Vrydag 19 Junie 2020

Neem standpunt in teen vrees

Die Karonavirus het groter as hyself ‘n asemrowende tol geëis weens vrees. Selfs Gelowiges wat beter behoort te weet, leef met vrees vir die dood. Bygelowe speel ook ‘n toenemende rol.

            Mense se gedagtes het ‘n slagveld geword. Hoe meer hulle op die verkeerde goed konsentreer, hoe groter die slagveld. Vrees put mense uit, maak hulle siek. Om vrees met ‘n pilletjie te bestry werk eenvoudig nie. Die uiteinde is depressie en erger.

            Die satan weet dat hy Gelowiges nooit weer in sy koninkryk sal terugkry nie, ,maar hy keer dat Gelowiges nie sy koninkryk verdere skade kan aandoen met hul getuienisse nie. Sy nommer een wapen is om vrees te saai.

            As jy aan vrees ly, het jy so ‘n sterk binding in jou gees, dat jy vir God en sy Koninkryk van geen nut is nie. Die Bybel bied jou egter alles aan wat nodig is om standpunt in te neem en oor vrees te triomfeer.

            Na hierdie virus kom ‘n feitlik nuwe wêreld, een wat erger sal word soos wat die einde van alles nader snel. Jy sal ontslae moet rak van vrees sodat jy die pylvak van ons lewenswedren  in triomf kan voltooi. Die Herlewing wat gaan uitbreek, gaan jou ‘n gulde geleentheid gee om jouself gereed te kry vir Jesus se Koms want vir seker kom Hy om sy Bruid op te haal.

            Daar is geen tyd meer vir verskonings nie.  Daar is ook geen beperkings of limiete nie. Draai weg van vrees, van bygelowe, van hoogmoed en beweeg na ‘n intieme verhouding met die HERE.

            Wanneer jy bid, hoe lank bid jy... raak jy dan stil om te hoor wat die HERE antwoord? “Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, (let op) almal wat op die HERE wag! Ps 31:25

            Lees weer: “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; MAAR (let op) die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Jes 40:31

            Jy kla jy kry nie antwoord op jou gebede nie, jy kla oor jou moegheid, jy is mat. Raak ‘n slag stil. Skakel jou verstand af wat soos ‘n komper bly loop.

            Let op deur die dag. Iemand sê iets, jy hoor iets oor die radio, ‘n kind vertel jou iets, jy lees iets, jy belewe iets. Die HERE het baie maniere om met ons te praat. Hy kan selfs ‘n donkie gebruik... vra maar vir Bileam.

            Leer om met die HERE te wandel. Hy is lief vir jou. Hy gee om vir jou, hy het planne met jou. Hy gaan die onmoontlike vir jou moontlik maak. Hy gaan jou geestelike oë oopmaak. Wees gereed vir die heerlikheid van die HERE. “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Joh 17:22

            Om die heerlikheid van God te beleef, is soos ‘n ontploffing van glorie. Jy sal nooit weer dieselfde mens wees nie.

            Dink aan die vrou wat so graag Jesus se kleed wou aanraak... “En 'n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring.

“En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en (let op)veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het, het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak; want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.” Mark 5:24-28

Sy het besluit, ek het lank genoeg gely, vandag gaan ek my wonderwerk beleef. Sy baan vir haar ‘n pad deur die menigte... Soms is die menigte nie mense nie, maar vrees, angs, verwardheid, soms is dit familie, jou werkplek... wat die menigte ook al mag wees, druk daardeur. Die siek vrou het dit nogal netjies gedoen want niemand het aanstoot geneem en haar weggestamp nie.  As jy besluit “nou(!) gaan ek deurbreek” dan sal die Engele jou help, weens verseker daarvan.

Met die Herlewing gaan ons die pylvak in na die Messias se Koms en een van die uitstaande kenmerke hiervan sal wonderwerke wees.

            Die pes wat oor die wêreld heen tsoenami het die ganse wêreld tot stilstand geruk. “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle (let op)radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die Hemele sal geskud word.

“En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” – Wekroep