Dinsdag 21 Junie 2016

Dis hoekom ons Herlewing nodig het


Image result for christelike prente


God stel standaarde vas vir die Christelike lewe. Hy wyk nooit daarvan af nie. Daar is ook nooit grys areas nie, geen kompromie nie.
            “Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. U het U bevele gegee om dit trou te onderhou.” Ps 119:1-3
            Hoe groter die openbaring van die Liefde van God hoe groter is die verwydering tussen lig en duisternis. Ware Liefde waarsku en beskerm mense van verkeerde handelinge, verwarring en verkeerde besluite.
            “Uit U bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.  U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en dit gehou, om U regverdige verordeninge te onderhou. Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na U woord!” Ps 119:104-107
            “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16.
Gaan kyk bo van ‘n berg af hoe skyn ‘n stad se ligte in die nag. Skyn ons ligte so, dag en nag?
            Daar is gelowiges wat terugdeins van die Lig ter wille van posisies en wêreldse aanvaarding, ‘n optrede wat dodelik is en skokkend. Daar is Christene en selfs kerkleiers wat nie weet wat Liefde werklik is nie. Nogtans sal die volle Waarheid gepredik moet word. Mense moet tot inkeer kom en gereed maak vir die Basuin.
            “En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.” Fil 1:9-11
            Te veel Christene kies wysbegeerte, kies menslike wysheid pleks van Goddelike Bybelse wysheid.
            “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword  en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” Rom 1:22-23
            Daar is ‘n bekende liedjie wat steeds gesing word: “I’ll do it my way.” Daar is net een weg en dis die weg in die weë van die HERE.
            ‘n Bekende drankadvertensie lees: “Leef op jou eie terme, volg jou eie pad.” Jy en ek mag juis nie ons eie pad volg nie. Om jou eie pad te volg, is om die Hemel mis te loop. God stel standaarde vas.
            Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Matt 5:17
Hoe het Jesus toe die Wet vervul?
Net voor Sy vertrek na die Hemel, vra die dissipels Hom: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?
“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
“Dit is die eerste en groot gebod.
“En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
En dan sê Jesus: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Matt 22:36-40
Aan hierdie twee Liefdes-gebooie hang die HELE WET.
Hoe so? Want as jy waarlik liefhet, dan sal nooit enige wet oortree nie.
Die Skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.
Is dit moontlik om onsself lief te hê?
            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.
            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.
            Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”
            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.
            Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?
            Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.
            Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, maar “hê jou naaste lief soos jouself.” Of het jy ‘n wrok teen jouself, of teen iemand anders? Dan moet jy plan maak sodat jy vry kan kom.
            En moet nou nie in ‘n geredekawel vasval van “Wie is my naaste” nie. Jy weet tog dis jou huisgenote en diegene in jou daaglikse omgang.
            As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.
            Ons kan nie die Ewige Lewe bekom deur die Tien Gebooie te onderhou nie, dit kan alleenlik deur die Wedergeboorte gebeur. Die Tien Gebooie, of dan die wet, is vervang deur die Groot Gebod, die Koninklike Wet, die liefde.
            Dit is hoekom ons ‘n magtige Herlewing nodig het. Bid daarvoor en verwag dit. – Sjibbolet