Die lewe is ‘n Pelgrimstog en Richard Rohr
– Jeanette de Klerk-Luttig
St Jean Pied de Port, een van die wegspringplekke op die 261km lange staproete
Terwyl ek en my man deur die Suide van Spanje stap en dag na dag, kilometer vir kilometer, die eenvoudige ritme van die Camino beleef, het ek besef: die lewe is eintlik ‘n pelgrimstog. Daar is ‘n begin en daar is ‘n einde. Daar is ‘n punt waar jy begin, met groot opgewondenheid en ‘n hol kol op die maag oor die avontuur wat voorlê en ‘n punt, na die mis in die katedraal in Santiago, waar dit eindig.
Daar is gelykvlaktes, wat soms eentonig raak maar ook styl, moeilike opdraandes en afdraandes waar jy swaar op jou stapstokke leun en wonder of jy ooit die volgende dorpie gaan haal.
Daar is swaar tye waar jy moeg en moedeloos raak en diep moet delf vir moed en energie om verder te stap, maar ook ontsaglike aangrypende en diep tye waar jy weet dat jy nooit weer dieselfde sal wees nie. Jou mede-pelgrims is onmisbaar op hierdie reis en hoe minder jy met jou saamdra en hoe ligter jy stap, hoe beter.
Richard Röhr maak vyf stellings oor die lewe wat direk van toepassing is op die pelgrimstog.
Die lewe is hard, skryf hy en die Camino is ook hard. Moet dit nie gaan stap as jy net wil pret hê nie. Daar was, saam met al die ongelooflike ervaringe, baie trane.
Trane van blydskap van ‘n ouerige Franse man omdat die blase op sy voete weer gesond was en hy sonder pyn verder kon stap. Trane van teleurstelling van ‘n fris Aussie wat nie kon verder stap nie en moes teruggaan, omdat sy knie opgepak het. Trane van frustrasie van ‘n jong meisie wat wou teruggaan huis toe, want, “This is too hard for me”. En dan trane van dankbaarheid toe ons om die hoek van van die katedraal in Santiago stap en iemand Largo onbeskryflik mooi speel en ek besef, ons is hier, ons het veilig hier gekom!
Verder skryf Rohr: Die lewe gaan nie oor jou nie en jy en jy is nie belangrik nie.
Hierdie waarheid word deel van jou dink en jou wees, terwyl jy stap. Die werklikheid is dat jy nie die Camino stap nie, die Camino, ook bekend as Die Weg, stap jou en neem jou saam.
Jy word maar net een van die duisende pelgrims wat deur die eeue daardie roete gestap het, met die son op jou rug en jou skaduwee voor jou, op pad na Santiago.
Jou titel, ouderdom en wat jy doen of besit is heeltemal onbelangrik. Al die eksterne dinge waarin mense dikwels hul identeit en sekuriteit vind, val weg en die pelgrimstog skil jou lagie vir lagie af, sodat jy by jou kernself kan uitkom. Jy is sonder jou titel, aktetas, kantoor, skootrekenaar en sekretaresse, sonder jou motor, klerekas, juwele en grimering.
Ons het in pelgrimsherberge geslaap waar mens ook nog sonder die privaatheid van jou eie slaapkamer en badkamer is. Alles wat jy het, is in ‘n rugsak gepak en saam met jou slaapsak en vol waterbottel moet alles wat jy saamdra nie meer as tien present van jou liggaamsgewig weeg nie. Daar is dan ook geen plek vir ego’s in rugsakke nie! En omdat jy so gestroop is, kan jy weer begin verstaan wie jy is en waarheen jy eintlik op pad is en kom jou hele lewe in ‘n nuwe, skerper fokus.
Die meeste stappers is mense wat voor ‘n kruispad staan en ‘n besluit moet neem: Gaan ek van werk verander of nie? Moet ek in my huwelik bly of nie? Ek het afgetree en hoe gaan ek my lewe verder sinvol leef? Hoe verwerk ek die dood van my kind/huweliksmaat?
Om met net ‘n rugsak op jou rug Die Weg te stap wat deurdrenk is met die gebede van duisende pelgrims deur die eeue en elke oggend die son te sien opkom oor die veld, help jou om jouself en jou lewe in ‘n groter perspektief te sien en te besef dat jy net maar ‘n pilgrim is op pad na jou finale bestemming. Die insig maak jou los van baie onnodige bagasie en dit vereenvoudig en verdiep jou lewe.
