Vrydag 19 Junie 2020

Die verskil tussen Mag en Gesag

In heelwat lande van die wêreld is politieke leiers onbevoeg om met gesag (outoriteit) te regeer en regeer hulle met mag. Hulle staan bekend as diktators.

            Diktators kry mens oral... in die werkplekke, in die kerke, selfs tot in ons huise.

            Mag behels nie gesag nie, maar gesag behels mag. “En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees.”
Luk 9:1

            Met mag alleen sou hulle sending nie slaag nie, maar met “gesag” – wat ook “mag” behels – sou hulle slaag... en hulle het ook.

            In die werkplek slaag die leier wat met gesag sy pligte uitvoer en delegeer. Sulke leiers, wat as gevolg van hul leierskap en gesag ook mag het, vaar 100% beter as daardie leiers wat uitsluitlik met mag hul leierskap wil laat geld.

            In die Weermagte van die wêreld het soldate die hoogste agting vir ‘n leier met gesag. Hulle wil ook graag sy bevele uitvoer.

Diegene van ons wie se lewenspad daarlangs geloop het, kon altyd onderskei tussen, wat ons genoem het “ware” leiers en magsbehepte leiers.

So vind mens ook veral pa’s wat hul gesinne met “mag” pleks van met “gesag” hanteer, meesal bloot omdat hulle nie van beter weet nie.  Daarom skaar ons, ons by diegene wat geslagsonderrig op skole wil vervang met gesinsonderrig.

As ‘n beduiwelde renoster ‘n pragtige restaurant binne storm, gaan hy baie skade aanrig, maar hy sal uiteindelik die pad moet vat want hy het geen gesag in die restaurant nie.

Meeste mense, weens ‘n gebrek aan opleiding, verwar die gesag van mag met die mag van gesag.

Richard Nixon had na Watergate nog vir ‘n kort rukkie, politieke mag as President van Amerika, maar sy gesag was daarmee heen.

Abraham Lincoln had enorme gesag, maar hy het telkens gefaal wanneer hy die mag wat sy pos behels het, moes toepas.

Die magsbehepte leier se onderdane steun hom, bly selfs getrou aan hom, maar uit vrees. Hulle kan maklik hulle pos kwyt wees of selfs met hulle lewe boet.

Die leier wat met gesag regeer se onderdane steun hom en bly getrou aan hom weens die agting wat hulle vir die leier en sy  gesag het. Hulle is trots op hulle leier, staan by hom, verdedig hom en help net waar hulle kan om sy taak ligter te maak.

Hierdie leier openbaar ook ‘n liefdevolle sagte kant. Sy onderdane leer hom ken as iemand wat omgee, wat liefde vir sy mense openbaar.

Jesus Christus het herhaaldelik sy eie spesiale graad van mag van gesag, openbaar. Hy het niks op iemand afgedwing nie, maar sy gesag so beoefen dat mense graag op sy voorstelle wou reageer, graag intense volgelinge wou wees.

Wanneer Jesus ‘n onreine gees in ‘n sinagoge uit ‘n man uitdryf, aanskou almal die mag van die oomblik... en dan vra hulle: “Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met ‘gesag’ ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? Mark 1:27

Die leier met gesag is ‘n sterk voorstander van reg en geregtigheid, nogtans openbaar hy ‘n Jesus-omgee. Die vrou wat betrap is  in ‘n daad van owerspel, moet gestenig word. Dis wat die wet gesê het en die manne met die mag, wou die wet uitvoer.

Dan kom die man met die gesag en sê; As enige van julle sonder sonde is, werp die eerste klip. Hulle het almal weggegaan.

En Jesus sê aan haar, jou sonde is jou vergewe, gaan, en sondig nie weer nie.

Ek en jy het die gesag en opdrag van Jesus ontvang: “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:8

Diegene wat nie belangstel nie, dit sal hulle fout wees, maar as ek en jy die opdrag nie uitvoer nie, dan sal dit ons fout wees. Eseg 3:18-20

Die Wegraping is hopeloos te naby om foute te maak. Gryp die oomblik aan. Hy kom om sy Bruid te kom haal. Maak seker ons lampe is vol olie. – Wekroep