Saterdag 15 Desember 2018

Toewyding...



“’n Groot menigte het saam met Hom gegaan. Hy het omgedraai en vir hulle gesê... Luk 14:25.

Teen hierdie tyd het groot menigtes Jesus begin volg. Die groot menigte het Hom herhaaldelik en gereeld gevolg. Dis was dalk oor Sy wonderwerke of omdat Hy hulle gevoed het, ons weet nie die werklike rede nie, maar groot menigtes het hom beslis gevolg. Dit was in hierdie tyd wat Jesus omgedraai het en vasberade iets gesê het wat gemaak het dat baie mense Hom nie meer gevolg het nie.

“As iemand na My toe kom [d.i. met Hom die pad wil stap, Sy metgesel wil wees, Hom wil volg... dit was die vereiste] en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” Luk 14:26.

Wat kon die HERE hiermee bedoel het, wat sou ‘haat’ beteken? Dalk bedoel dit om minder lief te hê, so iets. Maar navorsing wys dit beteken inderdaad haat.

Jesus het die sterkste moontlike woord gebruik om die punt te beklemtoon. Hy het gesê, tensy jy jou vader, moeder, suster, broer, selfs jou eie lewe haat, kan jy nie Sy dissipel wees nie.

Hy het waarskynlik hier met ‘n paar beterweters te doen gehad, daarom dat Hy homself sterker uitgedruk het as in Matt 10:37 “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”

Wat is die intiemste verhouding wat jy al ooit op aarde gehad het? Dis jou moeder, of vader, of jou ma, of vrou of kinders. Wat maak jy as jou vrou teen jou draai en jou skei, of jou moeder of vader sterf? Wie gaan dan by jou staan? Dit sal jou broers en susters wees. Jesus sê, tensy jy hulle haat kan jy nie Sy dissipel wees nie.

Wat sê Hy? Jesus praat oor die intiemste verhoudings wat ons ooit sal hê. Hy vra van ons ‘n toewyding, ‘n verbondenheid waarin Hy eerste moet wees. Hy wil nommer een in ons lewens wees. Hy vergelyk die verhouding tussen hom en ons met die intiemste wat ons  ooit op aarde sal ken.

“Haat” is ‘n metafoor, ‘n woord van vergelyking, en Jesus sê, “My verhouding met jou is so belangrik dat ek verlang dat dit bo aardse dinge moet wees.” Daar is een persoon wat jy meer liefhet as jou vrou, jou kinders, jou ouers, jou susters of broers. Weet jy wie dit is? Dit is nie God nie... dit is jyself?

Jy het jouself meer lief as iemand in jou intiemste verhouding. Waarom breek huwelike op? Hoekom skei mense? Omdat hulle hulself meer liefhet as hul huweliksmaat. “Jy tree nie op soos ek wil hê jy moet optree nie, so ek raak ontslae van jou.”

Jesus sê daar is een verhouding wat bo nommer een moet wees, bo jou eie selfsugtige lewe. Dis ware dissipelskap. Hy praat nie oor ‘n geen-koste dissipelskap nie. Hy vra dat ons Hom moet volg. Hy vra om nommer een in ons lewens te wees.

Is Hy No 1 in jou lewe? - Wekroep