Wys tans plasings met die etiket Wederkoms van Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wederkoms van Jesus. Wys alle plasings

Dinsdag 06 Junie 2017

Ek en jy moet die getal volmaak


Image result for hoe lyk 'n slangbyt

Skrywer droom verskillende slangsoorte val ‘n groep mense aan. Sodra iemand gepik word verander die pikplek onmiddellik in ‘n lelike oop sweer vanweë die diepe boosheid.
            My werk is om die teengif voor te berei sodat dokters en verpleegsusters die slagoffers met die onderskeie entstowwe teen die onderskeie slangbyte kan inspuit.          
            Later moet ander ook help inspuit. Die toneel lyk soos ‘n slagveld. Daar is baie pyn, ‘n geween en ‘n gekners van tande. Sommige mense is reeds bewusteloos.
            Ons is op ‘n dorp wat ek glad nie ken nie. Ons werk onverpoosd maar die taak word al hoe groter.
            Ek besef ons gaan mense begin verloor. Hulp is dringend nodig. Ek vra of daar ‘n predikant op die dorp is. Daar is een. Ek vra hulle moet die predikant onmiddellik na ons toe bring.
            Die predikant laat weet terug ek moet ‘n boodskap stuur waarin ek verduidelik hoekom ek hom ontbied.
            Ek word kwaad en sê: “Sê vir die predikant hy moet onmiddellik na die toneel toe kom, Mense gaan sterf. Tyd is teen ons. Hier is nie nou tyd vir ego’s en ‘n eie-ek nie”
            Die predikant daag op maar is onwillig om te help toe hy gevra word om alle ersntige bidders op die dorp te kontak en te versoek hulle moet dringend en aanhouidend begin bid dat die HERE en sy Engele moet ingryp om die slange te keer.
            Die predikant wil nog teenstribbel oor wie ek dink ek is ek dat ek vir hom opdragte kan gee. Ek verhef weer my stem en verduidelik in kort dat die bid en werke saamgaan, die een kan nie sonder die ander nie. Die predikant loop. Ons het nooit weer van hom of enige bidders gehoor nie.
            Die toneel word ‘n warboel en ek word wakker met ernstige kommer oor die pad vorentoe, behalwe om aan te hou red wat te redde is, en aan te hou om ander te bemoedig om te kom help.
            Tyd is teen ons en die getal moet volgemaak word.
            Die boodskap uit die droom is dat die oes groot is en die arbeiders min. “Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die HEREere van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.” Matt 9:37-38
            Wie moet hierdie bidwerk doen en wie is hierdie arbeiders? Dis ek en jy. "… verkondig die woord … tydig en ontydig …" 2 Tim 1-8
            Een van die wêreld se voorste predikers, John Wesley, het een aand laat, te perd teruggekeer van 'n diens af. Hy moes oor die Honslow Heath bergpas. Die bergpas was bekend vir sy struikrowers.
Dit was 'n donker nag, maar Wesley was nie bang nie. Hy het met 'n hart vol blydskap oor die diens wat hy met vrug kon hou, een van sy geliefkoosde liedere gesit en sing, terwyl die perd ritmies voort gallop.
"Halt!" kom dit skielik uit die donker en sy perd se teuels word stewig vasgegryp. "Jou geld of jou lewe!"
Wesley het die voorval as heeltemal grappig beskou en sy sakke, wat net 'n paar muntstukkies bevat het, omgedop. Daarna het hy die rower toegelaat om sy saalsakke te deursoek. Daarin was net geestelike boeke.
Die rower het teleurgesteld weggedraai. Wesley roep hom terug: "Wag, ek het nog iets vir jou." Die rower kom behoedsaam nader.
"My vriend," sê Wesley ernstig, terwyl hy na hom toe oorleuen. "Daar mag 'n dag aanbreek dat jy berou sal hê oor die soort lewe wat jy nou lei. As dit gebeur, onthou dan: 'Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde.'"
            Jare later was mnr. Wesley al 'n gryse ou prediker, toe 'n welgeklede man hom een aand na 'n diens voorkeer. Dit was die struikrower van Honslow Heath. Nou 'n vooraanstaande sakeman in die stad, en, nog beter, 'n kind van God.
Die woord wat Wesley daardie aand so ernstig en met soveel liefde tot hom gerig het, het hom bygebly en tot sy redding gelei.
            Ons moet nooit vrees nie. God bewaar ons as ons, ons op Sy weg bevind. En ons moet gereed wees om onder enige omstandigheid die Evangelie aan ander oor te dra - deur woorde of deur 'n blaadjie. Die Evangelie word deur die Heilige Gees, 'n onweerstaanbare, innerlike krag wat soos smeulende kole voortbrand in 'n hart, selfs lank na dit gehoor is.
            Die saad wat jy saai is vrugbaar en sal vir seker opkom.
            Dit is deesdase polities korrek om te aanvaar dat alle godsdienste na die Hemel lei. Jesus Christus vernietig daardie denke summier: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.” Joh 10:9
            Die oes is groot, die tyd is min, bring die Evangelie met die gesag van Jesus Christus… Tydig en Ontydig. 

