Wys tans plasings met die etiket Die Enige God; houtkruis;Christus; Red jou siel; huigelaars. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die Enige God; houtkruis;Christus; Red jou siel; huigelaars. Wys alle plasings

Saterdag 15 Desember 2018

Toewyding...



“’n Groot menigte het saam met Hom gegaan. Hy het omgedraai en vir hulle gesê... Luk 14:25.

Teen hierdie tyd het groot menigtes Jesus begin volg. Die groot menigte het Hom herhaaldelik en gereeld gevolg. Dis was dalk oor Sy wonderwerke of omdat Hy hulle gevoed het, ons weet nie die werklike rede nie, maar groot menigtes het hom beslis gevolg. Dit was in hierdie tyd wat Jesus omgedraai het en vasberade iets gesê het wat gemaak het dat baie mense Hom nie meer gevolg het nie.

“As iemand na My toe kom [d.i. met Hom die pad wil stap, Sy metgesel wil wees, Hom wil volg... dit was die vereiste] en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” Luk 14:26.

Wat kon die HERE hiermee bedoel het, wat sou ‘haat’ beteken? Dalk bedoel dit om minder lief te hê, so iets. Maar navorsing wys dit beteken inderdaad haat.

Jesus het die sterkste moontlike woord gebruik om die punt te beklemtoon. Hy het gesê, tensy jy jou vader, moeder, suster, broer, selfs jou eie lewe haat, kan jy nie Sy dissipel wees nie.

Hy het waarskynlik hier met ‘n paar beterweters te doen gehad, daarom dat Hy homself sterker uitgedruk het as in Matt 10:37 “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”

Wat is die intiemste verhouding wat jy al ooit op aarde gehad het? Dis jou moeder, of vader, of jou ma, of vrou of kinders. Wat maak jy as jou vrou teen jou draai en jou skei, of jou moeder of vader sterf? Wie gaan dan by jou staan? Dit sal jou broers en susters wees. Jesus sê, tensy jy hulle haat kan jy nie Sy dissipel wees nie.

Wat sê Hy? Jesus praat oor die intiemste verhoudings wat ons ooit sal hê. Hy vra van ons ‘n toewyding, ‘n verbondenheid waarin Hy eerste moet wees. Hy wil nommer een in ons lewens wees. Hy vergelyk die verhouding tussen hom en ons met die intiemste wat ons  ooit op aarde sal ken.

“Haat” is ‘n metafoor, ‘n woord van vergelyking, en Jesus sê, “My verhouding met jou is so belangrik dat ek verlang dat dit bo aardse dinge moet wees.” Daar is een persoon wat jy meer liefhet as jou vrou, jou kinders, jou ouers, jou susters of broers. Weet jy wie dit is? Dit is nie God nie... dit is jyself?

Jy het jouself meer lief as iemand in jou intiemste verhouding. Waarom breek huwelike op? Hoekom skei mense? Omdat hulle hulself meer liefhet as hul huweliksmaat. “Jy tree nie op soos ek wil hê jy moet optree nie, so ek raak ontslae van jou.”

Jesus sê daar is een verhouding wat bo nommer een moet wees, bo jou eie selfsugtige lewe. Dis ware dissipelskap. Hy praat nie oor ‘n geen-koste dissipelskap nie. Hy vra dat ons Hom moet volg. Hy vra om nommer een in ons lewens te wees.

Is Hy No 1 in jou lewe? - Wekroep

Donderdag 15 Januarie 2015

Watter GOD dien jy?




