Wys tans plasings met die etiket Die Groot Verdrukking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die Groot Verdrukking. Wys alle plasings

Dinsdag 23 Junie 2015

Triomf of Trauma!


  Image result for wederkoms van jesus christus  Die keuse is jou eie









ONS lewe in die tyd van profetiese vervulling. Twee daarvan gaan die hele mensdom en die lewe op aarde dramaties en traumaties verander: Die verdrukking wat aandstonds oorgaan tot die sewejarige Groot Verdrukking, en die Wederkoms van Christus, ons Verlosser en Saligmaker!
          Dramaties en traumaties vir diegene wat God in Sy volheid nog nie ken nie, maar in triomf vir diegene wat, net soos die natuur Sy Wederkoms met reikhalsende verlange afwag!
          Die keuse berus by ons: Triomf of trauma!
          Ons bevind ons in ‘n tydvak waar meer profesie as tevore in vervulling gaan.  So bevind ons ook onsself veel nader aan die tyd van die Groot Verdrukking en die Wederkoms.
          Die eerste tekens van verdrukking is reeds duidelik oor die wêreld sigbaar. Die opmars van antichristiese magte en invloede, asook terrorisme en oorlog, is sterk aan die toeneem.
          Oor die wêreld heen, ook in ons eie land, smeul die onheil. Die lys van onmenslike booshede word by die dag langer. Let op die afgryslike moorde en verkragting in SA.
          Waarom sou iemand dink dat hy of sy hierdie dinge kan ontvlug? Sommige sluit hulle eenvoudig af vir hierdie gebeure. Hulle lees nie koerante nie, luister of kyk nie na nuusuitsendings nie. Die feit dat mense met hulle gedagtes die werklikhede probeer ontvlug, is die grootste klug van ons tyd.
          Ander besluit om kompromieë aan te gaan. Hulle lees darem so hier en daar die Bybel en gaan soms na ‘n kerkdiens.
          Maar min dien die waaragtige God met hulle hele hart, hulle hele siel en hulle hele verstand!
          Inderdaad leef ons in die tyd van die Laodisense, die tyd van menslike geregtigheid waar mense dink hulle regte word deur verdrae en wette beskerm.  Mense eet steeds soos Eva van die Boom van die Kennis in plaas van die Boom van die Lewe!
          Net een ding beskerm ‘n mens se regte, en dit is die bloed van Christus en sy Heilige Engele.
          2 Pet.1:19 lees: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is (onwankelbaar is), waarop julle tog ag moet gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (vir hoe lank?) totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte.”
          God hou sy hand oor die Planeet Aarde. Hy sal nie Sy profetiese woorde rakende die mensdom en die planeet verander nie. Hy het verklaar dat sekere gebeure gaan plaasvind en geen niemand kan dit wysig nie.
          Nogtans is daar ‘n keuse vir die mensdom. Hy kan die oordele wat kom ontvlug deur veilig in Jesus hoede (die Ark) die skuil, of hy gaan voort op die pad van die Ewige verderf.
          God sê in Jer. 29:11 “Want Ek weet die gedagtes wat Ek oor julle koester, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”
          Niks wat op hierdie planeet gebeur, kan vir God onkant betrap nie. Selfs ‘n mossie val nie na die aarde sonder dat Hy daarvan bewus is nie.
          God sê in Jes. 46:11-10 “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê:  My raad sal bestaan en al wat My behaag, sal Ek doen.”
          Nog voordat die satan sy aanvalle kan loods, het God reeds ‘n plan om Sy Bruid (die Wedergeborenes) triomfantelik en in grootse glorie uit die toenemende verderf uit te lei.
          Jes. hoofstuk 59 is getiteld “Geen verlossing sonder bekering.”  En dan Sy belofte in strofe 20: “Vir Sion kom Hy as Verlosser en vir diegene wat hulle bekeer van oortreding in Jakob.”
          Dit is nie in God se guns dat ons verslaan word nie. Ons word bloot verslaan wanneer ons God se Woord ignoreer.
          Sy Woord sê bv. in Jes. 54:17 “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê.”
          Vir wie sê Hy dit? “Dit is die erfdeel (dit is maar ‘n klein deeltjie van ons totale erfporsie) van die knegte van die Here,  en hulle geregtigheid wat uit My is.”
          Soos wat ons ‘n Testament nalaat om ons kinders te laat erwe, so het Christus Sy Nuwe Testament vir ons as Sy kinders nagelaat. Daarin is ons totale erfporsie vervat.
          2 Kor. 2:14 lees: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van Sy kennis (hoe?) deur ons, oral versprei (hoekom?) want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God (waar?) onder diegene wat gered word en onder diegene wat verlore gaan; vir die laaste, ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste, ‘n reuk van lewe tot die lewe.”
          Is jy tot hierdie dinge bekwaam?
          Elke profesie oor die geboorte, sterwe en opstanding van Christus het presies plaasgevind soos wat vroeër geprofeteer is. Net so sal die profesie oor die Groot Verdrukking en Sy Wederkoms, waarna selfs die natuur met reikhalsende verlange uitsien, beslis ook plaasvind.
          Dit is waarom Petrus ons waarsku om nou te let op die profesieë sodat ons nie onkant betrap word nie, sodat ons genoeg olie in ons lampe sal hê.
          Iemand het ‘n mooi kaart teen die muur in sy kantoor aangebring wat lees:  “Dalk Vandag – Perhaps Today”.  Besoekers wil telkens weet wat dit beteken, dan antwoord hy triomfantelik: “Dalk vind die Wederkoms vandag plaas en ek herinner myself daaraan deur dit enige dag te lees.”
          Soos wat ‘n perd met ‘n toom en leisels in toom gehou word, so kan ons onsself elke dag in toom hou, deur onsself elke dag aan Sy Wederkoms te herinner, want, inderdaad kan dit ter eniger tyd plaasvind.
          Intussen arbeid ons vreugdevol aan ons dagtaak en in die uitdra van die Evangelie. Al weet ons dat die Wederkoms more gaan plaasvind, dan plant ons vandag ook weer ‘n boom.
          Daar is nog tyd vir siele om gered te word. Dink net, as iemand nie vir my en jou gebid het nie dan was dalk vandag nog nie gered nie.
          In die Hiernamaals weet almal alles. Sekerlik sou ons nie van ons buurman wou hoor: Jy was toe al die tyd gered en jy het my nooit van Jesus se reddende genade vertel nie!
          Rom. 13:11-14 lees:  “… omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die verlossing is nou nader as toe ons gelowig geword het.
          “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.  Laat ons dan aflê die werke van die duisternis en die wapens van die Lig aangord.
          “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid nie, nie in twis en nydigheid nie.
          “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
          Die keuse tussen Triomf of  Trauma is jou eie! – Sjibbolet