Maandag 13 Junie 2016

Dan ontmoet ons weer mekaar...



Die Olyfberg is deel van Oos Jerusalem en onder Israel se beheer. (Tans is daar konflik tussen Israel en die Palestyne oor Oos-Jerusalem en die Golan Hoogtes – Eerste Minister Benjamin Netanyahu het pas gesê Israel sal nooit in der ewigheid van Jerusalem en die Golan Hoogtes afstand doen nie).
In hierdie geskrif gaan dit oor die verseëlde Goue Poort (of Gate of Mercy of The Eastern Gate) waardeur die koms van die Messias voorspel is.  Vir hierdie rede het baie Jode die Olyfberg gekies as begraafplaas, sodat hulle, wanneer die Messias kom, van die eerstes sal wees om Hom deur die Oospoort te volg.
Hieroor sê Jesus: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” Matt 19:30
Die Turke het die Oospoort in 1530 gesluit en dit is vandag nog toegebou. Die Ou Stad het nege poorte. Al die poorte is oop, behalwe die Oospoort. Dit sal eers oopgaan met Jesus se Koms, word geglo.



Die Bybel wys dat Jesus destyds op sy reise telkemale heen  en terug deur die Oospoort beweeg het. Volgens die Joodse Bybelse tradisie gaan Jesus deur die Oospoort Jerusalem binnegaan by Sy Wederkoms.
“Toe het hy my teruggebring na die buitenste poort van die Heiligdom wat na die ooste kyk; en dit was gesluit.
“En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly.
“Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die HERE; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan.” Eseg 44:1-3
Met Jesus se Koms gaan ‘n aardskudding die Olyfberg splyt: “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.
“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal weg wyk na die noorde en die ander helfte na die suide.” Sag 14: 4-5
Die begraafplaas teen die olyfberg is baie klipperig. Hier is geen blomme op grafte nie... ‘n Joodse gebruik is om klein klippies op die graf te plaas om aan te toon dat hulle die graf besoek het. Die begraafplaas sit teen die hange van die Olyfberg waar eens net olyfbome gegroei het.
Besoekers aan die Olyfberg staan op heilige grond. Omtrent 2000 jaar gelede, het Jesus hier teen die hange van die Olyfberg gestaan en uitgekyk oor die Ou Stad en profesieë uitgespreek wat die ganse wêreld verander het, met die grootste daarvan, Sy Wederkoms, waarna ons reikhalsend uitsien.
Die Olyfberg word eers genoem tydens die vlugtog van Dawid (2 Sam 15:30) en word ook genoem in Sag 14:4, 1 Kon 11:7, 2 Kon 23:13, Neh 8:15, Eseg 11:23. Dawid vlug uit Jerusalem tydens die opstand van Absalom.
Kaalvoet, met bedekte hoof, wenende, klim koning Dawid die Olyfberg uit. Op die top bid hy. Hy ontmoet sy vriend Husai daar. ‘n Entjie verder ontvang hy ‘n opgesaalde esel en proviand vir sy vlug na die Jordaanrivier. 2 Sam 15: 30-31
Eeue later ontvang Jesus, Seun van Dawid, ook ‘n esel op die Olyfberg om Jerusalem mee binne te ry….
Die Olyfberg word verskeie kere genoem in die Nuwe Testament as die roete van Jerusalem na Betanië wat strek oor die Olyfberg. Matt 21:1,26:30. Jesus het baie tyd op die berg spandeer waar hy ook lering en profesieë aan sy dissipels deurgegee het.
Aan die voet van die Olyfberg is die Tuin van Getsemane. Jesus en sy Vriende hier saam gesing het: “En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.” Matt 26:30
Jesus het ook vanhier na die Hemel opgevaar. Hand 1:9-11
Die beroemde Olyfberg Profetiese rede, soos dit in Matt 24, Mark 13 en Luk 21 opgetekenis, vorm die kern van Bybelprofesie. Hierdie kernprofesie wat Jesus enkele dae voor Sy Kruisiging in afsondering aan Sy dissipels oorgedra het, gee ons ‘n woordbeeld van die Eindtydgebeure.
Omdat Jesus hier gaan verskyn, is besoekers aan die Olyfberg besig om olyfbome daar te plant in afwagting en ter verwelkoming van Jesus se Koms.
Daar is ‘n pragtige lied is oor die Oospoort geskryf. Die lirieke en musiek is soos volg:
The Eastern Gate
I will meet you in the morning,
Just inside the Eastern Gate;
Then be ready, faithful pilgrim,
Lest with you it be too late.

