Donderdag 03 Maart 2016

Die Koning kom...


Image result for coin with no value

“En daarna sal Ek my Gees uitgiet op ALLE vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge
gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Joël 2:28-29 ... en dis besig om te gebeur.

Ek, as ou mens, droom ek stap op die Tempelberg in Jerusalem en ek tel ‘n silwer muntstuk op, lyk byna soos ons ou sikspens. Agterop waar die waarde moet wees, staan “O Value”.
Ek was verstom want nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het ‘n land ‘n muntstuk gemunt met ‘n “0 waarde” nie. Hoekom sou iemand so iets doen? Selfs ons ou kwartpennie, die oortjie, had ‘n waarde.
            Ek het ‘n plaaslike koerant die muntstuk gewys en my storie vertel. ‘n Berig oor hierdie vreemde munt het in die Israelse koerante verskyn en vandaar het dit gou wêreldwyd versprei.
            Muntversamelaars het mekaar byna verdring met aanbiedinge om die vreemde munt met sy 0 waarde te bekom... eers in duisende toe tienduisende, toe miljoene.
            Die hoogste bod net voordat die droom geëindig het, was R3 biljoen rand.
            Ek wou dit nie verkoop nie. Vir my had dit ‘n “ander” veel groter waarde.
            Dit is ‘n EINDTYD WAARSKUWING... “Want die HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Amos 3:7
            Die HERE het nog altyd die wêreld gewaarsku van toekomende veroordelings... so is Noag gewaarsku oor die komende vloed:  “En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.” Gen 6:13          
            Abraham en Lot is gewaarsku oor die uitdelg van Sodom en Gomorra (Gen 18:17; 19:14), Moses en die 10 plae van Egipte (Ex 7:1), Amos en die val van Sirië, Filistia, Tirus. Edom, Ammon, Moab, Juda en Israel (Amos 1 & 2)
            In Esegiël sê die HERE: “Nou is die einde oor jou....” Eseg 7:3 en verder.
Daar was n tyd toe Israel, God se volk Hom geterg het, deur afgode te aanbid pleks van Hom. Hulle het dit wat geen lewe in hulle gehad het nie bokant Hom gekies en dit aanbid. En die Bybel sê dat God het Sy volk VERKOOP.
Hier sien mens dieselfde... regoor die wêreld vertrou mense alles behalwe op God en het SILWER en GOUD hulle god geword.
En die waarskuwing is dat die Einde is hier... waar hulle die silwer muntstuk met geen waarde, op die strate gooi, en hulle goud sal ‘n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid. Eseg 7:19
            Waarom wil so baie mense die silwer munt met 0 waarde bekom?
            “En Ek sal dit in die hand van vreemdes oorgee as roof en aan die goddelose van die aarde as buit, dat hulle dit ontheilig.
            “Ook sal Ek my aangesig van hulle afwend, en hulle sal my skat ontheilig: inbrekers sal daar inkom en dit ontheilig.” Eseg 7:21-22
            Die Here laat dit toe, dit wat hulle afgod was, word nou die put waarin hulle val.
            Selfs die leiers van die mense en lande is binnekort hulpeloos. Die HERE het gesê dat kort voor sy Koms sal dit gaan soos in die dae van Noag en Sodom en Gomorra en... reeds gaan dit veel erger as toe.
            Daar is oorloë in 66 lande van die wêreld en 689 regerings en militante groepe neem daaraan deel.
            Christene word op die mees afgryslikste maniere in 22 lande vermoor. Dit het begin met onthoofding, die jongste is om met tenks oor hulle te ry. Klein seuntjies se geslagdele word afgesny en dan word die seuntjies in die woestyn agtergelaat om dood te bloei.
            Daar is meer as 29 miljoen slawe in die wêreld, die meeste van hulle vroue, jong meisies en meisiekinders wat ontvoer en as seksslawe verkoop word.
            Miljoene mense, ook Christene, vlug oor die aarde heen, meesal na Europa.
            In Sirië op die grens van Israel is 12 lugmagte aan die veg. Onder hulle is Rusland (Gog), Iran (Persië) en Sjina (die Konings uit die Ooste). Die Palestyne, onder aanvoering van Iran, is besig om in die Golan Hoogtes in te beweeg. Die Israelse Premier, Benjamin Netanyahu het pas gewaarsku Israel monitor die situasie haarfyn. Basies is op ons die rand van nog ‘n oorlog.
            Sommige soos Frankryk en Egipte verskuif die oorlog na Libië en steeds is die Islamitiese Staat nie uitgewis nie. Op plekke is die Islamitiese Staat reeds besig om grondgebied terug te neem.
            Die droom in hierdie geskrif, speel af in Jerusalem, die middelpunt van die aarde, die stad wat dien as barometer in Eindtyd profesieë.
            Die silwer munt se waarde is 0. God kan so ‘n muntstuk skep want Hy stuur ‘n boodskap. Die einde is hier.
            Danie Botha se nuutste lied “Dit is die Laaste Uur” pas treffend hierby in.
Die laatreëns, ‘n magtige Herlewing, val reeds. Dis tyd om die Getal vol te maak. Bring die gerwe in. Die Koning Kom!
As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik. besoek www.thesower.org.za
Vir geestelike hulp of gebed, skryf aan: belindapaar@gmail.com  by Tabernakel Bedieninge.
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbolet