Wys tans plasings met die etiket Gebede dra groot krag. Hoe om te bid. Godsdiens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gebede dra groot krag. Hoe om te bid. Godsdiens. Wys alle plasings

Woensdag 18 Februarie 2015

Polities, maar nie Geestelik vry nie


Image result for christians 


Altesame  3 655 928 Blankes in Suid-Afrika het in die 2000-sensus aangedui dat hulle aan Christen-kerke behoort. Dit beteken natuurlik nie dat hulle wel kerk toe gaan nie.
            Bereken teen ‘n gemiddelde van 1 000 lidmate per gemeente, moet daar 3 655 Christen-gemeentes in die land wees. Dit beteken dat elke Sondag word sowat 7 000 preke in Blanke kerke gelewer. Dit is sowat 350 000 preke per jaar.
            Voeg hierby dat die 3 655 gemeentes een keer per week biduur het en ons het ‘n bykomende sowat 180 000 geloofsbyeenkomste per jaar, dus, altesame sowat
560 000 kerkbyeenkomste per jaar het.
            Wat word daar gepreek as die land lyk soos hy lyk en ons nie Herlewing ondervind nie, en die Kerk se stem nie gehoor word nie, en Christene nie ‘n verskil aan hulle gemeenskappe maak nie?
            Wat alle groeperinge betref, d.w.s. wit, Swart, Bruines en Asiër het 34 689 907 mense aangedui dat hulle aan Christen-kerke behoort.
            Aanvaar hierdie keer dat daar 2 000 lidmate per Christen-gemeente is. Dit is sowat 17 000 gemeentes, wat beteken daar word elke Sondag  sowat  34 000 preke landwyd in Suid-Afrika gelewer. Dit is 1 700 000 preke per jaar, plus die boodskappe van sowat 17 000 per week by bidure.
            Dan is daar nog die talryke boodskappe per week op radio en TV. Nogtans, die getal boodskappe wat per week, per maand, per jaar verkondig word,  maak feitlik geen verskil aan die land se situasie wat byvoorbeeld misdaad betref nie. Die lys van probleme is droewig lank.
            Dan is daar ook nog ‘n magdom boodskappe daagliks op TV en die radio.
            Wat sou die inhoud van al hierdie boodskappe wees dat daar so ‘n geringe uitwerking is? As die boodskappe nie ‘n beduidende verskil binne en buite die Kerk maak nie, dan vra dit nie kritiek nie, maar besliste diepteondersoeke.
            Moet die boodskappe nie dadelik stopgesit en vervang word met lering en gebed nie? Dis duidelik dat selfs die Kerk ten gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis.
            Ons kan nie aangaan soos ons aangaan nie, want ons belewe nie die vrug wat so broodnodig is nie. Die situasie versleg en dit word nie beter nie.
            Hoekom moet ons wag totdat ons van ellende krepeer?
            Talle Blanke gemeentes moes al hulle deure sluit. Ander moes saamsmelt en in sommige gevalle is kerkgeboue al verkoop. Dis duidelik dat honderde duisende Christene nie langer dienste bywoon nie en ‘n geldnood bedreig die voortbestaan van talle ander.
            In een geval moes ‘n gemeente van 1 500 lidmate by ‘n ander inskakel omdat hy nie langer geldelik die mas kon opkom nie. Dit is skrikwekkend.
            Dis of die statistiek ons onsself in ‘n spieël laat kyk, en mens sidder.
            Nogtans, kan die hele situasie wat die Kerk en die samelewing betref, omgekeer word. God se vermenigvuldende krag kan weer in werking gestel word.
            As ons dit nie geweet het en nie geglo het nie, sou ons nooit hierdie boodskap geskryf het nie.
            Die antwoord en oplossing lê in verootmoediging, ‘n algehele terugkeer na God en Sy insettinge wat ‘n magtige Herlewing tot gevolg sal hê.
            Waar begin ons? Ons begin daar waar elke getroue Christen ten spyte van wat ook al, steeds getrou die HERE dien. Dit begin by gebed en nogmaals gebed. Ons begin by Matt 18:20  “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Daar begin ons bid...”
            Ook sal ons, ons tonge moet muilband en dit soos ‘n skip se roer in die regte rigting moet stuur. Ons tonge het skindertonge geword. Ons weet meer van ander se sake as van ons eie. Ons bid nie vir mekaar nie en ons dra nie mekaar se laste nie omdat ons, ons eerste liefde verlaat het. Ons bemoedig nie mekaar nie en ons seën nie mekaar nie. In baie gevalle ken ons nie eers ons bure of ander in die straat nie.
            Verdeeldheid kom wyd voor weens die skindertonge. Wanneer mens van iemand skinder het dit ‘n binding in jou eie gees tot gevolg en jy beteken vir God, vir jouself en vir ander om jou absoluut niks.