Refrain:
I will meet you, I will meet you
Just inside the Eastern Gate over there;
I will meet you, I will meet you,
I will meet you in the morning over there.

If you hasten off to glory,
Linger near the Eastern Gate,
For I’m coming in the morning;
So you’ll not have long to wait.

Keep your lamps all trimmed and burning;
For the Bridegroom watch and wait;
He’ll be with us at the meeting
Just inside the Eastern Gate.

Oh, the joys of that glad meeting
With the saints who for us wait!
What a blessed, happy meeting
Just inside the Eastern Gate!

http://www.bing.com/videos/search?q=the+eastern+gate+youtube&view=detail&mid=943D3E6FD52BB0ABC65A943D3E6FD52BB0ABC65A&FORM=VIRE

“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
“Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matt 24:42-44.
En dan ontmoet ons almal weer mekaar. – Sjibbolet

Donderdag 03 Maart 2016

Die Koning kom...


Image result for coin with no value

“En daarna sal Ek my Gees uitgiet op ALLE vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge
gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Joël 2:28-29 ... en dis besig om te gebeur.

Ek, as ou mens, droom ek stap op die Tempelberg in Jerusalem en ek tel ‘n silwer muntstuk op, lyk byna soos ons ou sikspens. Agterop waar die waarde moet wees, staan “O Value”.
Ek was verstom want nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het ‘n land ‘n muntstuk gemunt met ‘n “0 waarde” nie. Hoekom sou iemand so iets doen? Selfs ons ou kwartpennie, die oortjie, had ‘n waarde.
            Ek het ‘n plaaslike koerant die muntstuk gewys en my storie vertel. ‘n Berig oor hierdie vreemde munt het in die Israelse koerante verskyn en vandaar het dit gou wêreldwyd versprei.
            Muntversamelaars het mekaar byna verdring met aanbiedinge om die vreemde munt met sy 0 waarde te bekom... eers in duisende toe tienduisende, toe miljoene.
            Die hoogste bod net voordat die droom geëindig het, was R3 biljoen rand.
            Ek wou dit nie verkoop nie. Vir my had dit ‘n “ander” veel groter waarde.
            Dit is ‘n EINDTYD WAARSKUWING... “Want die HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Amos 3:7
            Die HERE het nog altyd die wêreld gewaarsku van toekomende veroordelings... so is Noag gewaarsku oor die komende vloed:  “En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.” Gen 6:13          
            Abraham en Lot is gewaarsku oor die uitdelg van Sodom en Gomorra (Gen 18:17; 19:14), Moses en die 10 plae van Egipte (Ex 7:1), Amos en die val van Sirië, Filistia, Tirus. Edom, Ammon, Moab, Juda en Israel (Amos 1 & 2)
            In Esegiël sê die HERE: “Nou is die einde oor jou....” Eseg 7:3 en verder.
Daar was n tyd toe Israel, God se volk Hom geterg het, deur afgode te aanbid pleks van Hom. Hulle het dit wat geen lewe in hulle gehad het nie bokant Hom gekies en dit aanbid. En die Bybel sê dat God het Sy volk VERKOOP.
Hier sien mens dieselfde... regoor die wêreld vertrou mense alles behalwe op God en het SILWER en GOUD hulle god geword.
En die waarskuwing is dat die Einde is hier... waar hulle die silwer muntstuk met geen waarde, op die strate gooi, en hulle goud sal ‘n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid. Eseg 7:19
            Waarom wil so baie mense die silwer munt met 0 waarde bekom?
            “En Ek sal dit in die hand van vreemdes oorgee as roof en aan die goddelose van die aarde as buit, dat hulle dit ontheilig.
            “Ook sal Ek my aangesig van hulle afwend, en hulle sal my skat ontheilig: inbrekers sal daar inkom en dit ontheilig.” Eseg 7:21-22
            Die Here laat dit toe, dit wat hulle afgod was, word nou die put waarin hulle val.
            Selfs die leiers van die mense en lande is binnekort hulpeloos. Die HERE het gesê dat kort voor sy Koms sal dit gaan soos in die dae van Noag en Sodom en Gomorra en... reeds gaan dit veel erger as toe.
            Daar is oorloë in 66 lande van die wêreld en 689 regerings en militante groepe neem daaraan deel.
            Christene word op die mees afgryslikste maniere in 22 lande vermoor. Dit het begin met onthoofding, die jongste is om met tenks oor hulle te ry. Klein seuntjies se geslagdele word afgesny en dan word die seuntjies in die woestyn agtergelaat om dood te bloei.
            Daar is meer as 29 miljoen slawe in die wêreld, die meeste van hulle vroue, jong meisies en meisiekinders wat ontvoer en as seksslawe verkoop word.
            Miljoene mense, ook Christene, vlug oor die aarde heen, meesal na Europa.
            In Sirië op die grens van Israel is 12 lugmagte aan die veg. Onder hulle is Rusland (Gog), Iran (Persië) en Sjina (die Konings uit die Ooste). Die Palestyne, onder aanvoering van Iran, is besig om in die Golan Hoogtes in te beweeg. Die Israelse Premier, Benjamin Netanyahu het pas gewaarsku Israel monitor die situasie haarfyn. Basies is op ons die rand van nog ‘n oorlog.
            Sommige soos Frankryk en Egipte verskuif die oorlog na Libië en steeds is die Islamitiese Staat nie uitgewis nie. Op plekke is die Islamitiese Staat reeds besig om grondgebied terug te neem.
            Die droom in hierdie geskrif, speel af in Jerusalem, die middelpunt van die aarde, die stad wat dien as barometer in Eindtyd profesieë.
            Die silwer munt se waarde is 0. God kan so ‘n muntstuk skep want Hy stuur ‘n boodskap. Die einde is hier.
            Danie Botha se nuutste lied “Dit is die Laaste Uur” pas treffend hierby in.
Die laatreëns, ‘n magtige Herlewing, val reeds. Dis tyd om die Getal vol te maak. Bring die gerwe in. Die Koning Kom!
As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik. besoek www.thesower.org.za
Vir geestelike hulp of gebed, skryf aan: belindapaar@gmail.com  by Tabernakel Bedieninge.
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbolet

