Woensdag 01 Junie 2016

Wie julle ontvang, ontvang My


Image result for person on horse in snow storm

Eerw JS Barnett vertel: Hy was een aand in die hewige sneeustorm in die rotsagtige gebergte van Tennessee vasgekeer. Byna verkluim het hy bewusteloos oor sy perd se saal gehang. Die perd het bly voortstrompel deur die ysige wind en sneeu.
            My perd het my na ‘n vreemde huis toe gedra. Toe ek na hoeveel ure bykom, het ek die geknetter van ‘n vuur naby my voete gevoel en gehoor.
            ‘n Bebaarde man het oor my gebuk gestaan en erg gevloek soos wat hy gesukkel het om brandewyn by my mond in te kry.
Dit was Jake Woods, die berugte vryverklaarde. Ek het hom erken. Woods was berug. Hy het gedreig om enige bedienaar van die Evangelie wat dit naby sy huis waag, te verniel.
Niemand kon beter versorg gewees het as ek nie. Hy en sy vrou het my met teerheid behandel en kos gegee. Ek was aan die verkluim en hy het heel nag met sy groot warm lyf teen my gelê om my warm te hou.
Ek wou die volgende dag, nadat ek nog gerus en heerlik geëet het  verder gaan, maar in my hart het ek geweet, niemand het al ooit so 'n goeie geleentheid gehad om met die skrikwekkende Jake Woods oor sy verhouding met die HERE te praat, as ek nie.
Ek wou hom as blyk van dank 'n paar geldnote gee, maar hy het dit geweier. “Dok,” sê hy, “as jy gisteraand as prediker na my huis toe gekom het, het ek jou in die koue uitgesmyt waar jy sou gesterf het... Twintig jaar gelede, toe die Almagtige ons enigste kindjie weggeneem het, het ek gesweer ek sal nooit een van Sy diensknegte oor my drumpel toelaat nie. Ek het woordgehou... tot gisteraand, maar toe jou perd jou hier aanbring, kon ek jou nie wegjaag nie.’
Met bewende stem sê ek vir hom: “Mnr. Woods, sal jy my toelaat om uit hierdie Boekie van ‘n Vriend van my, vir jou iets te lees, en met my Vriend in jou huis te praat, voor ek weggaan?”
“Hy kyk na sy vrou, talm en toe sê hy: “Toe maar, Dok, gaan jou gang.” Ek het vir hom uit Lukas 15 gelees oor die herder wat agter die een verlore skaap aangaan totdat hy dit vind. Ook die verhaal oor die verlore seun en sy verwelkoming toe hy tuiskom.”
Ek kom agter Jake het omgedraai en kyk my met groot oë aan. Voor my moed my begewe, val ek op my knieë en begin bid. Ek bid, en dit is asof ek die Here wil aangryp en nader trek: “Here, ek het gisteraand byna dood hier aangekom. Hierdie man en sy liewe vrou het my ingeneem en terug verpleeg na die lewe toe en hulle wil niks daarvoor neem nie. Maar vandat hulle hier woon, moet Jesus Christus met gewonde hande en 'n doringkroon voor die deur staan en klop en hulle wil nie oopmaak nie. Help vandag vir Jake Woods om sy deur vir Jesus oop te maak.”
Toe ek opstaan sit Jake op die vloer met sy oë op die deur gerig. Hy kyk so stip dat ek ook deur toe kyk, maar ek sien niks behalwe die wit sneeu nie.
Skielik sê Jake, steeds kykende na die oop deur: “Kom binne,” asof hy iemand innooi. Hy draai na my toe. “Hy het ingekom.”
Jake stap saam met my uit. “Dok,” kom dit van hom af, “het jy nog een van daardie boekies van jou? My pa het vir ons van daardie seun en sy pa gelees. Ek sal iemand kry om dit vir my te lees.”
Ek gee hom my Bybel en toe ek wegdraai om te ry, sê hy, hy en sy "ou vrou" sal na my kom luister as ek weer in die skool kerkhou.
            Toe ek na 'n ruk weer daar 'n diens gaan hou, is daar 'n groot opkoms. Jake is ook daar.
Sy vrou het aan my baadjie getrek en gesê: “Dok, Jake is heeltemal ‘n ander man na daardie nag wat jy by ons oornag het. Dalk gaan hy vanaand Hemel toe. Hou jou maar gereed.
Toe kom groet Jake  my. “Dok, ek het hulle gebring,” sê hy toe hy my hand druk.
Ek het met trane by die preekstoel gaan staan en afgewyk van my voorbereide boodskap. Ek preek en gryp Lukas 19:10 as teks: “Die Seun van die Mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Toe ek my preek wil afsluit, spring Jake op en stap tussen die mense in. Hy praat met ‘n stem ver sterker as myne: “Kom, mense, kom,” roep hy. “Wat Dok gepreek het is waar. Ek het daardie Man self gesien toe Dok in my huis gebid het. Hy het voor die deur gestaan. In Sy hande wat Hy na my toe uitgesteek het, was gate. Ek het gesê Hy moet inkom. Hy het ingekom. Ek was van toe af nog nooit weer dieselfde mens nie.”
Nog voordat ek die net kon uitgooi, het ‘n diepe bewoënheid  oor die gehoor gekom en mense het spontaan gekniel en begin bid. Dié Sondagoggend het talle tot bekering gekom.
            Jake het die volgende dag voortgegaan en oral mense met die Evangelie bereik. Hy is twee jaar later Hemel toe, maar hy het meer mense in daardie twee jaar na die HERE gelei as wat in my hele bediening kon doen.
            Let op: Elke keer wat jy deur iemand in sy huis, kantoor of op sy plaas ontvang word, ontvang daardie persoon (sonder dat hy dit besef) vir Jesus. Maar seker dat jy nie daar weggaan, sonder dat jy daardie persoon van die liefde van Jesus vertel het nie. Matt 10:40.
“Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. “ 1 Kor 3:9  – Sjibbolet