            Weens hierdie binding in ons gees, raadpleeg ons ook nie vir God nie, maar dwaal ons in dwaasheid voort met eie mensgemaakte planne. Dawid sê in Ps. 33:10:  Die HERE vernietig die raad van die nasies. Hy verydel die gedagtes van die volke.
            In strofe 11 beklemtoon hy die feit dat alleen die raad van die HERE bestaan en dit bestaan vir ewig, en die gedagtes van Sy hart (nie ons harte) bestaan van geslag tot geslag.
            In trofe 12 is die antwoord: Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitverkies het!
            En verder: Die HERE kyk van die Hemel af;  Hy sien al die mensekinders (al lewe sommige van ons asof dit nie die geval is nie). Uit Sy woonplek  aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op hulle werke! (En ons dink ons kan maar lewe soos ons wil).
            Ons is arm en beklaenswaardig omdat ons geestelik so arm en ellendig is.
            Dan kom sommige nog en gee God die skuld vir die toestand waarin ons is en hoor mens gereeld die vraag:  Waarom doen God nie iets nie?
            Intussen is dit ons wat iets moet doen. Ons kan die hele situasie omkeer.
            Die dissipels sê  vir Jesus: Die 5 000 man en hulle vroue en kinders is honger en ons het nie vir hulle kos nie en ons kan ook nie vir hulle kos gaan koop nie.
            En Hy antwoord:  Gee julle vir hulle iets om te eet!
            Die paar broodjies en vissies voed daardie dag al daardie mense en agterna word 12 mandjies brokstukke ook opgetel.
            As die dissipels bly staan het en gesê het: Waarom doen God nie iets nie, het niks gebeur nie.
            Toe hulle egter daardie paar treë na die eerste ry mense stap (geloof en vaste vertroue) en die bietjie kos begin uitdeel, toe kom God se vermenigvuldende krag in werking.
            Dit is wat ons nodig het. Ons moet ons tonge muilband en die negatiewe praatjies staak. Ons moet terugkeer na God se raad, God se gedagtes.  Ons moet ons verlamde knieë optel (voordat ons heeltemal inmekaar val) en sonder ophou begin bid, sonder ophou begin werk, want,  dis tyd dat ons weer God se vermenigvuldende krag in werking sien.  Hoe lank wil ons nog so sonder rigting voortploeter?
            Ons leef in ‘n land met allerlei politieke vryhede, maar ons is geestelik gebind. Voordat ons nie geestelik vrykom nie, kan God nie die honger, die pyn en die lyding oplos nie. Ons is vasgevang in ‘n bose kringloop waarin almal kla dat hulle armer word. Hoe lank moet dit nog so voortgaan?
            Dis tyd dat ons met durf en daad opstaan en sê: Genoeg is genoeg, nou gaan ons, ons na God keer! Vir die HERE sal ons sê: HERE, ons los U nie, nie voordat U ingryp nie.
            Dawid – gesalf as koning oor God se volk – was ook eens in ‘n benarde situasie in Ps. 142. Hy was die man wat die uitverkorenes van die HERE moes lei. Tog bevind hy homself in ‘n spelonk waarheen hy vir sy lewe moes vlug.
            Strofe 2: Hardop (!) roep hy tot God. Hardop (desperaat) smeek hy God vir hulp.
            Dawid het sy toevlug na die regte persoon geneem. Hoekom doen ons nie dieselfde nie?
            Strofe 2:  Hy stort sy klagte voor God uit. Hy maak sy nood aan God bekend.
            Dikwels wil ons met die predikant en met iemand anders oor ons probleme gaan praat.  Soms help dit, maar ons kan elke keer hulp kry wanneer ons (hardop en desperaat) na God roep.      
Strofe 3:  Sy gees versmag in hom, maar hy weet God ken sy pad vorentoe.
            Ja, God het ‘n plan vir elkeen van ons, maar ons leef so ver verwyderd van Hom dat ons die pad en die plan byster is – soos ook nou die geval is.
            Strofe 5:  Hier vind ons hoe dat Dawid in sy verlatenheid rondkyk of daar nie iemand is wat hom kan help nie. Tot sy verdriet ontdek hy dat niemand eers na hom vra nie.  Niemand stel blykbaar meer in hom belang nie.
            Sy enigste troos is dat God hom steeds liefhet en hom graag wil help.
            Strofe 6: In sy nood roep(!) hy weer tot God.  Dit was ‘n wanhoopskreet tot sy Skepper.  Dit was die kreet van ‘n man wat besef vir hom is die lewe verlore as God nie in guns aan hom dink nie.
            Strofe 7:  Hy smeek God om asseblief na hom te luister. Hy bely voor God dat hy swak is en homself nie kan help nie.
            Strofe 8:  God moet hom uitlei en guns aan hom bewys. Hy besef dat God hom uit sy toestand kan red en dat hy daardeur ook weer by sy mense guns gaan vind.
            Kom dan, kom ons maak soos Koning Dawid: Kom ons neem ons toevlug na God.  Hy wag vir ons! - Sjibbbolet

