Sondag 09 Desember 2018

Die ouderdom... ‘n relatiewe begrip

Iemand het gesê:  Mens is so oud soos jy voel.

            Iemand anders sê nou die dag hy betaal dat hy bars aan versekerings-premies want hy wil oor tien jaar op 50-jarige ouderdom aftree.  Vyftig is nie oud nie, maar in hierdie ou se besondere geval sal sy hart op 50 gaan staan as hy dan agterkom dat die Rand niks werd gaan wees nie.

            Verder gaan hy hom vrek verveel en derdens sal hy so nutteloos voel dat hy in wanhoop en depressie in ‘n dal van gal en sal verval.

            Ons ander werk maar deur totdat die ouderdom nie meer kan tik nie, of loop nie, al moet sommige van ons nou al masjiene gebruik om die gewrigte en spiere aan te help.

            Ander maniere om te weet jy word oud:


Alles pyn.  Wat nie pyn nie, werk nie.

Jy voel soos die oggend daarna, maar jy was nêrens nie.

Jy al wat pil moet drink vir die niere, kliere, spiere en allerlei nuwe giere.

Jy raak uitasem van kaartspeel.

Jy sluit aan by die gimnasium, maar jy gaan nooit nie.

Jou kinders begin vir jou middeljarig lyk.

Jy ken al die antwoorde, maar niemand vra jou nie.

Jou huis raak te groot en jou medisynekas te klein.

Jy het ‘n bril nodig om joune te soek.



Twak!  Die ding dat mense gedwing word om op 60 of 65 af te tree is krimineel.  Daar moet ‘n wet teen gemaak word. Hoe kan enige werkgewer dit waag om na alles wat hy in iemand ingesit het, eensklaps van al daardie vrug en skat van kennis ontslae te raak?

            Gister was jy nog goed. Vandag word ‘n mosie van wantroue in jou gestel en kry jy ‘n goue horlosie wat in elk geval gesteel word.

            Kersfees is hier. Kom ons vergeet van die ouderdom. Daar is nog lewe in jou.  Rig daai verlamde knieë op, of het jy vergeet, jy’s Kind van GOD?