Wie, en met Wie hy praat. – Sjibbolet

Gebedsversoek

Nege man reis deur die nag met twee voertuie om Christene wat hulle elf jaar laas gesien het, diep in Afrika te gaan bemoedig. Hulle het tien jaar lank elke jaar met groot sukses  die Evangeliedaar  uitgedra. Omstandighede het gemaak dat hulle die afgelope elf jaar nie kon gaan nie. Die paaie is swak met struikrowers en vegtende magte oral. Hulle is swaar gelaai  met die Evangelie, Bybels, en alles wat hulle mag nodig hê. Die beplanning en voorbereiding is al geruime tyd aan die gang. Hulle gaan om Christene wat hulle na die HERE gelei het, te bemoedig en om geestelike materiaal aan hulle te verskaf om die werk uit te brei. Hulle sal na verwagting na die middel van Julie terug wees. Dankie dat almal hulle in gebed sal dra. Dis ‘n Jesus sending so geen besonderhede word oor hulle bekend gemaak nie.