Vrydag 12 September 2014

‘n Nodige Beproewing




Heb. 12:4-12: "Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie..." (vs. 11).

'n Wyksouderling doen eendag by een van sy wyksmense huisbesoek. Net die vrou is tuis. Sy is hewig ontsteld. "Maar, Oom, is ek dan die grootste sondares in die wêreld? Is ek die slegste mens op aarde dat al hierdie bitter dinge so gelyk oor my moet kom? Het God my dan heeltemal vergeet?" Hy luister 'n rukkie nadenkend hoe sy haar beproewinge vir hom vertel.

"Nee, Suster," antwoord hy toe sy snikkend ophou met praat. "al die bitterheid is juis deur God toegelaat om oor jou te kom om jou nader aan Hom te bring.

Kyk, laat ek jou van my ryperd vertel. Ek het regtig 'n eersteklas dier. En hy kan so goed spring! As ek op my plaas van een kamp na 'n ander wil gaan, het ek nie nodig om nog na die hek toe te ry nie, hy spring sommer maklik met my oor die heining. Maar nou kan ek hom, as ek afsaal, nie in die kamp hou nie. Hy spring eenvoudig oor die heining, en as ek hom dan nodig het, is hy wie weet hoe ver in die veld. Maar nou het ek 'n plan gekry. Ek het 'n blok hout aan 'n dun ketting vasgemaak, en sodra ek afsaal dan gespe ek dit aan sy agterpoot vas. Dit is seker nie lekker vir hom nie, maar dit verhoed dat hy oor die heining spring. So gaan dit met ons arme sondaars ook. Ons is ook maar baie lief om oor die verbode mure en heinings te spring. En dan, as die Here ons nodig het, is ons ver  weg op die pad van sonde en kan Hy ons glad nie gebruik nie. Maar nou, in Sy tedere maar strenge liefde, sorg God dat ons almal die blok om die been kry. Dit is die swaar beproewings wat oor ons kom. Dit mag nie vir ons lekker wees nie; maar nou bly ons naby Hom, en is ons in Sy sorg en tot Sy beskikking as Hy ons nodig het."

Koning Dawid het baie beproewinge en tugtiginge gehad, maar hy het naby God gebly, en watter rykdom is daar nie vir ons in die vrug daarvan, die Psalms, nie. Sy seun, Salomo, het net seëninge ervaar, maar na hy 'n ruk lank goed geloop het en vir ons ook 'n ryk skat van Spreuke nagelaat het, het hy 'n afgodsdienaar gesterf, as gevolg van die verleidinge van sy menigte vroue. Paulus het die Here altyd geloof vir sy "doring in die vlees" (wat nie ‘n siekte was nie). "Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee...Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was:'My genade is vir jou genoeg..." (2 Kor.12:7-9). Die Here weet die beste hoe om ons naby Hom en bruikbaar vir Hom, te hou.

As ‘n skaap of ‘n bok uit die trop spring en weghol, dan gaan haal die skaaphond hom. As die dier moedswillig weier om terug na die kudde te gaan, sal die skaaphond byt en so die dier terug na die kudde dwing.

GEBED: Here, vandag dank ek U vir my beperkinge.