2 Kor 12:10: "...ek (is) bly oor swakhede, ontberings, beledigings... want as ek swak is dan is ek sterk".
In 1710 kom die Duitse komponis, George Frederick Händel in Londen aan. Dertig jaar lank oorheers hy die musiekwêreld. Hy word beroemd, maar dit gaan nie goed met hom nie. Hy is arrogant, ontsettend energiek, dominerend, humeurig, goedhartig, maar kort van humeur. Hy het baie vyande en hulle werk saam om hom te vernietig. In 1737 kom die ineenstorting. Hy word bankrot verklaar.
Händel op 68
Op 13 April daardie jaar kry hy 'n beroerteaanval wat sy regterkant -arm verlam. Daar is min hoop vir sy herstel, maar hy kom tog weer op die been. Met oorgawe begin hy weer operas komponeer en dit gaan weer goed met hom. Toe sterf sy getroue beskermingsvorstin, Koningin Caroline van Hanover, Duitsland. Händel was toe 60 jaar oud. Hy was sieklik, afgemat, vol skuld, en teleurgesteld. Hy het van God en mens verlate gevoel. "Hoekom het God my laat leef?" het hy uitgeroep, "net om my weer deur my naaste te laat begrawe!"
Een aand by sy terugkeer na sy eenvoudige woonplek in Brookstraat, wag ‘n pakkie op hom. Haastig skeur hy dit oop. Binne is 'n libretto (teks van 'n operastuk). Dit is Charles Jennens se "Gewyde Oratorium" (Bybelse dramateks). Händel sug. Hy wil nie graag 'n godsdienstige werk hê nie. Hy blaas sy kers dood en gaan lê om te slaap – maar hy kry nie geslaap nie.
Hy staan weer op, steek sy kers op en neem die manuskrip op. Woorde op woorde - dit raak sy hart aan. "Hy was verag en verwerp deur die mens... Ek weet dat my Verlosser leef... Juig"
Hy wil oopbars van die musiek wat in sy gemoed opwel. Hy neem sy pen en begin skryf. Bladsy op bladsy musieknote vloei uit sy gees. Met bomenslike krag skryf die komponis dae lank, met min kos of slaap. Op die 24e dag gooi hy sy pen neer, val neer op sy bed en slaap elf ure lank. Op sy tafel lê die voltooide komposisie van Die Messias. Op 13 April 1742, die vyfde jaar na sy beroerteaanval, speel hy dit in Dublin. Daarna bied hy die uitvoering jaarliks aan. Op 13 April 1759, 22 jaar na sy beroerteaanval, 75 jaar oud en blind, dirigeer hy met moeite Die Messias die laaste keer. By die woorde "the trumpet shall sound" steier hy vooroor en val dood neer.
Die "Gospel Witness" skryf só oor hierdie werk van Händel: "Die Messias in al sy glorie, welbespraak in geloof en glorieryke hoop, leef en sal altyd leef.”
Na meer as twee en 'n half eeue is hierdie woorde steeds waar. Die Here het Händel gebruik om op 'n besondere wyse 'n getuienis oor Christus en Sy dood en opstanding voort te bring. A. Naismith vestig in sy boek Treasury of Notes, Quotes and Anecdotes ons aandag op 'n merkwaardige feit: "The highest note is in the lovely and lofty air, 'I know that my Redeemer liveth', and is reached on the word 'risen'. The composer realised that this one word is the key to the Gospel and to God's kingdom, and is proclaimed to all the world in the Gospel..."
Die sterk, briljante en gesonde Händel sou nie so 'n geïnspireerde werk tot eer van die Here kon lewer nie. In sy lewe was nie plek vir die gekruisigde Jesus nie. Die Here moes hom eers afbreek en in homself swak maak en hom met die vernederde, en daarna met die lewende en verheerlikte Christus in aanraking bring om hom te kon gebruik. Omdat Christus vir ons gebreek en verbrysel is, is daar vir ons ook nuwe krag en bruikbaarheid in Sy opstandingslewe.
Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15
Staan op en vertel aan ‘n verlore gaande wêreld: Die Messias kom, vir seker! – Sjibbolet