Om so afgeskil te wees maak jou natuurlik baie kwesbaar, maar die wins van die weerloosheid is dat pelgrims sonder maskers gemaklik hul stories met mekaar deel en saamdink oor die lewe. Dit was vir my opvallend dat mense wat net mekaar se name ken en mekaar miskien nooit weer gaan sien nie, soms dieper gesprekke voer oor ‘n glas Spaanse rooiwyn , as ou vriende wat al jare saam ‘n. pad loop.
Rohr beweer verder oor die lewe: Jy is nie in beheer nie en Jy gaan sterf. Wanneer ‘n mens elke dag ver stap, beleef jy die natuur baie intens: die son, die wind, die reën wat teen jou waai, die reuk van die veld en die fynbos. En jy besef, dat jy nie in beheer is nie, want wanneer ‘n koue wind waai kan jy maar net jou serp om jou kop en ore draai en jou enigste baadjie aantrek en verder stap, want oor die wind en die reën en die son het jy geen beheer nie.
Jy beleef die almag en grootsheid van die skepping en die Skepper en jou eie nietigheid tot in jou murg en dit verander jou van ‘n toeris, wat dink dat jy in beheer is, na ‘n pelgrim wat haar afhanklikeid beleef.
‘n Toeris is eisend, ‘n pelgrim dankbaar.
Die gemeenskaplike faktor wat alle pelgrims saambind op die Camino is die einddoel. Almal is op pad na die katedraal in Santiago, daarom die sterk gevoel van samehorigheid, die vriendelike “Buen Camino” waarmee pelgrims mekaar groet en aanmoedig en die spontane deel van raad, pleisters, kos en water.
Ons het talle voorbeelde beleef waar mense oor kultuurgrense hande vat en mekaar ondersteun. Een daarvan was die aangrypende gasvryheid van vier baie lawaaierige Italianers wat die Camino met hul fietse gery het.
Die laaste drie km tot by La Faba is baie styl. Laterig die middag het ‘n man by die pelgrimsherberg aangestrompel gekom en hy moes letterlik die trappe opgehelp word. Hy was ‘n Duitser wat a.g.v. beroerte, net beheer gehad het oor die een kant van sy liggaam.
Die aand het die vier Italianers hom hartlik genooi om saam met hulle te eet in die gemeenskaplike kombuis.
Daar was aangebrande pasta, kaas en baie rooiwyn en lag en gesels.
Die Duitser het ‘n spreekbeurt gevra waarin hy aangebied het om ‘n bydrae tot die ete te maak. Die versoek is summier met groot handgebare afgewys waarna die gas met trane in sy oë die Italianers bedank het vir hul vriendelike gasvryheid teenoor ‘n totale vreemdeling, “ …iets wat jy net op die Camino sal vind.”
Toe ons een oggend in die donker uit Carrion de los Condos stap en ‘n verkeerde afdraai neem, het ‘n pelgrim wat van agter gekom het dit gesien en net sy flitslig op die geel pyl laat skyn.
Met die een gebaar het hy verhoed het dat ons baie tyd en energie op ‘n verkeerde afdraai mors. Is dit nie hoe ons veronderstel is om saam met ander te leef nie? Om vreemdelinge uit te nooi om saam te eet en ons flits op die regte pad te laat val wanneer iemand besig is om verkeerd af te draai?
Die eenvoudige ritme van opstaan, stap, eet, stort, klere was en slaap, maak dat ‘n mens se voete nie net platter op die aarde is en jy nader aan die natuur kom nie, maar dit bring jou ook in kontak met jou kernself.
Dit maak dat jy met minder vooroordele en groter deernis die pad saam met ander stap en met sagter oë na hulle kyk. Daarom bring die lang stap, meer as enige mis in ‘n indrukwekkende katedraal, jou ook op ‘n natuurlike manier, nader aan die Skepper van alles.
Ek groet jou met die woorde waarmee pelgrims sedert die Middeleeue hul dag se stap begin het: “Ultreia”, voorwaarts, “Suseia”, opwaarts en “Deus adjuva nos!”, God met ons! Buen camino pelegrino.
Jeanette de Klerk-Luttig