Vrydag 19 Junie 2020

Trek jou Nuwe klere aan!

En daar staan in die naggesig: Trek jou Nuwe Klere aan. Ek het nie nuwe klere nie en ek kan ook nie gaan koop nie. Die gesig kon dus nie na klere soos in klere verwys het nie.

            En ek bid en vra: HERE, wat beteken dit? Die volgende oomblik gee iemand by dié Skrif: Kol 3:12-17 “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.

“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

            “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

            “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

            “Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon (hoe?) in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar (hoe?) met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die HERE.

            “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Kol 3:12-17

            Ek het skaars klaar gelees, is hier nog ‘n boodskap: Pastoor Edward Chun se boodskap: “Put on your New clothes,” uit presies dieselfde Skrif.

            En ek lees en ek luister en ek weet skielik wat die naggesig se boodskap was. Ek het vrede en ek is tevrede.

            Die eerste wat mens oplet, die HERE identifiseer vir wie hierdie boodskap is:  “Die uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes.”

            Wat is die nuwe klere: “Innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” Dit is natuurlik ook die Koninklike Wet. Jak 2:8

            Mens moet by die deur van God se heerlikheid (Glorie) instap om jou nuwe klere aan te trek. “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Hab 2:14

            In die Heerlikheid, die Glorie, van God sal ons die bonatuurlike beleef. Jesus bid: “Ek het hulle (vir my en jou) die heerlikheid (die Glorie) gegee wat U aan my gegee het (waarom?), sodat hulle een kan wees… net soos Ons een is.” Joh 17:22

            Wat ‘n verstommende, byna revolusionêre, verklaring! Die, HERE, God van die Hemel, die grote en gedugte God, gee sy glorie aan sy seun Jesus Christus en Christus gee op Sy beurt daardie Goddelike Glorie van die Almagtige God aan my en jou.

            Christus het reeds die Glorie aan ons gegee sodat in vervullling sal gaan: “Soos in die Hemel, so ook op die aarde.”Ons hoef nie  vir  Glorie te bid nie, dis reeds gegee, ontvang dit net. Maak dit jouune en (baie belangrik) wandel daarin.

            Ons is geskep om in God se Glorie te leef!

“Ek in hulle (in my en jou) en U in my (hoekom?) sodat hulle volkome een kan wees (hoekom?) sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het, en… hulle liefgehad het soos wat U my lief het.” Joh 17:23

            God het ons geskep om in Sy teenwoordigheid te wandel (hoekom?) sodat ons Sy hart kan verstaan en sy Goddelike wonderwerkende krag kan beleef (hoekom?) om ons lewens te transformeer.

            “Immers, Sy goddelike krag het ons (hoeveel?) alles, geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, (hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het (hoe?) deur Sy heerlikheid (Glorie) en deug,

            “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?) sodat  julle  daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?) wanneer julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die (let op) kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.

            “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.

“Want so sal ryklik aan julle verleen word (let op) die ingang in die ewige Koninkryk van onse HERE en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet 1:311

            Ons en ons lewens is dus baie nou verweef met die  van Jesus en God. Dit is so nou verweef dat ons een is, dat ons nooit geskei kan word nie. Ons as Gelowiges verkeer in die mees belangrikste plek in hierdie ganse wêreld. Ons lewens is so dig verweef met Jesus dat selfs die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7

            Ons is op die vooraand van die einde van alles. Die grootste geestelike Herlewing – die laat reëns – is naby. Strome van seën van bowe, dit het Sy Liefde belowe. Die eerste druppels val reeds in Suid-Afrika en elders.

            Die heerlike druppels gaan stroompies word, dan riviere en dan ‘n magtige oseaan.

            God sê: “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

            “Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.

            “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle (wat sal ons doen?) sal My lof verkondig.” Jes 43:21

Die Glorie van God, gaan die aarde oorspoel sodra ons besef dat ons en Jesus Een is en ons as Eenheid Sy lof en Glorie verkondig. Hierdie werklikheidsbesef het nog nie tot die meeste van ons deurgedring nie.

Kom, trek jou nuwe klere aan. – Wekroep