Die tydvak waarin ons leef bevind mense hulle in verskeie geesteswêrelde. So ontstaan die vraag: Watter God dien jy, jou God?
          In Amerika sê almal: Ek glo in God. Maar watter God sou hulle bedoel?  Op TV en in rolprente is gedurig uitroepe na god. Watter god sou hulle so na roep?
          Die Amerikaners se “ek glo in God” hoor mens ook in ander wêrelddele, soos in Suid-Afrika self.
          In TV-programme gaan dit nie oor die God van die Bybel nie, maar skielik is alles “spiritualiteit”.
          “Ek glo in God” het  soos ‘n skilderdoek geword waarop mense enige beeld  afets van wie hulle dink God is. Eintlik, omdat dit hulle eie skepping van God is, is dit niks minder nie as ‘n afgod wat hulle aanbid.
          Ons skaal God af na ‘n hanteerbare idioom. Hy mag nie wees wie Hy werklik is nie, hy moet afgeskaal word na waar Hy in my soort raamwerk inpas, ‘n raamwerk waar Hy vir my meer hanteerbaar is. Dis darem te veel gevra dat ek by Sy (Heilige) raamwerk inpas.
          Hierdie veralgemening van God kan die grootste sonde van die Kerk in ons tyd wees.
          Volgens die Bybelse Ensiklopedie is God in die Ou Testament genoem Adonai, El, Elohim, El-Eljoon, El-Sjaddai, JAHWE en Kedoosj Jisrael of Heilige van Israel.  In die Nuwe Testament word Hy ook genoem Theos en Kurios.
          Maar dit is bloot name, soos GOD, HERE, Drieënige God, ensomeer.
Wie is jy,  Magriet, Johannes?  Dit is bloot julle name, maar wie is julle?
          Ons sê maklik ons ken iemand, dan bedoel ons maar eintlik dat ons bloot weet wie hulle is. Om iemand te ken, is iets anders as om die naam of name te ken.
          So vertel ons soms ‘n storie oor iemand wat nie die waarheid is nie, want ons het bloot ‘n persepsie van die persoon. Ons ken nie werklik die persoon nie.
So het ons verkeerde persepsies oor ‘n magdom dinge en mense, bloot omdat ons nie ons self vergewis van die werklikhede en feite nie.
          Ons het ‘n persepsie oor God, maar ons ken nie die God van die Bybel nie want ons bestudeer nooit die Bybel nie.
          Wat is ons persepsie van God? Wie is Hy vir jou? Is Hy wie Hy werklik moet wees, of is Hy vir jou, jou selfgeskepte beeld wat jou pas?
          Dalk is Hy vir jou die God van jou rykdom en jou gesondheid. Is God jou bankoutomaat, dat Hy maar jou dienswillige dienskneg is en jou sal gee wat jy ook al wil hê en wanneer jy dit wil hê?
          Ons wanpersepsie oor God is vanweë wie ons wil hê Hy moet wees. Calvyn het gesê: Die mens se gedagtes is soos ’n fabriek wat gedurigdeur vals skeppings oor God vervaardig.
          Ons gebruik koeie vir melk, skape vir wol en God vir al ons ander begeertes. Geen wonder dat Paulus spesifiek eis dat ons gedagtes vernuwe moet word nie!
          “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:2
          Hang Christus vir jou nog aan ‘n kruishout? Of is hy die verrese Christus wat jy moet navolg?
          Sê jy ook jy is ‘n Christen? Dien jy Hom? Eerbiedig jy Hom? Is God in aksie in jou lewe?
          Wat van die Wederkoms? Is dit ‘n stukkie Bybelgeskiedenis wat jy iewers langs die pad van gehoor het, of is dit inderdaad vir jou ‘n toekomstige werklikheid waarna jy met reikhalsende verlange uitsien?
Verwag jy Hom elke dag? En wat van in die nag wanner jy sewe ure slaap en nie eers van jou eie bestaan bewus is nie?
          Veral na 11 September se terroriste-aanvalle op Amerika, het baniere oral vertoon “God Bless America.” Watter God het hulle van gepraat, want,  twee porno-winkels het ook baniere in hulle vensters gehad wat gelees het “God Bless America."
          Met die baniere het Amerikaners skynbaar bedoel, die God wat aan die kant van Amerika is. Dalk ook dat dit die God is wat in demokrasie belangstel? Die God van die kapitaliste? Die God wat die aandelebeurs moet laat styg?
          Na 11 September was God oral in Amerika weer terug. Mens sien Hom op baniere, op TV en in die koerante en tydskrifte: “God Bless America”, oor en oor en oor. Maar Christus is nie terugverwelkom nie.
          Statistiek toon dat meer mense skielik kerk toe begin gaan het, maar daar was nie nuwe wedergeboortes nie. Twee maande later verdwyn die mense weer uit die kerke en die baniere word afgehaal.
          Ander sê hulle wil God ken as ‘n God van tolleransie. So ‘n God sal nooit iemand laat hel toe gaan nie, sê hulle. Dis hulle persepsie want dit pas hulle beeld van God. Die waarheid is dat daar beslis ‘n ewige verdoemenis op die ongereddes wag.
          Die lys van die soorte God wat mense aanbid, is veel-veel langer. Ja, elkeen aanbid ‘n eiesoortige God wat hy of sy vir hulself skep. In werklikheid aanbid hulle ‘n afgod.
          Vir die een is God ‘n Baptis, vir die ander is hy ‘n Gereformeerde. Nee, sê ‘n volgende een, God is Presbiteriaan. Anglikaans sê ander. Inderdaad, in die laaste dae sal hulle sê hier is die Christus, nee, daar is die Christus.
          En mense draf van kerk na kerk van gemeente na gemeente want hier is Christus, nee daar is Hy.
          Humoristies word voorgehou dat die eerste kerkskeuring gekom het toe die twee blinde manne van die Bybel mekaar ontmoet het. Die een het getuig hoe Christus aan hom gesê het “jy sien” en toe sien hy, maar die ander man het sy kop geskud en gesê: “Ek is jammer vriend, as Hy nie in die sand gespoeg het en modder aan jou oë gesmeer het wat jy in die Bad van Siloam moes gaan was nie, dan kon dit nie dieselfde Christus gewees het nie.”
          So skep ons elkeen vir homself sy eie klein wêreldjie waarin hy die mees tevrede voel.
          Maar wie is God?
          Hy is die God wat in Jes. 57:14 sê “Hy is die Hoë en die Verhewene wat in die ewigheid woon. Sy naam is Heilig. Hy woon in die hoogte en in die heilige plek, maar, Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees. (Hoekom?). Om te laat herlewe die gees van die nederiges en laat herlewe die hart van die verbryseldes.”
          Dit is die God wat in Esegiël 3 vers 18 sê: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy (voeg jou naam hier in) waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die  goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie,  dan sal die godlose deur sy  ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geëis word.”
          Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy (voeg jou naam hier in) die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou  siel gered.”
Dis hoe regverdig die Vader is!
Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.
Dit is die God wat in Openbaring 3:15 sê:  “Ek ken jou werke (voeg jou naam hier in) dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal ek jou uit my mond uitspuug.”
Gaan doen nou die volgende Bybelstudies sodat jy die God van die Hemel en die aarde kan leer ken:

·       Bestudeer die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 en kyk by watter gemeente jy inpas.
·       Slaan dan die strofes na oor God se wraak en ook al die strofes oor Sy liefde.

“Staan dan op en word verlig, want jou lig kom en die heerlikheid van die Here sal oor jou loop!” – Jes. 60:1. – Sjibbolet