Vrydag 12 September 2014

‘n Nodige Beproewing




Heb. 12:4-12: "Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie..." (vs. 11).

'n Wyksouderling doen eendag by een van sy wyksmense huisbesoek. Net die vrou is tuis. Sy is hewig ontsteld. "Maar, Oom, is ek dan die grootste sondares in die wêreld? Is ek die slegste mens op aarde dat al hierdie bitter dinge so gelyk oor my moet kom? Het God my dan heeltemal vergeet?" Hy luister 'n rukkie nadenkend hoe sy haar beproewinge vir hom vertel.

"Nee, Suster," antwoord hy toe sy snikkend ophou met praat. "al die bitterheid is juis deur God toegelaat om oor jou te kom om jou nader aan Hom te bring.

Kyk, laat ek jou van my ryperd vertel. Ek het regtig 'n eersteklas dier. En hy kan so goed spring! As ek op my plaas van een kamp na 'n ander wil gaan, het ek nie nodig om nog na die hek toe te ry nie, hy spring sommer maklik met my oor die heining. Maar nou kan ek hom, as ek afsaal, nie in die kamp hou nie. Hy spring eenvoudig oor die heining, en as ek hom dan nodig het, is hy wie weet hoe ver in die veld. Maar nou het ek 'n plan gekry. Ek het 'n blok hout aan 'n dun ketting vasgemaak, en sodra ek afsaal dan gespe ek dit aan sy agterpoot vas. Dit is seker nie lekker vir hom nie, maar dit verhoed dat hy oor die heining spring. So gaan dit met ons arme sondaars ook. Ons is ook maar baie lief om oor die verbode mure en heinings te spring. En dan, as die Here ons nodig het, is ons ver  weg op die pad van sonde en kan Hy ons glad nie gebruik nie. Maar nou, in Sy tedere maar strenge liefde, sorg God dat ons almal die blok om die been kry. Dit is die swaar beproewings wat oor ons kom. Dit mag nie vir ons lekker wees nie; maar nou bly ons naby Hom, en is ons in Sy sorg en tot Sy beskikking as Hy ons nodig het."

Koning Dawid het baie beproewinge en tugtiginge gehad, maar hy het naby God gebly, en watter rykdom is daar nie vir ons in die vrug daarvan, die Psalms, nie. Sy seun, Salomo, het net seëninge ervaar, maar na hy 'n ruk lank goed geloop het en vir ons ook 'n ryk skat van Spreuke nagelaat het, het hy 'n afgodsdienaar gesterf, as gevolg van die verleidinge van sy menigte vroue. Paulus het die Here altyd geloof vir sy "doring in die vlees" (wat nie ‘n siekte was nie). "Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee...Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was:'My genade is vir jou genoeg..." (2 Kor.12:7-9). Die Here weet die beste hoe om ons naby Hom en bruikbaar vir Hom, te hou.

As ‘n skaap of ‘n bok uit die trop spring en weghol, dan gaan haal die skaaphond hom. As die dier moedswillig weier om terug na die kudde te gaan, sal die skaaphond byt en so die dier terug na die kudde dwing.

GEBED: Here, vandag dank ek U vir my beperkinge.