Dinsdag 23 Junie 2015

Triomf of Trauma!


  Image result for wederkoms van jesus christus  Die keuse is jou eie









ONS lewe in die tyd van profetiese vervulling. Twee daarvan gaan die hele mensdom en die lewe op aarde dramaties en traumaties verander: Die verdrukking wat aandstonds oorgaan tot die sewejarige Groot Verdrukking, en die Wederkoms van Christus, ons Verlosser en Saligmaker!
          Dramaties en traumaties vir diegene wat God in Sy volheid nog nie ken nie, maar in triomf vir diegene wat, net soos die natuur Sy Wederkoms met reikhalsende verlange afwag!
          Die keuse berus by ons: Triomf of trauma!
          Ons bevind ons in ‘n tydvak waar meer profesie as tevore in vervulling gaan.  So bevind ons ook onsself veel nader aan die tyd van die Groot Verdrukking en die Wederkoms.
          Die eerste tekens van verdrukking is reeds duidelik oor die wêreld sigbaar. Die opmars van antichristiese magte en invloede, asook terrorisme en oorlog, is sterk aan die toeneem.
          Oor die wêreld heen, ook in ons eie land, smeul die onheil. Die lys van onmenslike booshede word by die dag langer. Let op die afgryslike moorde en verkragting in SA.
          Waarom sou iemand dink dat hy of sy hierdie dinge kan ontvlug? Sommige sluit hulle eenvoudig af vir hierdie gebeure. Hulle lees nie koerante nie, luister of kyk nie na nuusuitsendings nie. Die feit dat mense met hulle gedagtes die werklikhede probeer ontvlug, is die grootste klug van ons tyd.
          Ander besluit om kompromieë aan te gaan. Hulle lees darem so hier en daar die Bybel en gaan soms na ‘n kerkdiens.
          Maar min dien die waaragtige God met hulle hele hart, hulle hele siel en hulle hele verstand!
          Inderdaad leef ons in die tyd van die Laodisense, die tyd van menslike geregtigheid waar mense dink hulle regte word deur verdrae en wette beskerm.  Mense eet steeds soos Eva van die Boom van die Kennis in plaas van die Boom van die Lewe!
          Net een ding beskerm ‘n mens se regte, en dit is die bloed van Christus en sy Heilige Engele.
          2 Pet.1:19 lees: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is (onwankelbaar is), waarop julle tog ag moet gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (vir hoe lank?) totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte.”
          God hou sy hand oor die Planeet Aarde. Hy sal nie Sy profetiese woorde rakende die mensdom en die planeet verander nie. Hy het verklaar dat sekere gebeure gaan plaasvind en geen niemand kan dit wysig nie.
          Nogtans is daar ‘n keuse vir die mensdom. Hy kan die oordele wat kom ontvlug deur veilig in Jesus hoede (die Ark) die skuil, of hy gaan voort op die pad van die Ewige verderf.
          God sê in Jer. 29:11 “Want Ek weet die gedagtes wat Ek oor julle koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”
          Niks wat op hierdie planeet gebeur, kan vir God onkant betrap nie. Selfs ‘n mossie val nie na die aarde sonder dat Hy daarvan bewus is nie.
          God sê in Jes. 46:11-10 “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê:  My raad sal bestaan en al wat My behaag, sal Ek doen.”
          Nog voordat die satan sy aanvalle kan loods, het God reeds ‘n plan om Sy Bruid (die Wedergeborenes) triomfantelik en in grootse glorie uit die toenemende verderf uit te lei.
