Dinsdag 15 Maart 2016

Jy is wat jy dink...


Image result for cross


"Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”Fil 2:7 En ek en jy...?

            In David McCullough se boek Truman, oor die lewe van die VSA-president Harry Truman, wat net na die Tweede Wêreldoorlog in 1945 president van die VSA geword het, vertel hy dat Truman se groot strewe was om in aanraking met die gewone burgers van die land te bly.

So dikwels as wat hy kon het hy tussen die mense beweeg. Hy was lief om alleen te gaan stap en dan met mense te praat. McCullough skryf: "Dit was in die gewone goeie ou dae toe ‘n president soos enige ander persoon op sy eie kon gaan wandel.”

“So gebeur dit dat Truman een aand besluit om na die Gedenkbrug oor die Potomac rivier te stap. Die rivier loop al langs die mid-Atlantiese kusstrook en vloei uiteindelik uit in die Chesapeake Baai. Die rivier 652km lank en die 21e grootste rivier in die VSA.

Toe Pres truman by die brug kom, was hy nuuskierig oor die meganisme wat die middelgedeelte van die brug oplig en weer laat sak, sodat groot seevaartuie daar onder kon deurkom.

Hy stap oor die brug en met trappies af na die meganiese deel toe. Daar kom hy onverwags op die brugwag af wat uit sy bliktrommeltjie sy aandete nuttig.

Die man lyk glad nie verras om die wêreld se bekendste en magtigste man by hom te sien nie. Hy sluk die mondvol kos af, vee sy mond af, glimlag en merk op: "Meneer die President, ek het juis nou net aan u gesit en dink." Hieroor skryf McCullough: “Dit was ‘n groet wat Truman waardeer het en nooit vergeet het nie.”
            Ons Koning, Jesus Christus, het Sy troon verlaat en as mens, tussen gewone mense beweeg. In die vier Evangelies verskyn die naam, Seun van die mens, uit Jesus se mond, meer as 55 keer.
Uit die Bybel, uit boeke, deur prediking, het ons die Persoon van Jesus leer ken. Ons het Hom ook persoonlik leer ken. Watter plek het Hy in óns gedagtewêreld? Nou en dag? Deurlopend? Hoe moet dit ons Here nie behaag as ons dikwels aan Hom dink nie! Wie Hy is; hoe Hy op aarde geleef het, hoe Hy vir ons gesterf het; Sy Koningskap waar Hy nou op Sy troon in die Hemel sit, en tog, hoe Hy deur Sy Heilige Gees deurentyd by ons is; Sy liefde vir ons en die plek wat Hy in die Vader se huis vir ons gaan regmaak het, sodat ons eendag vir ewig by Hom kan bly.

Laat Jesus jou gedagte vol maak. Ralph Waldo Emerson het eens gesê: “’n Man is wat hy heeldag aan dink.” En Marcus Aurelius het gesê: “Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak.”

            As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za

     As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
 
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA. Ons het dit al twee keer beleef, ons het weer groot behoefte daaraan – Sjibbolet