Vrydag 19 Junie 2020

Glo... dit wat jy bid sal so wees

Woensdae aande was biduur. Een ou tannie kon tot vervelens toe aanhou bid. Die predikant het later begin sê: “Amen suster, amen,” bedoelende sy moet klaar bid, maar vir die ou tannie was dit aansporing.

            Dan sê die predikant: “Danie suster, dankie, die ander wil ook bid “ Dan stop sy asof sy seker wil maak sy verstaan nou reg. Dan skielik en onverwags kom die “Amen.”

            So het dit elke Woensdagaand gegaan. Ironies, maar daar was van die ander wat noot gebid het nie.

            Nou sê Jesus: “En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.” Matt 6:7. Die ou tannie was gered en Jesus praat hier met die gereddes oor die ydele herhaling van woorde.

            Onthou nou, dis Jesus self wat hier vir ons leer hoe om te bid. Die woorde wat Hy aanbeveel is dus van kardinale belang. Al wat ons moet doen is om te glo en te aanvaar wat ons bid is feit.

“Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Matt 6:8

En nou sê iemand: “Waarom dan nog bid as die HERE reeds weet wat ek gaan vra?”

As jy merk dat jou kind nuwe skoene kort, moenie vir hom skoene koop nie, nie voordat hy self agterkom hy kort nuwe skoene nie... al weet jy al geruime tyd hy gaan een of ander tyd kom vra.  Dan sal hy die nuwe skoene waardeer en nie loop en klippe skop en rugby speel met sy skoene nie.

Matt 6:9 Heilig Sy naam. Aanbid Hom. Vertel Hom wie Hy is en hoe jy dit waardeer om die lewende God Jahweh te mag aanbid.

Let nou op: “Laat u Koninkryk kom; laat U wil geskied (hoe?), soos in die Hemel net so ook op die aarde.” Matt 6:10. Glo dit en verwag dit. In die Hemel is daar nie moord nie, geen korrupsie en diewe nie, geen iets negatiefs nie. Laat die Hemel dan ook so heers in jou lewe en jou huis.

Geniet jou werk want so gee Hy jou ook jou daaglikse brood. Matt 6:11

Let fyn op: Matt 6:12... en vergeef ons, ons skulde (hoe?), soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

            Aan die einde van die bekende Onse Vader, lewer die HERE kommentaar op hierdie vergifnis:”

            “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle Hemelse Vader julle ook vergewe. “

            Net vir geval jy nie reg verstaan het nie, let op: Matt 6:15  “Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Dit beteken, al bid jy die Onse Vader heelnag en heel dag, sal jou gebed nie beantwoord word voordat jy nie vergewe het nie.

            In Matt 6:13 keer die HERE dat niemand ons in versoeking sal lei nie, maar verlos Hy ons inteendeel van die Bose.

In Matt 6:14 besing ons lof aan die HERE: “Want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in Ewigheid. Amen.

Wil jy graag nog bid. Bid dan Ps 23 en let op om elke oggend die HERE te dank dan Sy goedheid en guns, jou in hierdie dag sal volg.

Jy geniet ook die beskerming van die bloed van Jesus, die beskerming van sy Heilige Engele en neem jou besluite deur te wag op Sy wysheid. – Wekroep