          Jes. hoofstuk 59 is getiteld “Geen verlossing sonder bekering.”  En dan Sy belofte in strofe 20: “Vir Sion kom Hy as Verlosser en vir diegene wat hulle bekeer van oortreding in Jakob.”
          Dit is nie in God se guns dat ons verslaan word nie. Ons word bloot verslaan wanneer ons God se Woord ignoreer.
          Sy Woord sê bv. in Jes. 54:17 “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê.”
          Vir wie sê Hy dit? “Dit is die erfdeel (dit is maar ‘n klein deeltjie van ons totale erfporsie) van die knegte van die Here,  en hulle geregtigheid wat uit My is.”
          Soos wat ons ‘n Testament nalaat om ons kinders te laat erwe, so het Christus Sy Nuwe Testament vir ons as Sy kinders nagelaat. Daarin is ons totale erfporsie vervat.
          2 Kor. 2:14 lees: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van Sy kennis (hoe?) deur ons, oral versprei (hoekom?) want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God (waar?) onder diegene wat gered word en onder diegene wat verlore gaan; vir die laaste, ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste, ‘n reuk van lewe tot die lewe.”
          Is jy tot hierdie dinge bekwaam?
          Elke profesie oor die geboorte, sterwe en opstanding van Christus het presies plaasgevind soos wat vroeër geprofeteer is. Net so sal die profesie oor die Groot Verdrukking en Sy Wederkoms, waarna selfs die natuur met reikhalsende verlange uitsien, beslis ook plaasvind.
          Dit is waarom Petrus ons waarsku om nou te let op die profesieë sodat ons nie onkant betrap word nie, sodat ons genoeg olie in ons lampe sal hê.
          Iemand het ‘n mooi kaart teen die muur in sy kantoor aangebring wat lees:  “Dalk Vandag – Perhaps Today”.  Besoekers wil telkens weet wat dit beteken, dan antwoord hy triomfantelik: “Dalk vind die Wederkoms vandag plaas en ek herinner myself daaraan deur dit enige dag te lees.”
          Soos wat ‘n perd met ‘n toom en leisels in toom gehou word, so kan ons onsself elke dag in toom hou, deur onsself elke dag aan Sy Wederkoms te herinner, want, inderdaad kan dit ter eniger tyd plaasvind.
          Intussen arbeid ons vreugdevol aan ons dagtaak en in die uitdra van die Evangelie. Al weet ons dat die Wederkoms more gaan plaasvind, dan plant ons vandag ook weer ‘n boom.
          Daar is nog tyd vir siele om gered te word. Dink net, as iemand nie vir my en jou gebid het nie dan was dalk vandag nog nie gered nie.
          In die Hiernamaals weet almal alles. Sekerlik sou ons nie van ons buurman wou hoor: Jy was toe al die tyd gered en jy het my nooit van Jesus se reddende genade vertel nie!
          Rom. 13:11-14 lees:  “… omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die verlossing is nou nader as toe ons gelowig geword het.
          “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.  Laat ons dan aflê die werke van die duisternis en die wapens van die Lig aangord.
          “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid nie, nie in twis en nydigheid nie.
          “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
          Die keuse tussen Triomf of  Trauma is jou eie! – Sjibbolet