Sondag 27 Maart 2016

My Verlosser Leef...


Image result for the grave is empty

Habakuk staan sterk in die geloof. Iemand anders het straks sterker gestaan, maar Job is nie bra bemind onder ons nie.... sy bladsye en bladsye van swaarkry wil mens net-net ontmoedig.
            Kyk vir Habakuk: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17-19
            Met Habakuk vereenselwig ons, ons maklik. Kom ons gee Job ook ‘n kans....
            Te midde van sy ellende, sê Job: “Maar ek, ek weet, my Verlosser leef.” Job 19-25.
            Job is deur ‘n baie strawwe tyd. Behalwe dat hy die wreedste liggaamlike pyn moes deurmaak was sy diepste smart seker toe hy sê: “My broers, bekendes, naasbestaandes, vertroudes, huismense, slawe, my vrou, jong seuns, vriende en diegene wat ek liefhet.... het teen my gedraai.” Dit moes bitter hartseer gewees het.
            Job het soos baie ander na hom, die werklikheid, hoe wreed ook al, moes aanvaar: Dat mens nie op jouself en op ander mense kan vertrou nie. Die enigste ware en onwrikbare vertroue is in jou Verlosser.
            In sy toestand van uiterste ellende besef Job dat verlossing deur eie krag of met die hulp van mense, onmoontlik is... God self is die enigste Verlosser. Job bely egter nie sommer enige Verlosser nie, nee, hy bely ‘n persoonlike Verlosser, die een waarvan hy seker is en hy noem hom: “My Verlosser.”
            Al het Job al sy rykdom verloor is daar geen groter rykdom op hierdie aarde as die skat der skatte, Jesus Christus nie. Job het al sy vriende en dierbares verloor. Maar sy dierbaarste en getroue vriend het hy steeds na opgesien en Hom bely.
            Ons kan dit seker ook sê: “My Verlosser leef!” Maar hoevele ander wat ons ken kan dit ook sê. Hulle het jou en jou gebede nodig. Staan by hulle.
            Daar was baie gebeurtenisse in Job se lewe wat hy nie kon verstaan nie. Ons is ook soms in soveel probleme vasgevang dat ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. Dan sit ons hande in die hare oor die waaroms en die hoekoms... en die antwoorde ontbreek net.
            Tussen dit alles deur het Job geweet dat hy weet: Sy Verlosser Leef? Hieroor was daar by Job geen onsekerheid, geen twyfel nie. Jy en ek het hierdie geloofsversekering, maar wat van die ander rondom jou.
            Ek het tussen hulle beweeg, van huis tot huis... Ek wou weet of hulle geloofsekerheid het, soveel so dat as die Wederkoms vandag sou plaasvind, of hulle met my sou saamgaan...
            En die antwoord: “Nee meneer, ek het te veel sonde”; “ek hoop so”; “ek dink so”; “dalk meneer”. Hulle het deur die bank die wonder misgeloop om in grootse vertroue, blydskap en heerlikheid saam met my kon uitroep: “Ek weet my verlosser leef!”
            Na besoeke aan sowat 40 huise, was daar sewe enkelinge wat een vir een kom kniel het en Jesus Christus as Verlosser aangeneem het.      
            Rondom Job was geen teken van lewe nie. Daar was geen hoop op niks behalwe hoop op die dood. Alles om hom is onheilspellend, maar die lig in sy donker lewe is die wete dat sy Verlosser leef.
            Ander sou straks al selfmoord gepleeg het, net moed verloor het en hulpelose boemelaars geword het... mense wie se enigste hoop ‘n paar rand is om net-net aan die lewe te bly.
            Daar is geen heerliker sekerheid vir die verloste sondaar nie as dat sy Verlosser Leef.
            Vir ons wat Wedergebore is, is daar ‘n wonderlike en blye vooruitsig dat die beste, die heel beste, nog voorlê. Ons jubel daarin dat ons reeds die Ewige Lewe ontvang het en dat ons op pad na die Nuwe Jerusalem is.
            Diegene in jou straat, by jou werk, in ander kringe waar jy beweeg, wat van hulle? As iemand nie vir jou gebid het nie, was jy nie vandag kind van God nie.
            Dink ernstig oor die ander. Jy en ek is geroep om hulle in te bring en die getal vol te maak. Bid soos nog nooit.
            Indien jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za  
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com    
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA  – Sjibbolet