Woensdag 01 Junie 2016

Min vrug by die loslopers


Image result for cherry tree

Die prediker Samuel Dickey Gordon, gebore in Philadelphia op 12 Augustus 1859, was gewild  as geestelike spreker en skrywer aan die einde van die 19e Eeu en in 20e Eeu.
            Hy het talle boeke geskryf en  is bekend vir sy reeks “Quiet Talks”.
            Hy het een keer vertel dat ‘n tak van ‘n kersieboom in sy tuin feitlik afgeskeur is in ‘n hewige storm. Hy het dit net so gelos.
            Met die koms van die lente het beide die hoofboom en die betrokke tak gebot, alhoewel nie so baie soos dit hoort nie. Die tak se verbindingslyn met die boom het die tak lewendig gehou, maar met die koms van die vrugte het die tak veel minder vrug gedra.
            Die rede was dat die bloedstroom, die sap, ‘n belemmerde vloei na die tak gehad het. Dit het Samuel Gordon dadelik laat dink aan: Joh 15:4-8
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
            “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
            “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
            “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.”
            Meer spesifiek: “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Vir Gordon was die boodskap: Die Christen wat heelhartig aan Christus verbind is en in noue aanraking met God lewe, dra baie vrug.
Die losloop  Christen, met sy geringe omgang met die Here, het net hier en daar 'n vruggie, maar die losse verbintenis met Christus verhinder 'n oorvloedige lewe.
            Soos die HERE dit self stel: “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Uit ons eie krag ly ons Christelike lewensgang skade. Die Gees van Christus, soos die sap van die boom, bring die vrug in ons Christenlewe voort.
Ons het nodig om tyd te bestee aan Bybelstudie, gebed en ook verootmoediging. "
“As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.” Gal 5:25.
            “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24 – Sjibbolet